top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Die binnekant van die “Kerk van Saligsprekinge.”

JESUS SE EERSTE TOESPRAAK : DIE BERGREDE – DIE GESEËNDES!

(Matt. 5-7)


DERDE SALIGSPREKING (2) : SAGMOEDIGES IS ONDER BEHEER VAN DIE GEES SE KRAG!


Matt. 5:5 – “Geseënd is die sagmoediges,want hulle sal die nuwe aarde ontvang.”


Vergelyk ook 2 Tim. 2:24-25 – “‘n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra. Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys. Dit kan wees dat God hulle bekeer en hulle tot kennis van die waarheid bring.”


“Ek dink jy sal met my saamstem, terwyl hierdie 'Timmerman van Nasaret' praat oor sagmoedigheid, maak dit my kwaad. Kyk bietjie rond, ek is nie die enigste wat so voel nie. Hier is ‘n hele klompie ou manne wat al rooi in die gesig is van woede.” Ek fluister vir die man hier langs my op die heuwel, maar hy hoor my nie. Sy oë is vol trane. Wel, in daardie geval, praat ek maar met myself, ek dring immers aan op my eie reg.


Ek hoor wat U sê Vriend maar ek het baklei vir wat ek het. My plekkie in die son het nie verniet in my skoot geval nie. Ek meen, as ek nou sagmoedig deur die lewe gegaan het, sou ek nie daardie mooi huis gehad het nie. Ek het nie daardie nuwe aarde wat U na verwys, eintlik nodig nie. Ek het tans genoeg en ek maak buitendien nog steeds bymekaar. As ek soms nie op mense getrap het om bo uit te kom nie, sou ek nie my huidige posisie by die werk en in die samelewing beklee het nie. My Vriend, dis ‘n harde wêreld hierdie en nou wil U my kom vertel ek moet sagmoedig wees?? Hier is elke man vir homself. Jy moet kan slae vat, slae uitdeel, kul met belasting, korrup wees en saam met die stroom beweeg, anders bly jy agter - álmal doen dit. En as dit sonde is, ek het medisyne vir my sondepyne en het niemand nodig om my reg te help nie.


Maar wat my ‘n bietjie pla is dat U gesê het: “Geseënd is die ...” Die man met die “betraande oë” langs my het seker gehoor wat ek alles sê terwyl ek so self met my gepraat het. Ek meen, daar is sekerlik iemand hier naby my wat saam met my stem. In ‘n fluisterstem sê hy: “Ek kan nie, ek mag nie kwaad wees nie. My God leef en Sy Seun sê ek moet ‘n sagte hart hê – ‘n omgee hart. Want sien, eendag gaan staan daardie hardvogtige hart van jou. Jou ongenaakbare en selfsugtige gedrag het gemaak dat jou hart anders is as wat God dit wou hê. Jy het nou wel hier op aarde bo uitgekom in alles wat jy gedoen het, maar jy het jou hart verloor. Dit gaan dalk beteken jy gaan nie 'BO' uitkom nie. Dit is hulle wat BO uitkom wat die nuwe aarde ontvang! Jesus is besig om met lewende woorde aan te kondig dat God se nuwe wêreld aangebreek het. Wees net naby, dan hoor jy dit!"


God gee deur Sy wonderlike genade wat niemand van ons af kan wegneem nie. Op die nuwe aarde sal ons mede erfgename wees van Jesus. Glo dit! Vertrou dit! Dit is nie nodig om “met mag en krag” in jou doel te slaag nie want “deur die Gees” van God sal jy baie meer vermag (Sag. 4:6). “’n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie, inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en geduldig wees met moeilike mense. Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys. Miskien sal God daardie mense se harte verander, en sal hulle ook die waarheid leer ken.” Jesus het dit gedoen, Sy hele lewenshouding getuig daarvan. Hy kies vissermanne as Sy eerste dissipels en gaan begin Sy werk op die platteland tussen al die randfigure, die armes, die sondaars soos ek en jy. As die Messias, kom Hy om te dien, en nie om gedien te word nie!


Ons het deur Jesus dus ‘n nuwe karakter – ons moet sag wees, omgeemense, mense met Christusharte. Ons glo ons sal die nuwe aarde ontvang. Ons laat ons nie onderkry deur hardvogtiges nie en ons hoef nie ons lewe aan te pas om soos almal rondom ons te wil wees nie, of enigsins ons regte te wil verdedig nie. Ons doen en dink anders oor aardse dinge want ons is sagmoediges wat ons leiding van die Heilige Gees ontvang! Ons soek nie ons eie eer nie. Ons hoef nie met ander mee te ding oor status of mag of erkenning nie, ons het ‘n nuwe adres – Jesus Christus! En dít, gee my moed, gee my hoop, gee my ‘n omgeehart!


“Geen wonder nie dat Jesus die sagmoediges geseënd noem – hulle besit immers ‘n vermoë wat baie heersers hulle behoort te beny: krag, wat onder ‘n ánder Beheer is”

(Henry David Thoreau).


Gebed: Hemel Vader, ek bely dat ek ook soms baklei om bo uit te kom en in die proses trapmerke en wonde agterlaat wat in stryd is met U opdrag van naasteliefde. Skenk my die krag dat my verhouding met U en met mense my skatryk sal maak. Haal my voete van vertrapping van ander af en plaas hulle op pad na U toe, daar waar dit saak maak! Daardie pad is nie rigtingloos, koersloos of donker nie en ek kan nie verdwaal nie. Help my en skenk my die genade dat my poging om BO uit te kom, met hoofletters geskryf word. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page