top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


DIE SOUT VIR DIE AARDE (1) – WAARDEVOL VIR GOD!

(Mark. 9:50; Luk. 14:34-35)


Matt. 5:13 – “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.”


Vergelyk ook Gen. 6:11-12 – “Die aarde was korrup in die oë van God, vol geweld; Hy het die aarde gesien: dit was korrup, elke mens op aarde se lewe was verrot.”


Jesus het Sy Saligsprekinge afgehandel. Hy gaan egter voort om die skare daar op die berg langs die See van Galilea, die lewensbeginsels te leer. Jesus wil veral vir hulle, wat in die samelewing uitgedruk voel, mense wat dink hulle is nikswerd nie, mense wat in die Romeine se oë minder as niks is en gevolglik minderwaardig voel, sê dat hulle vir Hóm, goud werd is. Daarom verwag Hy van hulle as geseëndes, om vir die alledaagse wêreld van hulle dag, sal gaan wys dat hulle verander het, so sal optree dat ander sal waarneem dat hulle navolgers van Jesus is.


Wat het dit met ons van vandag te doen? Álles! Die eerste sewe Saligsprekinge verwys Jesus na “hulle”, maar vanaf vers 11 verander Hy die hulle na “julle”, en dit sluit álle mense in! Ons is deel van die volgelinge van Jesus wat vir Hom, goud werd is! Om God se koninkryk hier op aarde uit te bou, is die geseënde Christen se funksie om dit in sy wêreldse omgewing te gaan toepas, ‘n funksie om die verrotting van die wêreld teen te werk. Waar ons ons ookal bevind, moet ons lewensstyl van só aard wees dat dit ‘n verskil maak, smaak gee aan ‘n smaaklose wêreld.


In Jesus se tyd was sout gekoppel aan spesifieke kwaliteite. As gevolg van die glinsterende witheid van sout, was dit as suiwer beskou. Die Romeine het selfs ‘n spreekwoord daarvan gemaak: “Daar is niks méér nuttig as son en sout (nil utilius sole et sale)”. Hulle het selfs gereken daar is niks suiwerder as sout nie, want die oorsprong daarvan was die son en see.


As Jesus dus sê: “Julle is die sout vir die aarde,” was dit ‘n voorbeeld van suiwerheid, ‘n voorbeeld van reinheid. Wat nou oorbly is om uit te vind wat Jesus daarmee bedoel het. Die vraag is hoe ons as sout bruikbaar kan wees in ‘n verrotte wêreld? “Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, al sy ingesteldheid om te besit – kom nie van die Vader nie maar uit die wêreld. En die wêreld met al sy begeertes gaan verby, maar wie die wil van God doen bly ewig lewe” (1 Joh. 2:15-17). God se Woord is die sout wat ons reinig van binne en as aardse sout, wíl ons gehoorsaam wees en die “wil van God” na buite doen.


Jesus gebruik hierdie metafoor om vir ons as Sy volgelinge, aan te dui hoe ons die verrotte “wêreld” moet beïnvloed. Hy vra nie vir ons om die sout van die aarde te wees nie en ook nie of ons bereid sal wees om sout te wees nie. Hy stel dit feitlik: “Julle IS die sout vir die aarde.” Hierdie toesegging van Jesus om vir iemand te sê jy is die sout vir die aarde, is ‘n kompliment wat daardie persoon se nuttigheid beklemtoon. Om so ‘n kompliment van Jesus af te ontvang, het ewigheidswaarde! Daarom kan ons dit nie sommer net hoor en niks daaraan doen nie. Ons moet “smaak” gee aan die “smaakloosheid” om ons. Ons moet keer dat “soutlose” lewens op die ashoop beland.


Ons leef in ‘n wêreld waar die verlaging van standaarde ‘n norm geword het – ‘n verlaging van lewenstandaarde, standaarde van eerlikheid, van ywer, pligsgetrouheid en morele standaarde. Soms blyk dit dat daar geen standaarde meer is nie. Elkeen maak sy eie standaarde wat vir hom die maklikste is om deur die lewe te gaan.


Die Christen daarenteen, is die voorbeeld van suiwerheid en reinheid. Suiwer van spraak, gedrag en selfs gedagte. Geen Christen kan sy standaarde verlaag in ‘n wêreld wat besmet is met die verloklikhede van sonde nie. Ons kan ons ongelukkig nie onttrek van hierdie wêreld nie maar ons kan wel alles in die stryd werp om ons skoon te hou van die besmetting daarvan. Ware godsdiens word deur ons optrede gesien – die dóén daarvan. Ware godsdiens is rein en onbesmet want dit word deur God bepaal, God het ons só verander. As gesin van God hou ons ons weg van wêreldgelykvormigheid en trek ander saam met ons in, om deel daarvan te word. Ons is ín die wêreld maar nie ván die wêreld nie. Ons is God se soutkinders, nie Sy stoutkinders nie. Ons is hemelse sout vir ‘n smaaklose wêreld.


“Ons kan die wêreld deurreis om die sogenaamde sout-vir-die-aarde-mense te probeer vind, maar as ons dit nie binne in onsself het nie, sal ons dit ook nêrens anders kry nie”

(Ralph Emerson).


Gebed: Here, hier kom ek maar weer na U toe – soos ontelbare kere tevore. Elke keer is U daar – U arms wyd oop om my te verwelkom. Here, my mensheid het beperkinge maar ek roem in U krag – daardie krag wat juis in werking kom wanneer ek swak is. Wanneer ek as sout vir hierdie aarde swak is, maak my asseblief bruikbaar. Ek vra dit in afhanklikheid tot U eer. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page