top of page

Gedagte vir Vandag



DIE WERK VAN DIE HEILIGE GEES – DIE VOORSPRAAK TROOS ONS IN ‘N STUKKENDE WÊRELD!


Joh. 16:12-15 – “Ek het nog baie dinge om te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei…”


Vergelyk ook Martin Luther se wysheid: “’n Sterk vesting is ons God, nog steeds ‘n Troue skild en wapen; Hy sal ons uit ellende hef wat ons nou oorweldig.”


Ons leef vandag in moeilike en gevaarlike tye, tye wat nie Christen-vriendelik is nie! Talle mense voel asof al die sprankel uit hulle lewe verdwyn het. Dit blyk asof neerslagtigheid die mense beroof van alle sin en waardes en hulle bestaan, oorgeneem is deur vrees en wanhoop. Ons leef in ‘n tyd waar dit blyk dat goeie nuus net nie meer bestaan nie. Talle mense huiwer op die grens van wanhoop en die redes daarvoor is legio. Die vraag kom onvermydelik: “Is dit nie omdat die evangelie van Jesus goedkoop geword het nie?” Alles word verdra – waarheid, leuen, goed, kwaad, satanisme, towery, moord, misdaad, afgodery – daar is ruimte vir alles en almal mag praat, al is dit met geweld! Almal het ‘n reg en almal is reg. Die waarheid het ‘n relatiewe begrip geword en die grens tussen reg en verkeerd het vervaag.


Die fokus het van God na die mens verskuif – die self het “god” geword wat sy eie ding doen op sy eie manier en volgens sy eie wil en gewete – die klem van Jesus wat die Weg, Waarheid en Lewe is (Joh. 14:6), is verskuif na die persoonlike “ekkigheid”. Om Jesus te volg in hierdie tyd het feitlik onmoontlik geword. Het dit nie miskien tyd geword om terug te draai na die God van die hemel toe nie? Het dit nie tyd geword dat ons weer die “Gees van die waarheid, moet toelaat dat Hy ons in die hele (en enigste) waarheid lei” nie?


Ons kan egter dan nie bly waar ons is as ons saam met die Gees wil gaan nie, ons moet in gehoorsaamheid volg. Ons moet bereid wees om ons oor te gee aan God se planne en aanpas by Sy metodes. Kom laat die Gees ons lei in gebed. (Die onderstaande is slegs ‘n riglyn van gebede. Julle is natuurlik welkom om jul eie gebede na God te rig.)


Boere op droogte-geteisterde plase.

Ps. 65:10-11 – “U sorg vir die land en gee oorvloed, U maak dit baie vrugbaar. Die groot riviere is vol water, U laat die koring welig staan. U maak die ploegvore vol water en die kluite nat, U laat hulle sag word van die reëns, U laat alles welig groei. Alles is U werk.”

Here, ons bid dat ons boere geloof, vertroue en hoop te midde van hierdie situasie sal hê. Vandag wil ons ons harte skeur en na U terugkeer, Here ons God. Laat U genade en liefde op ons reën. Skenk U oorvloedige liefde aan ons land. Ons bid dat U ons sal seën met reën, veral in die Noord-Kaap wat gebuk gaan onder geweldige droogte maar asseblief Here, ook oral waar dit nodig is. Ons boere is verslae, baie het al moed opgegee. Hulle bid maar voel dit is tevergeefs. Sien in genade hulle aan, o Vader. Almagtige God, bring vrede in hulle en ons onrus, kom skud die wolke totdat hulle lek. U genade is ons vreugde. Ons hef ons oë op na U in stille aanbidding en afhanklikheid, skenk ons die lafenis van U liefde.


Geweld teenoor veral vrouens en kinders.


Rom. 12:1-2 – “Gee jouself aan God as lewende en heilige offer. Moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God jou verander deur jou denke te vernuwe…”

Here, ons bid dat ons harte weer deur die genade en liefde van God verander sal word. Ons bid dat 'n honger vir U, ons ambisie sal word. Ons wil graag onophoudelik bid vir die lot van veral vrouens en kinders wêreldwyd, wat slagoffers van fisieke, geestelike en emosionele mishandeling is. Ons is moeg Here, moeg vir al die geweld in ons land. Ons is moeg vir mense wat sinnelose pyn en vernietiging bring. Ons is moeg om daagliks te hoor hoedat sinnelose geweld ons vrouens en kinders, aan flarde skeur. Ons bid dat die mense, veral ook in ons eie land, sal verstaan dat daar 'n groter betekenis vir die lewe is, wat slegs in 'n verhouding met Jesus Christus gevind kan word. Verander die misdadigers se denke sodat hulle liefdevol kan optree. Lei hulle tot verootmoediging. Bring asseblief verlossing en vernuwing in die koue harte van geweldenaars.


Geweld in die algemeen maar veral teenoor die huidige aanvalle op buitelanders.


Jes. 65:1 – “Ek het my wil geopenbaar aan ‘n volk wat nie na My gevra het nie. Ek het my laat vind deur mense wat My nie in die gebed gesoek het nie. Vir ‘n nasie wat My nie aangeroep het nie, het Ek gesê: "Hier is Ek! Hier is Ek!"

Helder Môrester, ons bid hierdie vers in alle erns vir ons land. So baie mense in ons land ken U nie. Kom openbaar Uself aan dié wat nie na U vra nie, sodat hulle wat nie eens na U soek nie, U sal vind. Openbaar Uself aan ‘n nasie wat nie u Naam aanroep nie. Skeur die hemele en gryp ons, sodat ons in suiwer en heilige aanbidding voor U sal staan! Ons bid dat U vreugde ons land oorweldig, en dat die ware, lewende, onfeilbare werklikheid van Christus die godsdienstige metodes en sienings in ons regering en ook in die harte van die volk oorneem.

Ons bid vir eenheid, verdraagsaamheid, vrede, geduld, wysheid en begrip. Vergewe ons vir die sinnelose bloedvergieting en vernietiging van eiendom in ons land. Ons skaam ons vir mense van ons land wat soos barbare optree en alles vernietig en moor. Ons bid vir die families wat negatief deur die moorde en skade geraak is. Ons bid dat hulle nie met woede, geweld of selfs moord sal vergeld nie. Vader, ons bring al die vreemdelinge wat in ons land woon voor U in gebed. Ons bid dat elke vreemdeling die geleentheid sal hê om die boodskap van die liefde van Jesus Christus te hoor en dat hulle daarvoor ontvanklik sal wees. Openbaar Uself aan hulle op elke moontlike manier.


Kom ons keer terug en rig ons lewe weer in, tot afhanklikheid van ons Hemelse Vader! “Ten slotte: Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig, nederig. Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met 'n seënwens, want daartoe is julle geroep sodat julle die seën van God kan verkry (1 Pet.3:8-9). Dit is tog die Enigste plek en Persoon waar ons ewigheidswaardes vind!


“Jy hoef nooit baie hard na God te roep nie. Hy is baie nader aan jou as wat jy dink”

(Broer Lawrence).


Gebed: Hemelse Vader, neem asseblief weer die inisiatief in ons lewe. Openbaar weer Uself en U werk aan ons dat ons U uitnodiging sal herken en terugkeer na U toe. Neem al ons selfsugtige en selfgerigte planne weg en vervang hulle weer met U planne en doelstellings. U nooi ons opnuut uit: “Kom terug na My toe, skeur julle harte en huil, kom terug, Ek is genadig, barmhartig, lankmoedig en vol liefde. U is bereid om ons straf te herroep en weer voorspoed te gee in ons mooi land” (Joël 2:12-14). Here, ons moet net luister, daarom pleit ons by U: Bring ons terug om in ‘n verhouding met U te wees, sodat dit moontlik is om te hoor en reg te reageer wanneer U praat. Gee vir ons geopende ore om te kan hoor, harte om te kan vertrou en hande om vir U te werk. die Reën vir die grasveld (Ps. 72:6); die Stroom water in ons dorre land (Jes. 32:2).Werk in ons lewe deur U Gees, maak ons gehoorsaam aan U roepstem. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page