top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


DIE VERVULLING VAN DIE WET (2) – IN DANKBAARHEID ONS LEWE MET DIE BEGINSELS INRIG!


Matt. 5:17-19 – “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan, as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is. Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel …”


Jesus begin hierdie gedeelte van Sy Bergpreek met ‘n ontkenning dat Hy nie “gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.” Ons moet onthou dat Jesus as “Ou-Testamentiese Jood” op aarde grootgeword het en die wet, sowel as die uitsprake van die profete daaroor, geken het. Moontlik het Jesus vooraf al die verkeerde indruk by die godsdiensleiers en mense gelaat dat Hy negatief teenoor die wet staan, daarom dalk Sy stelling. Inteendeel, Jesus verklaar hier dat Hy nie net die wet aanvaar nie, maar Sy eerbied daarvoor beklemtoon, Sy versekering gee dat: “Die hemel en die aarde sal eerder vergaan, as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.” Omdat Jesus so “anders” was, het Hy gekom om volle betekenis aan die wet, wat deel is van God se verbond met Sy volk, te kom gee sodat die verhouding van God tussen Jesus se luisteraars daar by Hom op die Berg, en ons as Sy kinders, sinvol kan verloop.


In ons sogenaamde “post-moderne eeu”, glo ek dat julle ook al êrens gelees het of gehoor het dat daar mense is, selfs Christene, wat teen die tien gebooie “betoog” of selfs rebelleer. Een van die sogenaamde uitgangspunte is dat ons nie meer in die Ou Testament by Sinai staan waar God die Tien Gebooie aan Moses gegee het nie, maar by Golgota, die Nuwe Testament van ons liefdevolle Jesus se genade, Jesus wat die bepalings van die wet daar aan die kruis “hulle volle betekenis laat kry het.” Die wet was vir dáárdie tyd se mense gegee en ál die bykomstige bepalings en reëls wat in Levitikus deur die godsdiensleiers van daardie tyd bygevoeg is, is ‘n bewys daarvan. Ons moet dus die wet verander of “vertaal” om by ons tyd aan te pas.


En só vang satan, vanaf Adam en Eva se tyd reeds vir duisende jare, mense uit met dieselfde standpunte: “Moenie julle aan God steur nie, Hy wil julle inperk met ‘n stel ‘reëls en beginsels’ wat buitendien onrealisties is om na te kom. Jy is mos jou eie baas. Jy is vry gemaak om te doen wat jý wil!” Hierteenoor staan Jesus se woorde nadruklik: “Ek het nie gekom om die wet of die profete ongeldig te maak nie … Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel.” Die Ou Testament word met Jesus se koms nie ongeldig gemaak nie, maar vervul.


Wat is dan die regte reëls of beginsels? Is die wet van Moses nog nodig in ons moderne tyd? Het Christus dan nie vir ons die wet vervul nie? Waarom al die reëls as dit nie vir ons die saligheid inhou nie? Nee, die saligheid het ons reeds in Christus wat absoluut gesag heg aan die wet. Die regte beginsels vir ons is om ons dankbaarheidslewe daarvolgens in te rig – dié beginsels wat Jesus voor gekom het om “volle betekenis te laat kry.” Daarom kan die Tien Gebooie veeleer as ‘n blye boodskap gesien word en die bedoeling daarvan, eerbiedig word. Eerbied vir God; eerbied vir God se dag; eerbied vir ouers – vir lewe – vir eiendom – vir ander mense – vir die waarheid – vir jouself sodat verkeerde begeertes nie beheer van jou neem nie.


Hierdie eerbied en respek het Jesus kom vervul en dit het onlosmaaklik met jou en my geloof te doen! Dit is nie die eer en respek wat aan ‘n magdom reëls en regulasies, moets en moenies en behoorts, gekoppel is nie. En slegs as ek en jy in Jesus Christus se kruisverdienste glo en Hom as ons Enigste Verlosser aanvaar, kan ons leef asof die wet vervul is, want Jesus het dit “volle betekenis laat kry” sodat ons in liefde kan leef – liefde vir God en liefde vir ons naaste.


Wanneer ons die wet as spieël voor ons hou, sal ons ons ellende waarneem en na God toe vlug. Die wet is nie meer ‘n aanklaer nie maar ‘n “herder” wat ons lei op ‘n pad van liefde. Jesus se belofte van 2000 jaar gelede is steeds van toepassing wanneer ons die wet weer onvoorwaardelik aanvaar, “gehoorsaam en ander so leer, dan sal ons hoog geag word in die koninkryk van die hemel.”


“Wat die aanvaarding van die wet van God aanbetref, is mense se harte soos blomme. Hulle is oop vir die sagte dou; maar gaan toe wanneer ‘n harde bui reën daarop val” (Anoniem).


Gebed: Hemel Vader, U het my geskape om hier op aarde as U verteenwoordiger op te tree. As gelowige is ek geroep om my gedragskodes op ál die terreine van die samelewing toe te pas volgens die eise van U Woord. U staan in die middelpunt van my lewe. U wil en wet bepaal my sedes. Ek behoort anders te wees, maar Here, ek staan skuldig voor U en sou ek eintlik op pad wees verderf toe. “Ek ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan U die dank! U doen dit deur Jesus Christus ons Here” (Rom. 7:24-25). Dankie, dankie, dankie Vader, vir U genadegawe van die ewige lewe wat U aan my gee deur Christus Jesus, ons Here. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page