top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


JESUS SE VYFDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET :


VERGELDING (3) – DIE WET VAN GOD SE KONINKRYK IS ANDERS!


Matt. 5:39a en 40 – “Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie … As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere.”


Vergelyk ook Rom. 13:8 – “Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.”


Jesus verander nou Sy illustrasie van ‘n persoonlike aanval, na ‘n aanval op ‘n mens se besittings. Die onderklere wat mans gedra het in Jesus se aardse tyd, was van katoen of ‘n linnekleed naaste aan die liggaam. Elke Jood het ‘n paar stelle daarvan besit. Die bokleed, ‘n lang lyfrok, was van ‘n duurder materiaal en gewoonlik het die armes net een gehad. Die bokleed was ‘n belangrike kledingstuk en het ook as ‘n kombers teen die koue gedien. Volgens Joodse wet mag niemand ‘n bokleed van iemand anders neem nie (Eks. 22:26-27). Selfs wanneer ‘n bokleed verpand was, moes dit die aand terugbesorg word sodat die behoeftige, daaronder kon slaap (Deut. 24:10-13).


Jesus het weereens ‘n radikale benadering hieroor en stel dit duidelik dat “as iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere”. Om te verstaan wat Jesus met hierdie benadering bedoel, moet ons in ag neem dat sommige van Sy luisteraars, mense wat arm was en só diep in die skuld was, dat hy niks anders gehad het as die klere aan sy lyf nie. Hulle was arm mense wat daagliks verneder was deur ‘n Romeinse regsisteem wat hulle van álles beroof het, selfs hulle klere. Naaktheid was ook ‘n verskriklike skande vir die Jode en dit was nie die persoon wat naak is nie, maar die persoon wat die naaktheid aanskou het, wat onrein geword het. Om dus ál jou klere vir jou skuldeiser te gee, word jou “kaal parade” ‘n oorwinningstog, en buitendien, mag die kwaadwillige nie die bokleed hou nie.


Het ons Christene dan nie regte nie, sou u vra? Moet ons maar net doodluiters toelaat dat ‘n kwaadwillige ons besittings neem? Met respek, dit is duidelik dat Jesus dalk ons regte in die 21ste eeu anders verstaan. Maar ... dan moet ons egter onwillekeurig erken: Ons staan voor God as sondaars met ‘n lewenskleed aan wat met sonde bevlek is, en Hy het ons met Jesus se kruisiging, daarvan gestroop en ons vervul met grenslose en onvoorwaardelike liefde. Is ons besittings nie maar net leengoed wat in elk geval aan God behoort nie? Dalk is dit nodig dat ons met alles wat ons is, en met al ‘ons’ besittings, ons tot beskikking stel vir God en ons naaste.


Jesus vra nie dat ons die howe moet gebruik om te bewys ons het ook ‘n reg op ons goedere nie. Hy sê ook nie ons moet ons huis byvoeg as die kwaadwillige ons kar wil vat nie. Deur al jou klere te gee en naak voor jou skuldeiser te staan, beteken jy maak hom só skaam dat hy nie weet waar om te kyk nie! Dit is natuurlik ook beter om ‘n minderwaardige kledingstuk weg te gee instede dat die evangelie daaronder ly.


Wat Jesus hier beklemtoon, is dat Sy volgelinge nie ‘n dispuut verklaar oor hul wetlike reg nie. ‘n Christen dink nie aan sy regte nie maar sy liefdesplig. Hy dink nie aan sy voordele nie maar sy verantwoordelikhede. Die ‘wet’ van God se koninkryk ís anders, soms veeleisend, daarom kan ons met dankbaarheid dien!


“Om Jesus na te volg verg opoffering, dienslewering en volharding. Daar is geen flambojant of glans aan verbonde nie. Dit is egter die ewigheid werd” (Prof. Stephan Joubert).


Gebed: Almagtige Vader, maak my lewe onopgesmuk sodat ek in eenvoud lewe sonder om ‘n ophef daarvan te maak. Fokus my gedagtes op ander se behoeftes eerder as my eie. Herinner my daaraan dat alles buitendien aan U behoort en deur U krag kan ek dit regkry om eerder te gee as om konflik te hanteer, want U Gees is in my, en dit kan niemand van my wegneem nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page