top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Sagmoediges vat hande en volg Jesus se voorbeeld van sagmoedigheid om die wêreld te dien.

JESUS SE EERSTE TOESPRAAK : DIE BERGREDE – DIE GESEËNDES!

(Matt. 5-7)


DERDE SALIGSPREKING (1) : SAGMOEDIGES STAAN MET LEË HANDE IN AFHANKLIKHEID VOOR GOD!


Matt. 5:5 – “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.”


Vergelyk ook 1 Kor. 4:7 – “Wie maak jou so belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom stel jy jou so aan asof jy dit nie ontvang het nie?”


Nee wat! Hierdie preek is nie vir my nie. Dit gaan moeilik wees om sagmoedigheid toe te pas. Ek kan nie hierdie preek lééf nie! Ons is nou wel deel van hierdie skare mense wat na Jesus luister en ons kan hoor Hy praat met gesag, maar intussen dwaal ons rond soos ‘n trop skape sonder ‘n herder. Nou sê Hy ons moet nog sagmoedig ook wees! Ons het eintlik gehoop Hy gaan ons vertel hoe om van die juk van Romeinse onderdrukking ontslae te raak, en nou dít! Sagmoedigheid gaan ons nêrens bring nie. Nog ‘n ding, waar gaan hierdie nuwe aarde vandaan kom waarna Hy verwys? Ons moet baklei vir elke lappie grond om ‘n bestaan te kan maak. Jammer, maar met sagmoedigheid gaan dit nie moontlik wees nie.


Sou ons nie dalk destyds as een van die Jode daar op die heuwel, só reageer het nie? Sagmoedigheid is nie ‘n woord waarmee ons geassosieer wil word nie, veral nie in vandag se wêreld nie. Sagmoedigheid is nie juis 'n eienskap waarna ons smag in die wêreld waarin ons leef nie. Elkeen wil sy eie ding doen en gewoonlik sy staal wys, en dit gaan gepaard met hardheid en soms robuustheid. Om selfbehoud toe te pas moet mens ‘n maak-en-breek tipe wees. Sagmoediges is gewoonlik die “ja-meneer-goed-meneer” outjies wat sonder ruggraat maar elke dag na ander se pype dans.


Stop!! Dit is nie wat Jesus bedoel het nie. Sagmoediges is nie skaam en teruggetrokke nie, inteendeel, Moses was volgens Numeri 12:3 die sagmoedigste man op aarde maar hy het ‘n ysterhand gehad. Hy het slawe uit Egipte gelei sonder om bang te wees vir die magtigste Egiptiese koning van daardie tyd. Hy kon dit doen omdat hy ‘n gesindheid van afhanklikheid en vertroue teenoor God gehad het. Paulus het voor sy bekering, Christene vervolg en laat dood maak, en tog kon hy aan die gemeente in Galasië skryf: “Die vrug van die Gees is liefde … nederigheid …” (Gal. 5:22-23) wat inderwaarheid eintlik ook maar sagmoedigheid is.


Jesus sê self Hy is sagmoedig (Matt. 11:29) maar Hy het nie eers vir die duiwel gestuit nie. Hy het selfs die wreedaardigste dood aan ‘n kruis gesterf vir ander. Is dít die beeld van ‘n papbroekige sagmoedige soos ons daaraan dink? Nóóit, inteendeel, ‘n held! Die sagmoedigheid waarna Jesus verwys, het sy oorsprong by God se genade. God neem bitter mense en maak hulle beter mense. Wanneer ons lewe volkome deur die Gees van God beheers word, sal ons nooit swig voor die begeertes van ons sondige natuur nie (Gal. 5:16). Slegs die Heilige Gees kan ons aanmatigende houding deur die wedergeboorte verander, en ons na die beeld van Christus vorm – Hy is ons voorbeeld van sagmoedigheid! Dit is presies wat Jesus hier in Sy Bergpreek doen: Hy kom roep ons op tot 'n nuwe standaard, nie die standaard van die wêreld nie, maar dié van die koninkryk van God!


In God se koninkryk word ander mense nie vir sagmoediges ‘n bedreiging nie, want ons lewensgeluk hang nie van hulle af nie. Ons hoef nie behep te wees met ons “regte” nie. Ons word nie alweer “onregverdig behandel” nie. Mense trap nie op ons omdat ons sogenaamde “softies” is nie. God is aan ons kant, ons speel in Sy wenspan! Wanneer God die Kaptein van my span is, is dit nie nodig om in kompetisie met ander te wees nie. By God is ons belangrik, al is ons sagmoedig. In al hierdie dinge weet ons dat ons ‘n veilige tuiste in ons Here het. Ons kan in ons binnekamer op ons knieë gaan en vrede vind in die diep see van kalmte terwyl die storms van aardse dinge bo ons woed.


“God het nie mens geword om bloot beter skepsels van die ou soort te maak nie, Hy het ‘n totaal nuwe soort mens kom skep – skepsels wat Sy kinders is en mekaar tot seën kan wees”

(C.S. Lewis).


Gebed: Hemel Vader, ek bely vandag dat my sagmoedigheid teenoor ander die meeste getoets word wanneer die lewe vir my nie goed verloop nie – veral wanneer ek gefrustreerd, moeg of moedeloos is. Dankie dat ek weet my lewensgeluk hang nie van ander af nie maar van U by wie ek belangrik is. Here, ons bid vir hulle wie se ego's só groot is dat dit nie eers saam met hulle inpas in dieselfde vertrek nie. Maak hulle sagmoedig, sodat hulle nie dink hulle is beter as ander nie. Seën ons met nederigheid om mekaar se hande te vat, en te dien. Alles tot eer van U. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page