top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK : DIE BERGREDE – DIE GESEËNDES!

(Matt. 5-7)


SESDE SALIGSPREKING (1) : NET VYFTIG PERSENT OF ONVERDEELD?


Matt. 5:8 – “Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”


Ons sit steeds hier op die heuwel langs die See van Galilea en luister na Jesus se preek. Wat bedoel Hy eintlik met hierdie seënspreuk? Moet ons nét rein van hárt wees om God te kan sien? Wat van die res van my liggaam, my siel en veral my gewete? Moses het tog lank gelede vir ons gesê “die Here is ons God, ons enigste Here, en daarom moet ons Hom liefhê met hart en siel en al my krag. Ek het hierdie gebod in my gedagtes verewig en dit selfs by my kinders ingeskerp” (Deut. 6:4-6). Beteken dit dan nie dat ek met ‘n onverdeelde gehoorsaamheid, met my ganse menswees, met my álles, die Here moet dien nie?


Miskien is dit vir my nou nodig om eers hier halt te roep, ‘n bietjie selfondersoek doen en ‘n paar vrae te vra:

  • Is ek diensbaar met die motief om as dissipel te dien of om iets daaruit te kry?

  • Is ek heeltemal eerlik met my oorgawe aan Jesus, of hou ek ‘n front voor om ander te beïndruk?

  • Gaan ek kerk toe om God te behaag of om my gewete te sus?

  • Is Bybellees en gebed geskoei om saam met die Drie-Eenheid te wees, of om die gewoonte wat van kleins af in my ingedril is, voort te sit?

  • Is my geloof in Christus gevestig deur die Heilige Gees of oëverblindery aan die wêreld?

Elke gelowige behoort bogenoemde vrae te beantwoord sonder om die menslike by-motiewe van, “Ja, maar ...”, by te voeg. Op skool het ons ‘n gesegde gehad: “Leer net genoeg om te slaag. Alles wat jy meer as 50% kry, (deesdae is dit maar 30%), is ‘n bewys jy het te hard geleer en niemand gaan eendag vir jou vra, hoeveel jy vir ‘n vak gekry het nie?” Is dit nie miskien die rede waarom baie se geloof en betrokkenheid met Jesus, en hier sluit ek myself in, maar net so middelmatig is nie? Ek glo nie die Here is tevrede dat ek net sóveel doen om Hom tevrede te stel nie. Ek is bevrees, die Here verwag meer as dit. Hy verwag ek “moet Hom liefhê met my hele hart, my hele siel, my hele verstand en ál my krag” (Mark. 12:30). En dit is beslis nie net 30% of selfs 50% nie, wat eintlik beteken dat ek net ‘n halfpad-dissipel of ‘n derde-dissipel is.


Die hart is die oorsprong van ons geloof (Rom. 10:10), verbeelding (Eseg. 13:2), verstand (Job 38:36), insig (1 Kon. 3:9). Ongelukkig is die hart ook die oorsprong van slegte dinge (Matt. 15:19-20). Sedert die ontstaan van die mens is sy hart al besoedel (Gen. 6:5) en bedrieglik en onverstaanbaar: “Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan? (Jer. 17:9). Daarom fokus Jesus op die hart van die mens, fokus Hy op reinheid, heiligheid en skeiding van die bose en Hy beheer dit deur Sy Gees, ten volle, nie net 30% of 50% nie. Ons word dan deur die Gees, van binne af na buitentoe skoon gemaak, gereinig om met ‘n onverdeelde hart, die Here te dien.


“Niks minder nie as totale oorgawe aan Christus is ‘n gepaste antwoord op Golgota”

(John Flavel).


Gebed: Saam met Dawid weet ek dat U opregtheid verwag diep in my hart, my hele menswees. Soos hy smeek ek dat ek diep in my binneste sal weet hoe U wil hê ek moet lewe. Here, ek is hartseer omdat ek só maklik uit pas raak en toelaat dat wêreldsdinge, die toekoms by U op die spel plaas. Ek weet dat dit slegs tydelike genot verskaf en beslis nie deel is van U vreugdes nie. Dit loop dood in ‘n konfrontasie met die Ewige. Ek is jammer Heer, vergewe my asseblief en verander my van binne af buitentoe. Deurdrenk my lewe met U seën, sodat dit weer ‘n vreugde is om rein van hart te wees, ‘n vreugde is om U en my naaste met ‘n onverdeelde hart te dien. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page