top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK : DIE BERGREDE – DIE GESEËNDES!

(Matt. 5-7)


SEWENDE SALIGSPREKING (2) : RIG ANDER SE VOETSTAPPE OOK OP DIE PAD VAN VREDE!


Matt. 5:9 – “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”


Vergelyk ook Jak. 3:17-18 – “Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.”


Vredemaak begin eerstens by onsself. Om ‘n vredemaker te wees moet ons seker wees van ons eie heiliging. Mense wat deur hulle eie oë na die wêreld kyk, sien gewoonlik net hulleself raak en daarom is dit net hulle eie behoeftes wat tel. Dan word vrede die slagoffer en word mense wat in die pad staan van hierdie begeertes, met naywer en konflik uit die pad gestoot. Sulke mense gee aan hulleself, met ‘n bose ondertong, mooi name soos: “Ek kom op vir wat reg is”; of “ek is so gemaak en so laat staan”; en “niemand trap op my nie.” Wat egter gebeur is dat innerlike vrede, onder toegedraaide watte verplaas word deur ‘n groeiende monster. Net die Gees van God kan hierdie monster keer!!


Niemand kan vrede uitstraal as hy nie eers vrede gemaak het met homself nie. Vredemaak kan net in ‘n gees van vrede geskied binne ‘n bekeerde, sagmoedige hart, iemand wat rein van hart is. Daarvoor het ons “wysheid nodig wat van Bo kom”, hemelse wysheid wat anders is as aardse wysheid. Dit kom vanuit die goeie Bron van Godheid wat anders is as ons denke en dade. “Dit is suiwer, het geen bybedoelings nie en ook geen verskuilde agendas nie. Dit is vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig en opreg.”


Vrede is meer as net die afwesigheid van konflik, dit het alles te doen met wat binne in die kern van jou menswees gebeur. Ware vrede is eers moontlik wanneer daar vrede tussen jou en jou Skepper bestaan. Job 22:21 stel dit onomwonde: “Onderwerp jou aan God, dan sal jy in vrede leef, en so sal jy voorspoed hê.” Sonde is nie net ‘n muur tussen God en ons nie, maar ook tussen ons en iemand anders. Om te dink ons het met God vrede gemaak omdat ons in Jesus Christus glo, is nie genoeg nie. Dit is nie volkome vrede nie. Wanneer ons gawes na die plek van versoening met God toe neem, en dit ons daar byval dat iemand iets teen óns het, moet óns eers die vrede gaan herstel (Matt. 5:23-24). Ongelukkig is dit ‘n feit dat ons in ‘n verskeurde wêreld leef en daarom sal dit miskien nodig wees om hierdie herstel-proses baie te herhaal.


God sê ook deur Paulus vir ons in Romeine 12:18: “As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” God se opdrag kom as ‘n riglyn na ons toe om in vrede met alle mense te lewe. God weet dat ons tussen befoeterde mense moet lewe wat nog nie afgeklim het van hulle eie troontjie nie en dit gevolglik hoegenaamd nie maklik is om in vrede te lewe nie, maar tog kom gee Hy die opdrag: - “so ver as wat dit van julle afhang...”


Elkeen wat voor Jesus die knie buig, pak die wapens van onvrede weg en plant die vlag van Sy vrede, dit is ‘n oorwinningsvlag wat reeds 2000 jaar gelede by Golgota begin wapper het. Dit beteken dat jy altyd en in alle gevalle die vredemaker moet wees. Al maak die ander persoon dit vir jou hóé moeilik om in vrede te leef, moet jy steeds die vredemaker wees. As die ander persoon uit sy of haar pad uit gaan om jou pogings tot vrede te befoeter, dan doen jý wat jy kán om vrede met hom of haar te bewerkstellig. Lukas skryf vir ons 'n mooi lied oor hierdie fisieke bevryding van die vyand: "... Soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal, om lig te bring aan dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede” (Luk. 1:78-79). Kan ons soos Jesus, ander se voetstappe ook rig op die pad van vrede?


“Ons is hier om die tuin van die wêreld nat te spuit, maar uit selfsug staan die meeste van ons, die meeste van die tyd, op die tuinslang” (Anoniem).


Gebed: Here, maak my ‘n werktuig van U vrede, laat ek myself altyd onderwerp aan U sodat ek liefde kan beoefen. Dankie vir die vrede wat U my gee, vrede van oorwinning. Die vrede wat die wêreld gee is net tydelike ontvlugting wat soms gepaard gaan met seermaak-taal. Laat my loop waar U wil hê ek moet loop. Here Gees, help my om ander se voetstappe ook te rig op die pad van vrede. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page