top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Liewe lesers, ons vertrek vandag (alweer) op ‘n kort vakansie en sal DV weer vanaf Maandag, 5 Augustus voortgaan met hierdie wonderlike voorreg om met julle die Woord van die Here te deel.


Jesusvrede vir julle tot dan !



JESUS SE EERSTE TOESPRAAK : DIE BERGREDE – DIE GESEËNDES!

(Matt. 5-7)


SESDE SALIGSPREKING (2) : DIE GEES MAAK SKOON VAN BINNE AF NA BUITENTOE!


Matt. 5:8 – “Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”


Vergelyk ook Jak. 4:8-10 – “Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.”


Ons het gister ‘n rukkie geneem om ons self te ondersoek sodat ons kon bepaal of ons nie met ons ganse menswees, die Here moet dien nie. Jakobus sluit aan by hierdie selfondersoek, en beaam dat ons in die spieël behoort te kyk en die duidelike beeld waar te neem van die haglike omstandighede waarin die wêreldsdinge ons geplaas het. Die gevolgtrekking waartoe ons behoort te kom is dat ons lewens, ons harte, ‘n “bergingsplek” geword het van al die sleg en lelik van die wêreld.


Dankie tog! Jakobus, ons Christen gelowiges van hierdie eeu is darem nie soos die meeste mense van die wêreld nie, ons is beskeie mense wat gelukkig voldoen aan hierdie Saligspreking van Jesus. Ons harte is gereinig met Sy kruisdood en Paulus sê in die Bybel ons het saam met Hom gesterf en opgestaan uit die dood. Ons is mos deur die bloed van Jesus gereinig, ons kwalifiseer dus nie aan jou gevolgtrekking nie.


Jacobus Overduin, ‘n Nederlandse Gereformeerde leraar wat tydens die Tweede Wêreldoorlog openlik geprotesteer het teen die Nazi’s se verbod van enige Christelike betrokkenheid, is as gevolg daarvan, in Dachau konsentrasiekamp opgesluit. Hy het gereken ons Christene moet nie so gou opgewonde raak dat ons wel voldoen aan hierdie Saligspreking nie. Hy beklemtoon dat Jesus nie gesê het dat dié geseënd is wat deur die bloed van Hom gereinig is nie, maar “dié geseënd is wat rein van hart is.”


Wat probeer Jesus tuisbring? Jesus verwys na die beheersentrum van ons lewe – die hart wat die kern van ons lewe is en ons lewensgang bepaal. Dit is dáár waar alles suiwer moet bly. Jesus sê self: “Die hart is die oorsprong van slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, valse getuienis, kwaadpratery. Dít is die dinge wat ‘n mens onrein maak” (Matt. 15:19-20).


Ja, ons ís verloste sondaars, ons gló ook dat ons gereinig is deur Christus se bloed, maar ons wéét ook ons lewenswyse is nie onberispelik en foutvry nie. ‘n Rein hart beteken om Christusgesentreerd te leef, en dít, kom van binne ‘n mens af. Baie mense se harte is só vol gemors geprop dat daar net ‘n piepklein plekkie vir Jesus oorbly. Sondae word Jesus uit daardie “hoekie” gehaal en ná die kerkdiens, weer teruggeplaas in die “hoekie.” Die res van die daaglikse lewensgang getuig nie van ‘n rein hart nie. Hoe kry ons die hart dan rein?


Die enigste manier hoe ons ooit vir “God sal sien”, is om ons lewe te verander tot Sy eer, en inpas by Sý wil. Die persoonlike verhouding met God moet herstel word. Die afstand wat deur opstand en afdwaling na die wêreld onstaan het, moet oorbrug word. Dit gaan dan gepaard met ‘n daadwerklike handeling: “Nader tot God; Was julle hande; Reinig julle harte; Bekla julle ellende, treur en huil; Onderwerp julle in nederigheid voor die Here; Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid.”


Ons kan dit egter nie op eie houtjie regkry nie. Met die Gees van God word ons lewenswandel bepaal en groei daar ‘n verhouding met die Almagtige – ‘n innerlike geestelike ervaring wat ‘n misterie bly! Om binne God se wil te kom, is om die Heilige Gees toe te laat om beheer oor ons te neem, onsself aan Hom onderwerp en van die sonde af wegvlug. Dit is immers “die Gees wat nuwe lewe gee” (Titus 3:5b). Vol berou moet ons voor God gaan staan, dan sal Hy ons in genade aansien, Sy hand wyd oopmaak en Sy hemelse seëninge oor ons uitstort. God wil graag vir ons ‘n rein hart gee, en Hy sál!


“Reinheid van hart is om jou hart só deur die Heilige Gees te laat inrig, dat jy God in Christus kan ken” (Soren Kierkegaard).


Gebed: Here, ek is ‘n kindjie klein, maak my hartjie rein. Help my om elke dag met oorgawe vir U te leef, toegewyd tot U alleen sodat daar nie onverdeelde aandag is nie. Maak my hart skoon van binne af na buitentoe. Rig my hart en my hele lewe tot U Woord, sodat ek U beter kan ken, “want U Woord is lewendig en kragtig. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart” (Heb. 4:12). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page