top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Een van die sykante van “Die Kerk van Saligsprekinge” in Israel.

JESUS SE EERSTE TOESPRAAK : DIE BERGREDE – DIE GESEËNDES!

(Matt. 5-7)


VIERDE SALIGSPREKING (2) : GEHOORSAAM GOD SE GRONDWET!


Matt. 5:6 – “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.”


Vergelyk ook Jes. 55:1-3 – “Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk. Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is. Gee aandag en kom na My toe, luister en julle sal lewe …”


Jesus se toespraak, Sy preek daar op die heuwel, is gerig aan die skare mense wat swaarkry en armoede geken het. Brood en water was die minimum vir hulle om aan die lewe te bly. Deels daarvan was gevolglik om soms die “voedsel en drank” wat die wêreld aanbied, met albei hande aan te gryp en dit te verslind met alles wat hulle het. Die probleem is dat hulle self daarvoor moes betaal en dit wat hulle nie kon koop nie, kon hulle nie anders as om dit te begeer nie.


Die wêreld met sy aardse dinge is nie die antwoord om versadig te word nie. Mens mag gevul word met aardse dinge, maar dit is tydelike en menslike tevredenheid. Al hierdie wêreldse dinge is van verbygaande aard. Nou kom God en nooi ons uit om ons honger en dors by Hom te kom les: “Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat geen geld het nie, sonder om te betaal, kom raak versadig aan wyn en melk.” Dit wat God aanbied is sóveel beter, wyn en melk in plaas van brood en water, en dis verniet!


Ons as gelowiges in Jesus Christus het ‘n sterk behoefte om in genade geestelik te groei, om hierdie “honger en dors na wat reg is, te versadig.” Die enigste wat hierdie geseënde honger en dors kan stil, is die Heilige Gees. Die Heilige Gees wek ons dooie harte op en bring ons na Christus toe waar ons versadig kan word en ons dors geles kan word. Die Heilige Gees verander ons harte van klip en laat ons smag om te wil breek met die ongeregtigheid van die sonde wat ons slawe gemaak het en aftrek in die afgrond. Ons haat die lewe van voorheen en as nuutgemaakte mens bely ons ons afhanklikheid voor God, treur ons oor ons sondige verlede en in sagmoedigheid soek ons na Jesus se geregtigheid.


Met hierdie veranderde en nuutgemaakte harte, denke, woorde en dade, honger en dors ons na wat reg is. Dit bring mee die daaglikse toepassing van geregtigheid in ons lewens en iemand wat na hierdie geregtigheid streef:

  • “Leef soos volgelinge van Jesus Christus en is nie voortdurend daarop uit om sy sondige begeertes te bevredig nie” (Rom. 13:14).

  • Laat “sy lewe deur die Gees van God beheers word en swig nie voor die begeertes van sy sondige natuur nie” (Gal. 5:16).

  • “Kruisig sy sondige natuur met ál sy hartstogte en begeertes” (Gal. 5:24).

  • “Weet om nie te meng met slegte geselskap nie want dit bederf goeie sedes” (1 Kor. 15:33).

  • Begrawe die ou dinge “wat deel van hul lewe is soos onsedelikheid, wellus, slegte begeertes, onreinheid, gierigheid” (Kol. 3:5).

  • Is iemand “wat doen wat die Woord sê en dit nie net aanhoor nie” (Jak. 1:22).

Dit is nie genoeg om net te wens dat geregtigheid moet geskied nie, daar moet ‘n ernstige honger en dors wees wat ons lewens só affekteer om sodoende die lewens van ander ook te affekteer. Ons wil “werk vir iets wat kan versadig en eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is.” As ons luister na Hom, sal ons dan versadig raak en lewe – Jésus sê dit – “luister en julle sal lewe, geseënd en versadig.” Hy is die Verlosser “en wie van die water drink wat Jesus gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Dit sal in hom ‘n fontein wees wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee” (Joh. 4:14). Jesus sê ook “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie” (Joh. 6:35).


“The world is fading, not feeding” (Martin Lloyd-Jones).


Gebed: Here, hier staan ek voor U, moeg gespartel en gespook op my eie. Tot stilstand geruk deur my eie pogings – uiteindelik gereed om opnuut na U te luister. Help my om deur die krag van die kruis by God uit te kom, vullend en versadig van die brood wat lewe gee en die water van ewigheidswaarde waar ek nooit weer dors sal kry nie. Here, help my om U voorskrifte my eie te maak. Ek wíl dit uitvoer, ek wíl tót die einde daaraan vashou, ek wíl dit gehoorsaam, ek wíl dit met my hele hart onderhou, ek wil ander aansteek om ook hemelse burgers te word. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page