top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Pres. Ramaphosa ontvang ‘n Bybel vanaf hoofregter Mogoeng.

JESUS SE EERSTE TOESPRAAK : DIE BERGREDE – DIE GESEËNDES!

(Matt. 5-7)


TWEEDE SALIGSPREKING (4) : GESEËNDE TREURENDES!


Matt. 5:4 – “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.”


Teen die tyd wat Matteus sy Evangelie geskryf het (70-80 n.C.), het Paulus al klaar sy Briewe geskryf en was dit al bekend onder die Christene, dat hulle aan die ontvangkant van God se hemelse genade staan want hulle het tot die besef gekom dat daar ‘n unieke verhouding tussen God en Jesus bestaan het. Net soos in daardie tyd, besef ons as Christene des te meer, dat ons ook aan die ontvangkant van God se genade en seën is, met ander woorde, as Jesus se dissipels het ons deel aan God se spesiale goedheid.


Wanneer ons egter na die huidige toestand in die wêreld, en veral Suid-Afrika kyk, wonder baie Christene of God nog omgee oor die mens, hoekom God slegte dinge met goeie mense laat gebeur? Christene erken dat hulle dag van goeie vooruitsigte, omgekeer word die oomblik as hulle TV nuus aanskakel of ‘n koerant oopmaak. Selfs Psalm 77:7-11, word nader getrek: “As ek so in die nag lê en terugdink en peins, vra ek my af: Sal die Here vir altyd verstoot en nooit weer genade betoon nie? Het daar vir altyd ‘n einde gekom aan Sy trou? Geld Sy beloftes dan glad nie meer nie? Het God vergeet om medelye te hê? Het Hy in Sy toorn sy ontferming onttrek? My grootste smart is dat die Allerhoogste nie handel soos voorheen nie.”


Dink maar net oor gebeure die afgelope jaar. Is dit nie genoeg rede om daaroor te wonder en te treur nie? Droogte wat boere in desperate posisies plaas; diere wat oral in die veld dood lê of te swak is om te beweeg a.g.v. die droogte en te min voer, of selfs geen voer en water; dorpe sonder drinkwater; infrastruktuur van ons vervoerstelsels wat vernietig word, en is, want daar word geen of bitter min instandhouding gedoen; ESKOM; DENEL; SAUK; PRASA; S.A.L; onderwysers wat moedeloos raak want hulle sit met oorvol klasse en beperkte middele; kinders wat nie kan lees nie; misdaad wat floreer en nie behoorlik ondersoek word nie; plaasaanvalle; onbekwame mense in topposisies wat die land moet regeer; werkloosheid; moord en verkragting het mode geword; munisipaliteite wat miljarde rande verkwis sonder om vervolg te word; korrupsie; geldwassery; ‘n regering wat meer bekommerd is oor hulle eie party as oor die land!


Ag, en so kan ons aangaan om die negatiewe te beskryf en mense laat besluit om eerder uit hierdie harde en kille land te laat ontsnap. Maar, as gelowiges kan ons onthou dat God ons geroep het om hoop uit te dra, die hoop wat ons by die regte BRON ontvang. Buitendien hou Jesus nie van klakouse nie, dit is nie nodig om heeltyd uit te vaar oor al die ongeregtigheid in die land nie. ‘n Retoriese vraag: Is dit nie dalk omdat soveel mense nie meer voor die aangesig van God leef nie; omdat soveel mense nie meer afhanklik is van God se seën nie; omdat Jesus Christus nie meer ‘n faktor in soveel mense se lewens is nie, in wie se lewens Jesus selfs ‘n nul faktor geword het; omdat soveel mense glo aan selfgeregtigheid en selfgerigtheid; dat mense opgehou bid het mét danksegging, bid het vir die redding van Suid-Afrika én die wêreld? Jesus se mense daarenteen, sien die foute raak en praat met God daaroor!


Wanneer ons aan Jesus se perfekte heiligheid dink en ons eie toestand in oënskou neem, dan is ons geneig om hooploos en hulpeloos te wil treur. Ons gedagtes, woorde en werke kom nie ooreen met God se wil nie, met God se heilsplan nie. Ons sondes van versuim en begaan, vermenigvuldig daagliks en ons weet dit stem God tot ongelukkigheid. Dit is asof ons liefde tot God en ons naaste en veral ons geestelike groei, taan. God se koninkryk het plek gemaak vir ons eie lewensplanne. Om as ‘n gelowige in Jesus Christus te treur, is ‘n seën want dit lei ons om berouvol terug te keer na God toe en vas te grýp aan Jesus se kruis en daaraan te bly vasklou, vas te gryp aan Sy evangelie en God daardeur verheerlik!


Jesus het die dood vir altyd oorwin en daarom ons ook. Nie omdat ons so goed of mooi is nie, maar omdat Jesus om ons ontwil die straf vir sonde, volledig en volkome gedra het. Drie dae later het Jesus volledig uit die dood uitgestap en ons saam met Hom geneem – Sy kruis het ons gelowiges se geskiedenis van hoek tot kant herskryf. Jesus het ons sondige verlede heeltemal uitgewis. Al wat van ons sonde oorgebly het, is ons sonde se graf daar by Golgota. Elkeen wat dit glo, is deel van ‘n splinternuwe geskiedenis, ‘n geskiedenis van Jesus se opstanding. Deur Jesus se dood en opstanding, is ons posisie voor God totaal verander, en daarom kan ons daarop roem dat ons deel is van die gelukkige en geseënde treurendes! Daarom kan ons as gelukkige treurendes vir álle mense bid, selfs vir ons leiers in hoë posisies sodat “elke knie voor Hom sal buig en elke tong sal bely dat die Here God is” (Rom. 14:11).


Paulus het eeue gelede getuig van die heerlikheid wat kom: “Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie” (Rom. 8:18). Wie weet, dalk het dit nou reeds begin toe hoofregter Mogoeng vir pres. Ramaphosa ‘n Bybel oorhandig het tydens sy inhuldiging as president. Kom ons bid dat hy die Bybel sal lees en gebruik om Jesus te leer ken, en sodoende sy aanhangers én teenstanders, na God toe sal lei. “Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered kan word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Tim. 2:1-4).


“Christus is nie net ‘n goeie pad na die hemel toe nie; Hy is die enigste pad” (Karl Barth).


Gebed: Here Jesus, ek loof U dat U vir my die ewige lewe moontlik gemaak het. Ek dank U vir die feit dat U my posisie voor God verander het en dat ek nou kan lewe, al is dit nie altyd net in die lig nie, maar duisternis ook wat dreig om my te wil verswelg. Dankie Here dat U my dan vertroos met die feit dat ek “altyd moet onthou dat ek ook vir die sonde dood is maar vir God lewe, omdat ek een is met U.” Leer ons hoe om sinvol te bid en sonder ophou te bid vir almal wat gesag dra in ons land, sodat hulle met omsigtigheid, genoeg tyd vir U kan gee én dié dinge met ewigheidswaarde. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page