top of page

Gedagte vir Vandag


Huwelikstrou is onverbreekbaar en lewenslank!

JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


JESUS SE DERDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET :


EGSKEIDING (1) – DIE HUWELIK IS ONVERBREEKBAAR EN LEWENSLANK!

(Matt. 19:9; Mark 10:11-12; Luk. 16:18)


Matt. 5:31-32 – “Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar ‘n skeibrief gee.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”


Vergelyk ook Deut. 24:1 – “Wanneer ‘n man met ‘n vrou trou, kan dit gebeur dat hy haar nie meer liefhet nie omdat hy iets onbetaamliks aan haar gevind het. Dan mag hy ‘n skeibrief skryf en dit vir haar gee en haar uit sy huis uit wegstuur.”


Oor hierdie derde teenstelling van Jesus het baie Christene al geworstel. Hierdie twee verse oor egskeiding en hertrou het al talle debatvoering tot gevolg gehad. Die rabbi’s het dit relatief ‘n maklike praktyk gemaak. Hulle weergawe van rede tot egskeiding soos vervat in Deuteronomium 24:1, beteken dat in die Joodse wêreld, ‘n man sy vrou kon skei oor feitlik enige rede, doodeenvoudig sélf die skeibrief skryf, verklaar hy is nie meer haar man nie en sy nie meer sy vrou nie, dit in die teenwoordigheid van twee ander mans as getuies vir haar oorhandig, en wegstuur uit sy huis. Maklik! Geen prokureurs en duur hofsake nie!


Jesus kom voeg hierdie reël by God se sewende gebod en verset Hom teen egskeiding. Vir Hom is hierdie mensgemaakte bepaling, om die minste te sê, verregaande. “As dit gebeur dan moet dat gedoen word” was vir enige Jood ‘n maklike manier om van sy vrou “ontslae” te raak. “Iets onbetaamliks” was ‘n wye stelling en elke rede is aangegryp om dit toe te pas. Te veel sout op sy kos; vrou het te veel gewig aangesit; sy het vir hom onaantreklik geword; sy het oneerbiedig met hom gepraat; sy het haar hare in die openbaar laat loshang; vir tien jaar kinderloos wees (kinderloosheid was net die vrou se skuld), is maar enkele voorbeelde van hierdie onbenullige redes. (Ek het al baie gewonder oor die vrou se reg vir egskeiding?)


Jesus hou egter ondubbelsinnig die sewende gebod aan hulle voor: “Maar Ek sê vir julle ... egskeiding behalwe oor owerspel is vir God nie aanvaarbaar nie. Dit is volgens Jesus nie ‘n manier om huwelikskonflik op te los nie. Dis gewoon egbreuk! Daarmee neem Jesus nie ‘n ongenaakbare houding in nie, inteendeel, Hy wil hê dat ons eers voor die wil van God buig. Die huwelik is nie vir Jesus iets wat enige mens sommer net oorboord kan gooi as dit nie meer “werk” nie. Daardie basiese oorgawe aan God moet gemaak word voordat enige “ja maar …” aangevoer word.


Dit word vertel dat ‘n verslaggewer vir Albert Einstein en sy vrou, op hulle goue huweliksherdenking gevra het waaraan hulle hul huweliksukses toeskryf? Sy antwoord was dat hulle op hul troudag, ‘n ooreenkoms aangegaan het dat hy in hulle lewe saam, al die groot besluite sal neem en sy al die kleintjies. Beide het bevestig dat hulle getrou daarby gehou het, waarna hy bygevoeg het: “Dit is vreemd dat daar in vyftig jaar nog nie één groot besluit was nie!”


Die huwelik is onverbreekbaar – “Wat God saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie” (Mark. 10:9). Die huwelik is vir Jesus ‘n diep godsdienstige gebeurtenis wat alles met God te make het. Egskeiding behalwe oor owerspel, los nie die probleem op nie. Die probleem lê nie in die huwelik nie maar in die egpaar van die huwelik, en ‘n mens kan homself nooit ontvlug nie, behalwe natuurlik deur die dood. Ons howe is vandag oorvol a.g.v. egskeidingswette wat elasties, vergunnend en maklik geword het. Die slegte daarvan is dat almal daaronder ly – mans, vrouens, kinders, familie en selfs vriende.


Is ons nog in staat om daardie basiese oorgawe aan God te maak voordat enige “ja maar …” aangevoer word? Soek ons nie maar die eerste beste mensgemaakte “oplossing” wanneer dinge verkeerd loop in die huwelik nie? As die Here nog deel is van ons huweliksverhouding, as Hy nog die ereplek daarin beklee, kán dit nie anders as om gelukkig te wees nie. Daarom het God eeue gelede al bepaal dat “’n man sy ouers sal verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word” (Gen. 2:24) – die huwelik waar seksualiteit ‘n wettige adres gevind het omdat die aangetrokkenheid tussen man en vrou oorgaan in ‘n liggaamlike eenwording. Kom ons dank God elke dag vir ons huweliksmaat want Hy het ons saamgevoeg om ons één mens te maak, mens na Sy beeld en as Sy verteenwoordiger!


“God se kinders soek aan die hand van die Bybel daarna om God se beeld in hulle lewe aan die lig te bring. Hulle kry die geleentheid om in hulle liefde vir mekaar God se doel vir hulle lewe te bereik” (Ds. Johan Smit).


Gebed: Here, as U die huis nie bou nie, swoeg ek wat daaraan bou tevergeefs. Daarom draai ek na U toe en pleit dat my lewe tog nie tevergeefs moet wees nie. Ek bely dat ek my dae ombring deur eie planne te maak, maar op die einde van die dag is dit planne wat tevergeefs was. Dankie dat U nooit ophou om aan my huis en huwelik te bou nie. Dankie vir die huweliksmaat wat U “saamgevoeg” het by my. Gee dat ons in U liefde mekaar sal waardeer en dat ons mekaar sal bystaan in huweliks krisistye, dat ons één word wat U beeld uitdra. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page