top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


DIE VERVULLING VAN DIE WET (1) – GROTER GETROUHEID AAN DIE WET OM GOD TE EER!


Matt. 5:17 – “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry ...”


Jesus stel dit tydens Sy Bergpreek onomwonde aan Sy luisteraars dat Hy nie “gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie.” Vir die Jode van daardie tyd was Jesus se uitspraak oor die wet seker ‘n groot skok want vir hulle was die tien gebooie, (wet van Moses), en die uitsprake van die profete, (meeste boeke van die Ou Testament), die mees belangrikste van hulle godsdiens. Die punt is nou dat Jesus na alles waaroor Hy sover gepreek het, goeie waardes van Sy volgelinge wat “sout en lig is vir die wêreld” verwag, en goeie werke kan doen sodat ons Vader in die hemel verheerlik kan word (Matt. 5:3-16). Die “ongeldigmaking” van die wet sou teenstrydig wees met ons Vader se bedoeling daarmee, want die wet is die norm waaraan God ons werke meet.


Die skrifgeleerdes was verantwoordelik vir die opstel van al die reëls en regulasies, terwyl die Fariseërs hulle afgesonder het van gewone daaglikse aktiwiteite, om hierdie reëls en regulasies toe te pas en te verseker dat dit deur die volk toegepas word. Dit was vir hulle die wese, die kern van godsdiens. ‘n Godsdiens wat bestaan het uit ‘n magdom moets en moenies en behoorts. Jesus het by tye radikaal verskil van die skrifgeleerdes en Fariseërs omdat Hy nie saamgestem het met hulle mensgemaakte wette, waaroor dit vir hulle gegaan het om geregtigheid by God, te verdien. Wetsonderhouding vir Jesus omvat meer as die nakoming van ‘n lang lys uiterlike reëls, dit vereis ‘n radikale hartsverandering jeens God en ander mense.


Ten spyte van meer as ses honderd ekstra bepalings en gebruike wat die skrifgeleerdes en Fariseërs by God se wet bygevoeg het, en daarmee gepaard, hulle uiterlike vroomheid, het hulle nog nie eers begín om die wet te hou nie – hulle het gedink hoe meer hulle kon dóén van die wet, hoe meer sal hulle vir God kan beïndruk – kwantiteit in plaas van kwaliteit! Hulle leerboeke van reëls en regulasies, volgens hulle interpretasie, het dikker en belangriker geword as die Woord van God en die wet van God wat Hy vir Moses op Sinai gegee het.


God se wet is nie bedoel om neerdrukkend en knellend of selfs beperkend te wees nie. Die wet van God is die padkaart wat ons help om die lewe met vreugde te geniet, ‘n riglyn vir ‘n lewe wat vir God aanneemlik is en wat tot voordeel en geluk van ons as Sy verbondskinders is. Daarom sal ons lewenswandel op aarde (dink, praat en doen) volgens die wet beoordeel word. Die oordeel gaan oor die wet wat ons lewensruimte wil gee en of ons optree volgens God se wil.


Die “getrouheid aan die wet” beteken om op ‘n ander manier getrouer te wees – ‘n getrouheid wat uit baie meer as die nakoming van bepalings en gebruike (soos voorgestel deur die skrifgeleerdes en Fariseërs) bestaan, maar eerder in dade van dankbaarheid gedoen kan word. Dit beteken om nie net met mooi godsdienstige woorde ons wetsgehoorsaamheid aan te prys nie maar om in ‘n persoonlike en innige gemeenskapverhouding met God te leef – om getrou te bly aan die God van die wet en om Hom te verheerlik daarmee. Daarom het Jesus na hierdie sondige wêreld toe “gekom om die wet en die profete hulle volle betekenis te laat kry” – dít is die verskil. Christus het die wet volbring en die geregtigheid vir ons sodoende verwerf. Hy het die brug na God toe gebou met die kruis sodat ons die wet kan doen uit dankbaarheid vir Jesus. Nou kom dit by ons daadwerklike optrede: Hoe leef ‘n Christen? Kan ander mense Jesus Christus in jou daaglikse optrede waarneem?


“Jesus Christus gee nie, soos ander godsdienstige leermeesters, vir ons voorskrifte oor die pad na God toe nie. Hy is sélf die Weg” (Karl Barth).


Gebed: O Here, my God – U is so vol liefde en genade. U onderhou U verbond met my. U skenk my vergifnis van sondes en maak elke dag vir my ‘n nuwe begin moontlik. U bewerk my verlossing. Lei my om te onthou dat U sterker is as al die bose magte en dat ek maar met die grootste eenvoud met U kan praat. Gee my ‘n fyn aanvoeling sodat ek in elke omstandigheid sal kan onderskei wat die regte ding is om te dink, sê en doen. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page