top of page

Gedagte vir Vandag


Baie dankie aan elkeen wat vir Vrydag se FAMFEST gebid het. Julle hulp deur gebed was kosbaar en die Here het weer gewys hoe wonderlik Hy voorsien en sorg. Elkeen se gebede is beantwoord met ‘n wonderlike feestelike dag, lieflike weer en mooi gesindhede. Die Here se genade is weerspieël deur elkeen wat die dag by ons gemeente gewerk het en elke besoeker wat mildelik bygedra het sodat ons dit in liefde kan deel met ander om ons. Kom leef nou verder ‘n feestelike lewe van betrokkenheid by die Here se werk. Alle eer aan ons Alomteenwoordige hemelse Vader.


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


JESUS SE TWEEDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET :


KUISHEID (2) – HOU JOU LIGGAAMSDELE IN TOOM!


Matt. 5:29-30 – “As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland.”


Vergelyk ook 1 Joh. 2:16 – “Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit – kom nie van die Vader nie maar uit die wêreld.”


Jesus gaan nou verder en wys daarop dat alle aspekte van die huwelik en seksuele gemeet word aan die oorvloediger getrouheid aan die wet. Die oog behoort ironies genoeg ’n mens juis van struikeling te bewaar. Op skokkende wyse raai Jesus ons nou aan om eerder van lewensbelangrike ledemate ontslae te raak as dat die hele mens verlore gaan.


Onwettige begeertes is verkeerd want dit druis in teen God se natuur en wil. Hy is sedelik perfek en verwag geregtigheid en waarheid in ons harte. Die feit is dat ons liggaam ‘n tempel van God en die Gees is, en dit het ewigheidsbetekenis (1 Kor. 3:16; 6:19). Die huwelik is heilig, só heilig dat God dit selfs as beeld van die verhouding tussen Hom en Sy gemeente, gebruik. Die huwelik gaan oor die innigste en volledige liefdesverbintenis tussen één man en één vrou en is só, deur God ingestel. God het vir Adam net één vrou gegee met die opdrag om één vlees te wees (Matt. 19:4-6), en daardie opdrag is vandag nog van toepassing!


Wat bedoel Jesus met “elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg en as dit jou oog is wat jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg?” Met respek gesê, God het die vrou geskape as die skoner geslag en ‘n man kan seker skoonheid bewonder? Is Jesus nie dalk ‘n bietjie moedswillig met Sy verklaring nie? Nee, Jesus maak nie foute nie en Hy sê ook nie sommer iets net om iets te sê nie. Die onderliggende probleem is, Jesus ken die mens en Hy het juis aarde toe gekom om die mens van struikeling te bewaar, om die gebroke verhouding tussen God en die mens te herstel!


Die man (mens) se oog en selfs tong lei na verkeerde begeertes. Onkuise grappe en praatjies druis dan in teen die heilige huwelik. “Dit is ‘n nikswerd mens vol onreg, wat altyd reg is om te lieg, met die oog te knik en met die vingers tekens te gee” (Spr. 6:12-13). Die oë is die hoofkanaal tussen die liggaam en die wêreld daar buite wat ‘n begeerte van sondige gedagtes koppel met sondige “plesier.” Die oë voed die verstand en hart met wellus en sondige begeertes en ‘n sterk begeerte ontaard dan in ‘n verbode handeling. Selfs Petrus bevestig dit met “hulle oë is die ene wellus, en aan sonde kry hulle net nie genoeg nie” (2 Pet. 2:14).


Die sonde binne ons vervang die goeie Godgegewe begeertes met perverse wellus. God verbied hierdie begeertes wat gerig is op dit wat verbode is en indruis teen die huwelik. Die Hebreërskrywer se vermaning is uiters ernstig wanneer hy ons herinner dat “die huwelik deur almal eerbaar gehou moet word en ons in die huwelikslewe getrou aan mekaar moet wees, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom” (Heb. 13:4). Paulus waarsku ook dat “ons nie moet toelaat dat die sonde nog langer oor ons heerskappy voer en ons begeertes van ons sterflike aardse bestaan, gehoorsaam nie” (Rom. 6:12).


Paulus gaan verder en gee net soos Jesus, ons goeie raad om te verhoed dat dit nodig sou wees om ons “oog of hand of selfs enige ledemaat wat ons laat struikel, uit te haal of af te kap en weg te gooi”. Hy sê “ons moet geen deel van ons liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, ons moet ons in diens stel van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en elke deel van ons liggame in diens van God stel, as werktuig om te doen wat God wil” (Rom. 6:13).


‘n Kind van God leef ál meer in oorwinning oor die sonde, leef só dat almal kan sien dat sondes waarmee hy voorheen geworstel het, uit sy lewe verwyder word en daarom raak hy ál meer gehoorsaam aan God. As gelowiges staan ons nie meer onder die heerskappy van die sonde nie, ook al ly ons meermale neerlae in die stryd teen die sonde. Die stryd teen die sonde is geen hopelose stryd nie en wanneer ons nog in sonde verval, hoef ons nie in die sonde te bly lê nie.


“Kies slegs vriende wat jou op die pad na die hemel toe kan help” (John Wesley).


Gebed: Here, U het my na U beeld geskape. U het so baie van die mens verwag dat U my met U beeld vertrou het. Here, ongelukkig het ek as gevolg van die sonde, so uit pas geraak dat ek verslap het om elke oomblik veggereed te wees vir die sonde-vyand. Dit wat U mooi gemaak het, het ek met sondige begeertes in verbode handelinge verander. Hemel Vader, ek smag na ‘n lewe van oorwinning oor sonde en gehoorsaamheid aan U. Vergewe my Here en bring my tot ander insigte om “elke deel van my liggaam in diens van U aan te wend as werktuig om te doen wat U wil.” Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page