top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


DIE SOUT VIR DIE AARDE (2) – ‘N CHRISTEN GETUIG VAN GOEIE SMAAK!

(Mark. 9:50; Luk. 14:34-35)


Matt. 5:13 – “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.”


Vergelyk ook Kol. 4:6 – “Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.”


Sout was om verskeie redes belangrik in die antieke tyd – sonder yskaste of moderne metodes van preservering – onmisbaar. Israel het dit ook gebruik in hulle godsdienstige rites as byvoeging tot graanoffers (Lev. 2:13) en wierookoffers (Eks. 30:35). Elisa het sout by die water gevoeg om dit weer bruikbaar te maak (2 Kon. 2:20-23). Pasgebore babas is daarmee ingevryf (Eseg. 16:4). Dit is ook gebruik om paaie hard te maak. Sout was gebruik om bedorwenheid te voorkom.


God het hierdie wêreld goed geskep (Gen. 1:31). God maak nie foute nie – Hy het die wêreld ongelooflik mooi gemaak. Die mens het egter intussen die wêreld van ongelooflik na ongelowig verander. Die waarheid van God se skepping word onderdruk deur menslike teorieë wat ‘n verrotting en korrupte wêreld tot gevolg het. As die kerk van die Here nie hierdie verrotting onkeerbaar maak nie, sal dit toeneem. Die sout moet ‘ingevryf” word en aan almal aangebied word, sonder uitsondering.


Die sout van die evangelie moet daagliks versprei word. Die sout is nie daar net om Sondae gebruik te word en dan weer teruggeplaas te word op die rak nie. Dit beteken dat die sout van die evangelie ook bekend gemaak moet word selfs aan die regering, álle aardse instansies en nie net beperk word tot ‘n handjievol kerkgangers nie. Die penetrerende en reinigende krag van evangeliese sout is dinamies! Dit penetreer selfs sosiale en kulturele instansies.


Net soos sout sy smaak moet behou en vir verskeie doeleindes aangewend is, moet die draers van die koninkryk daar wees om die Vader te verheerlik. Ons Here se metafoor is ‘n beroep aan Christene om die groeiende besmetting van die mensheid te voorkom. Om “sout vir die aarde” te wees beteken eintlik “júlle is die instrumente” om te verhoed dat hierdie besmette en korrupte wêreld, verder geestelik verrot en vuiler word.


Die Christen is die antiseptiese sout wat ook as skoonmaakmiddel dien in enige geselskap waar hy hom bevind. Dit is bekend in wie se geselskap mens kan ontspan en wie se geselskap standaarde verlaag. Party mense raak die mooiste woorde kwyt as hulle in godsdienstige kringe is maar elders praat hulle ‘n soort taal wat nooit enige beskaafde woordeboek sal haal nie. Maar ons gelowiges, dáárdie deel van die dissipels waarna Jesus verwys as “julle”, is nie ‘n toneelspeler of skynheilige wat God dien net wanneer dit hom pas nie. Hy dien die Here volspoed en voluit, selfs wanneer niemand anders hom sien nie. Hy is die persoon wat selfs net met sy teenwoordigheid, dit makliker maak vir ander om reg op te tree.


Ofskoon verskillende gebruike van sout ter sprake kan kom, is die voor-die-hand-liggende die daaglikse gebruik om kos smaak te gee en te preserveer want voedsel sonder sout, is smaakloos. Net so is Christenskap vir die lewe, wat sout vir kos is. Christenskap gee smaak aan die lewe. Ongelukkig is daar diegene wat Christenskap juis aan die teenoorgestelde konnekteer – dit neem die smaak uit die lewe uit, dit verwyder die opgewondenheid daarvan, maak dit oninteressant, depressief! Waar bevind jy jou? Is jy sáám met die bederf of téén die bederf? ‘n Ware Christen is nie skaam vir sy andersheid nie, hy ís sout vir die wêreld en “getuig van goeie smaak!”


“Jesus het gesê ons Christene is sout vir die aarde, maar solank die sout sy eie identiteit behou, is dit nutteloos. Vir ‘n heilsame werking moet sout die ander stof heeltemal binnedring, daarin opgelos word – dus eintlik daarin verdwyn!” (Richard Halverston).


Gebed: Dankie hemelse Vader, dat U juis vir my daardie keuse laat of ek vír U wil wees of teen U. Gee my ‘n fyn aanvoeling sodat ek in elke omstandigheid sal kan onderskei wat die regte ding is om te sê en te doen, sodat ek die regte “geur” kan gee aan almal rondom my. Maak my bruikbaar in die gemeenskap en laat my doen wat sout doen: smaak gee en bederf teëwerk in hierdie wêreld. Van U kom die wil om die goeie te doen, en dít maak my anders. Dankie dat ek nie skaam is oor my andersheid nie. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page