top of page

Gedagte vir Vandag


‘n Marmer steen in die tuin by die “Kerk van Saligsprekinge” met die 8ste Saligspreking in Latyn: "Beati qui persecutionem patiuntur propter justitiam, quoniam ipsorum est regnum cælorum"“Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

JESUS SE EERSTE TOESPRAAK : DIE BERGREDE – DIE GESEËNDES!

(Matt. 5-7)


AGSTE SALIGSPREKING (1) : NEEM BEHEER VAN ELKE DAG SAAM MET JESUS!

(Matt. 5:10-12)


Matt. 5:10 – “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”


Vergelyk ook Kol. 1:24 – “Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my deel daarvan ter wille van Sy liggaam, die kerk ...”


Jesus se Saligsprekinge is soms skokkend en moeilik om elke dag, in alle omstandighede toe te pas. Die laaste een is amper verregaande! Hoe kan “’n mens vervolg word omdat hy doen wat reg is?” Dit is moontlik dat Jesus se luisteraars verslae was daaroor. Baie van hulle was op daardie stadium juis die vervolgdes, die verstotelinge van die samelewing van die destydse wêreld. Indien die Jode in Jesus se tyd verslae was daaroor, hoeveel te meer nie ons nie? Hierdie Messias wat vrede, vooruitgang, rykdom, blydskap en eer moes meebring, verkondig nou vervolging van Sy dissipels. Dit is ‘n totale uitklophou!


Die vervolging waarna Jesus verwys is spesifiek gemik op Christene wat probeer om regverdig te lewe, “omdat hulle doen wat reg is,” Christene wat met wedergebore harte in diens van die Here staan. Dissipels wat afhanklik is van God, sagmoedig is en wat die waarheid van die evangelie suiwer verkondig. Dit is omdat die Christus wat ons volg, verwerp word, gehaat word deur die wêreld wat in konflik is met die verkondiging van die evangelie van Ewige Waarheid. Om vervolg te word vir wat reg is, is om vervolg te word vir Christus, maar “sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het” (1 Pet. 3:16b).


Jesus stel ware dissipelskap op die voorgrond. Om ‘n ware dissipel van Jesus te wees, is duur. Toe God Sy skepping van die sonde wou red, kon Hy aan geen ander manier behalwe die offer van Sy Seun vind nie (Rom. 5:8). As Christus ons voorbeeld vir bediening is, kan ons dit nie vermy om na die kruis te gaan ter wille van ander nie. As ons doel is om ander na Christus te bring, moet ons gewillig wees om soos Hy verwerping te waag. Ons Verlosser het nie toegelaat dat lyding verhoed dat Hy deur God gebruik word om hulle wat Hy liefhet, te red nie, daarom kan ons as Sy dissipels, ook nie toelaat dat die lewe ons dooddruk nie.


Wanneer ons swaarkry terwyl ons dissipels van Jesus wil wees en soms wonder of die prys wat ons daarvoor moet betaal, nie dalk te hoog is nie, is dit nodig om stil te raak en te dink, ‘n oomblik na te dink oor die prys wat God gewillig was om te betaal sodat ons gered kon word! Dan raak vervolging geseënd want ons “doen wat reg is!” Dan kan ons saam met Paulus bly wees (Kol. 1:24).


Die keuse lê by elke mens. Al wat Jesus vra is dat ons ons lewe vir Hom moet gee en elkeen kan self besluit hóé hy of sy dit gaan doen. Elkeen het ‘n keuse of hy Jesus élke dag gaan lééf – hoe jy jou huweliksmaat gaan hanteer, met jou ouers of kinders gaan kommunikeer, optree teenoor jou kollegas, onderwysers, en mense wat jou pad kruis deur die dag – of jy elke dag as ‘n beter mens of bitter mens gaan reageer.


As volgeling lééf ons dan Christus wanneer ons reg dink en wanneer ons reg doen en praat. Om dit reg te kry is dit nodig om nie sommer elke dag binne te storm nie, maar elke oggend eers ‘n paar minute by die Here deur te bring en saam met Hom jou dag te beplan. Vra dan sommer die Gees, in Jesus se Naam, dat Hy die regte woorde op jou tong laai en die geduld te skenk om reg op te tree, versigtig en in beheer te wees van jou woorde, dade en gedagtes. Jesus sal vir die res sorg. Hy sal die regte vrugte op die regte tyd voortbring. Wees Godsdienstig en leef Godvrugtig. “God het ons die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly” (Fil. 1:29). Ja, jy gaan nie foutloos optree en reageer nie, maar onthou, die bevryde Christen ervaar gedurig die heerlike getuienis van die Heilige Gees in jou gees, en Hy sal jou krag gee (Hand. 1:8).


"He has no hands but our hands to do His work today. He has no feet but our feet to lead men in His way. He has no voice but our voice to tell men how He died. He has no help but our help to lead them to His side" (William Barclay).


Gebed: Here, wanneer ek rondom my kyk, lyk die wêreld só ontsettend deurmekaar. Die wêreld gaan gebuk onder skrikwekkende en wrede misdaad en haatdraendheid. Dankie Here dat ek egter ook weet dat U Gees wat in my woon, magtiger is as die gees van die wêreld. Laat my elke oggend eers stil word by U voor ek die dag met sy uitdagings binnetree, sodat ek my opnuut kan toewy aan U, met U leiding my dag beplan. Heilige Gees, neem elke dag beheer van my tong, laai die regte woorde daarop, skenk my geduld om reg op te tree, wees in beheer van my woorde, dade en gedagtes. Dit vra ek in die mooiste Naam wat ek ken, Jesus Christus. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page