top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Foto is geneem van bo die heuwel by die “Kerk van Saligsprekinge” na die See van Galilea links onder. Dit is volgens oorlewering moontlik die plato waar Jesus Sy Bergpreek gegee het.

JESUS SE EERSTE TOESPRAAK : DIE BERGREDE – DIE GESEËNDES!

(Matt. 5-7)


VIERDE SALIGSPREKING (3) : GOD SE GENADEBROOD BY ONS ADRES AFGELEWER!


Matt. 5:6 – “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.”


Vergelyk ook Matt. 6:33 – “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (1933 Vertaling).


Om God se geregtigheid te verkry is volkome genade. Ons kan dit nie verdien nie en ook nie koop nie. God wil wel iets in ruil hê daarvoor – ons hele lewe. Daar is ongelukkig nie plek vir eiegeregtigheid in daardie verhouding nie. In God se koninkryk gaan dit nie oor die bietjie eiegeregtigheid wat ons kan bydra nie want dan gaan dit nie net oor God se koninkryk nie, maar ons eie koninkryk. Ons behou dan die reg voor om te besluit wat reg of verkeerd is, hoeveel tyd aan God gewy word, hoeveel van ons goeie dade vir die kerk gedoen word en hoe goed ons daaroor voel. Klink dit nie soos die Fariseërs van ouds nie?


Slegte nuus, God se koninkryk word nie deur mensgemaakte reëls ingekort nie. Dit gaan nie oor ons nie maar oor die sondige tollenaar wat honger en dors na God se reg. As ons reken dit is nie meer nodig om daarna te soek nie, is ons klaar versadig.


Dié wat egter daagliks honger en dors na die reg van God, raak nooit op aarde versadig nie – dit is ‘n lewenslange gesoek na die volheid daarvan. Vandag se stukkie brood en slukkie water, gaan ons nie vol maak nie, om versadig te word is om weg te breek van ons eie maatstawwe en ons beklee met God se kleed van geregtigheid. God se kleed word nie net Sondae gedra en dan weer in die kas opgehang nie, nee, elke dag.


Ons wil graag volgens die eise van God se Woord, uit dankbaarheid vir Jesus se kruisdood, lewe. Alleen gaan ons dit nie regkry nie – “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Dit moet deel van ons lewe wees, sigbaar vir almal rondom ons. Dit is om daagliks met God se wil in te pas en reg op te tree met ons naaste. Daarvan kan ons nie genóég versadig word nie! Buitendien, Jesus het nie net gesterwe in ons plek sodat ons geregtigheid by God kon verkry nie, Hy het ook gelewe in ons plek.


Jesus het klaar ons regverdigmaking verdien, ons kan maar net saam met die tollenaar pleit dat Hy ons as sondaar genadig moet wees. Dít is soek na Sy koninkryk en terwyl ons daagliks aan’t soeke is, loop ons pad verby eiegeregtigheid en word ons versadig van God se vervulling, want ons voete is op pad na God toe. Sy stukkie genadebrood is reg by ons adres afgelewer. Ons sal versadig word daarvan!


“In God se koninkryk gaan dit nie net oor die bietjie wat ek kan bydra nie, maar oor dit wat ek is: óf volkome aan die Here toegewy óf nog steeds my eie koning” (Ds. Johan Smit).


Gebed: O Heer, ek het verlange na méér. Ek is honger vir méér as driegangmaaltye op my tafel. Ek is dorser vir méér te drinke as wat op aarde beskikbaar is. Ek honger en dors na U. Ek besit só baie, maar eintlik het ek so min, solank ek U nie het nie. Ek dink ek is só slim en praat baie, maar eintlik weet ek maar min, solank ek U nie ken nie. Ek smag na Iemand wat my deur en deur ken en my voed met die Brood van die lewe, want so sal ek versadig word met ‘n geesvervulde honger en dors na wat reg is. Maak dit my geestelike behoefte om gedurig daarna te streef. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page