top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


JESUS SE VYFDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET :


VERGELDING (5) – GEESBEHEERSDE CHRISTENE LEEF IN HARMONIE MET MEKAAR!


Matt. 5:38-42 – “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie. AS iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. AS iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. AS iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet van hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.”


Vergelyk ook Rom. 12:17 – “Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense.”


Ons het die afgelope paar dae die vyfde voorbeeld van Jesus se lering oor “die groter getrouheid aan die wet” bespreek. Ons wil graag hierdie gedeelte oor die vier illustrasies van “vergelding” afsluit met ‘n geestelike riglyn wat Paulus jare later ook aan ons verewig het, ‘n riglyn wat nie net op die Christen se optrede teenoor sy mede-Christene fokus nie, maar ook fokus op ons verhouding tot buitestaanders.


Die Ou-Testamentiese vergeldingsreël, “’n oog vir ‘n oog en ’n tand vir ‘n tand,” (Eks. 21:24), was bedoel vir die destydse hof om grense te stel aan onbeperkte persoonlike vergeldingsaksies. Omdat ons Christen-gelowiges nie meer “vleesbeheersde mense” is nie – “want God het Sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het” (Rom. 5:5) – geld die toepassing van die vergeldingsreël nie meer vir ons nie. Ons is “Geesbeheersd”, nuutgemaakte mense wat in ons persoonlike verhoudinge, nie wraakgierig moet wees en gedurig kyk hoe en waar, ons onsself kan vergeld nie.


Paulus se opdrag om nie “kwaad met kwaad te vergeld nie”, is in ons hedendaagse misdaadgeteisterde wêreld, feitlik onmoontlik. “Vleesbeheersde mense” se eerste reaksie is om die “oog vir oog en ‘n tand vir ‘n tand” konsep, of selfs oor enige klein oortreding, gelyk te wil breek. Vleesbeheersde mense wil dan met Paulus redeneer: “Maar Paulus ... het ons Christene dan nie regte nie? Moet ons maar net doodluiters toelaat dat ‘n kwaadwillige ons besittings neem? Moet ons elke keer maar net stilbly terwyl ons onredelik gekonfronteer of benadeel word deur iemand? Dit is duidelik dat jy dalk ons regte in die 21ste eeu anders verstaan. Jou opdrag om 'nie kwaad met kwaad te vergeld nie en goedgesind teenoor alle mense te wees,' gaan totaal en al teen my grein in!"


Christene is bekend daarvoor dat hulle dit goed bedoel met alle mense óm hulle, selfs met hulle vyande. Wanneer daar rampe is, sal hulle ook hulle lewe waag om te help, met geen verwysing of dié in nood, mense "van ons soort" is nie. In die wêreld waar mense selfsugtig is en korrupsie en geweld die laaste woord het, díén Christene en beantwoord hulle misbruik, met respek en liefde. Wanneer hulle vals beskuldig word, beskuldig hulle nie terug nie. Wanneer die regering wette maak wat ander die harnas injaag, bly hulle lojaal ten koste van hulleself. Hulle beantwoord telkens kwaad met goed, in plaas met weerwraak.


Wat is dit met Christene, hoekom doen hulle dit? Hoe lank kan 'n mens goedgesind optree teenoor ander? Waar trek ʼn mens die streep as ander jou met onreg en vyandskap behandel? ‘n Christen dink nie aan sy regte nie maar aan sy liefdesplig. Ons geesteswêreld is ingedeel in God se koninkryk van lig! Saam met Paulus bely ons: “[Ons] is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer [ons] wat lewe nie, maar Christus wat in [ons] lewe. Die lewe wat [ons] nou hier lewe, leef [ons] in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir [ons] bewys het deur sy lewe vir [ons] af te lê” (Gal. 2:19b-20).


Ons redding en behoud hang nie af van ons eie swak vermoë om “ons nie teen ‘n kwaadwillige mens te verset nie”, maar van God wat sy liefde op Golgota bewys het, anders het Jesus verniet gesterf! Om ‘n Christen te wees is nie om Christus na te boots en sodoende te probeer wees wat Hy is nie. Dit sou onmoontlik wees. Dit is nie ‘n selfpoging nie, maar Christus wat in en deur ons lewe, dit is dán wanneer die woordjie “AS” van Jesus in ons teksvers, positief word! Dit is dán wanneer die negatiewe woordjie “AS” uit ons Christene se liefdeswoordeskat verdwyn.


Ek sal jou liefhê “AS” jy my liefhet; ek sal jou liefhê “AS” jy dieselfde taal as ek praat en ons dieselfde kultuur deel; ek sal jou liefhê “AS” …???? Wanneer Jesus Christus daardie woordjie “AS” vervang, dan word “AS” verbrande hout. Jesus het ons God se kinders gemaak, maar dit is ons verantwoordelikheid om ons gemeenskap met Hom te handhaaf. Hy gaan jou nie aan jou nek vat en op jou knieë druk nie, dit moet jy vir jouself doen en pleit dat jy ‘n “Geesbeheersde” mens bly. Gemeenskap met Christus is net so noodsaaklik vir ons Christene as die voedsel wat ons eet en die suurstof wat ons inasem.


“Die kerk is soos ‘n huis met oop vensters waardeur buitestaanders inkyk. Hulle word aangetrek of afgestoot deur wat hulle daarbinne sien” (Prof. Andrie du Toit).


Gebed: Here, ek ken U liefde. Ek besef dat die wedersydse liefde wat U van my verwag, veeleisend kan wees. Maar gelukkig weet ek ook dat U, o Gees, vir my toerus met daardie onbaatsugtige liefde om telkens Christus se nederigheid na te streef om te kan dien. Skenk my die wysheid om te strewe na selfbeheersing sodat ek geweld met liefde kan weerstaan, dat ek nie vergelding sal soek elke keer wanneer daar ‘n drif in my ontstaan om wraak te neem nie. Laat mý as koninkrykskind U liefde en gesindheid openbaar. Laat my U voorbeeld volg en “as U ligdraer, onberispelik optree te midde van ontaarde en korrupte mense” (Fil. 2:15). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page