top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


JESUS SE VYFDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET :


VERGELDING (1) – DISSIPELSKAP GAAN JOU DUUR KOS!


Matt. 5:38-39a – “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand. Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie.”


Vergelyk ook Lev. 19:18 – “Jy mag nie wraak neem of ‘n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.”


Dit is teen hierdie tyd al bekend dat die skrifgeleerdes en Fariseërs die wet van God aangepas het om by hulle interpretasie daarvan, en hulle voorkeure, in te pas. Hulle het by die sogenaamde Ou Testamentiese “vergeldingsreël”, óók ‘n paar “formuletjies” bygevoeg. Hulle verdraaiing van die wet het in Latyns as “Lex Talionis” – “Die Wet van Vergelding” – bekend gestaan. Die “Lex Talionis” was daar om seker te maak die straf regverdig die oortreding, maar die Jode het dit in ‘n “pik jy my dan pik ek jou”, (“tit for tat”), konsep verander en gevolglik het dit hulle gelei na ‘n obsessie om oor enige klein oortreding, gelyk te breek.


Jesus neem hierteenoor sterk standpunt in en benadruk dat geweld gekeer moet word nog voor dit begin het, dat jy jou eerder “nie teen ‘n kwaadwillige mens moet verset nie” – in die gees van Levitikus 19:18 in jou persoonlike verhoudinge, nie wraakgierig moet wees nie. Geen beskaafde mens moet hierdie wet, letterlik uitvoer nie – in die lewe van ‘n Christen is daar nie enige plek vir wraak of vergelding nie.


Jesus se vyfde teenstelling is glad nie maklik haalbaar nie. Ons dissipelskap word hier tot die uiterste toe beproef, gevolglik is ons eerste reaksie daarop sonder twyfel, dat dit onmoontlik is om toe te pas. In die geweldskultuur wat tans feitlik wêreldwyd heers, moet kwaad met hand en tand beveg word en indien nodig, sommer met die voete ook! Buitendien, as Jesus bedoel het dat alle verset teen kwaadwilliges verkeerd was, hoekom het die dissipels, in Sy teenwoordigheid, twee swaarde saam met hulle gedra? (Luk. 22:38).


Die voorbeelde wat Jesus hier gebruik is ‘n persoonlike konfrontasie tussen mens-tot-mens. Dit gebeur wanneer iemand anders op ons eer, ons tyd en ons geld aanspraak maak, waarop hy geen reg het nie. Dit gaan nie hier oor ons regte nie, maar in watter gesindheid ons optree in sulke omstandighede. Jesus het mos gewaarsku dat Sy dissipels nie ‘n soort “welvaartsgodsdiens” moet verwag nie. Sy boodskap sal nie orals ewe gewild wees nie en dit sal soms nodig wees om onsself te kruisig, die “self” ondergeskik te stel aan die voorsienigheid van die Here. Maar, al is die pad van geloof ‘n baie smal pad, kan ons altyd onthou dat ons deel is van die geseëndes – dat ons "geseënd is wanneer die mense (ons) ter wille van Hom beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van (ons) sê” (Matt. 5:11).


Jesus maak aan ons bekend dat Christene anders leef as die res van die wêreld. ‘n Reaksie om nie te vergeld of weerwraak te neem nie, demonstreer die geloof in God en Sy regverdigheid. Dit is nie nodig om self te vergeld nie want God beskerm Sy kinders op Sý tyd en Sý manier, Hý sal vergeld! Ons geloof in Christus en Sy oordeel, sal sorg dat ons nie van stryk gebring word wanneer ongegronde kritiek en ernstige aanvalle op ons geloods word nie. Ons het ‘n Waarborg dat ons nooit alleen stap nie, Jesus se Gees is ons gids wat op die regte tyd die regte woorde op ons tong sal lê. Jesus waarborg ‘n veilige aankoms by ons ewige bestemming!


“Vul jou gemoed met edel gedagtes, want as jy dit nie doen nie, sal die Bose dit met slegte idees vul. Want niemand se kop is ooit heeltemal leeg nie” (Thomas More).


Gebed: Barmhartige Vader, daar is soveel dinge wat ek sê en doen wat nie in U Vaderhart in pas nie. My aanraking na baie is liefdeloos, my kontak met hulle so afsydig want ek is bang hulle betree my privaatheid en veroorsaak konfrontasie. Daarom dank ek U Here Jesus dat U aan die kruis met ál my stukkendheid ‘n plan gemaak het sodat ek uit dankbaarheid in vergifnis mag lewe met my naaste. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page