top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Op een van die tuinpaadjies by die “Kerk van Saligsprekinge” op die heuwel by die See van Galilea.

JESUS SE EERSTE TOESPRAAK : DIE BERGREDE – DIE GESEËNDES!

(Matt. 5-7)


TWEEDE SALIGSPREKING (2) : LOS JOU SONDE BY GOD!


Matt. 5:4 – “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.”


Vergelyk ook Ps. 32:1-2 – “Dit gaan goed met die mens wie se oortredings nie gestraf word nie, wie se sonde vergewe word. Dit gaan goed met die mens vir wie die Here die oortreding nie toereken nie en in wie se gees daar geen valsheid is nie.”


“Geseënd” is ’n uitroep wat veral dui op die blydskap en geluk van iemand wat vrede met God het (Ps. 32:1-2). Dit is ’n toesegging van heil en seën aan mense wat ’n bepaalde gesindheid openbaar. Hierdie uitspraak impliseer dat Jesus die gesag het om sy hoorders se toestand ingrypend te kan verander, maar dan is dit ook ’n vreemde, andersoortige geluk wat haaks staan op ons gebruiklike opvattings van wat mense gelukkig maak.


Waaroor treur ons? Wat maak ons ongelukkig? Daar is weliswaar ‘n magdom dinge wat onmiddellik my gedagte binnedring terwyl ek hier skryf en ek glo u ondervind dieselfde gewaarwording terwyl u hier lees. Daar is baie mense wat trane stort met hul oë, maar nie met hul harte nie. Daar is menigtes wat treur oor die gevolge van hul sondes maar wat nie ‘n duit omgee wat God daaroor dink nie. (Laat dit tog nie een van ons wees nie.) Laat ons treur en uit afhanklikheid soek na God se vertroosting want sonde is ‘n verbreking van ‘n liefdesverhouding met God en daaroor mag en kan ons huil.


Elke mens treur ook nie dieselfde nie. Is die oorsaak van die meeste ellendes nie tog maar die sonde nie – die sonde wat ons opvreet terwyl ons dit maar net by God moet los – voor dit te laat is? Die probleem van sonde is dat ons so gewoond raak daaraan dat ons nie eers meer agterkom dat ons sondig nie. Dit neem selfs die skande daarvan weg en ‘n maklike “maar-almal-doen-dit-dan” sindroom word deel van ons gelowiges se lewensbestaan. Is dít nie iets om oor te treur nie?


Ja, soms word ons woedend daaroor. Bitterheid neem oor en ons wend selfs ‘n poging aan om blaam te verskuif van die oorsaak daarvan. John Stott het gesê dat die sonde en die kind van God, onversoenbaar is. Hulle sal dikwels ontmoet maar kan nooit in harmonie saamleef nie. Is dit nie maar beter om positief oor ons ellendes te reageer nie en dit aan God oorlaat om ons te vertroos nie? Iemand het eendag gesê: “Die kerk is nie ‘n museum vir die heiliges nie, dit is ‘n hospitaal vir sondaars.” Daarom kan ons met vrymoedigheid ons hartseer en sondes na God toe neem.


Het jy al getreur oor jou sondes? Het jy al soos die sondige vrou van Lukas 7:37 só gehuil oor jou sonde dat jou trane op Jesus se voete val? Was jy al bedroef soos die tollenaar van Lukas 18:13 en by God gepleit dat Hy jou as sondaar, genadig moet wees? Het jy al op ‘n plek in jou lewe gekom waar jy voel jy soos die verlore seun van Lukas 14:19 nie werd is om mens te wees nie? Of dalk soos Petrus wat bitterlik gehuil het omdat hy Jesus verloën het? (Matteus 26:75).


Indien jou antwoorde op bogenoemde vrae positief is, sê Dawid dan in Psalm 30:6 dat dit gisteraand se trane was. Vandag kan jy weer lag. Jesus is dié rede daarvoor. Ons is nie geseënd omdat ons hartseer is nie, ons is geseënd omdat ons hartseer ons by die Gees van God, ons Trooster, uitgebring het!!! Ons het soos die verlore seun vertroosting in God se omhelsing gevind. Hy het ons kom toevou met Jesus se kruisliefde! Daarom is dit ons eie keuse of ons gelukkig (geseënd) wil wees om ons hartseer na God toe te bring of eerder ons vertroosting by iemand of iets anders of op ‘n ander plek te gaan soek.


“Geseënd is dié wat treur ...” Ons besef natuurlik dat wanneer ons ons sondes bely, die hartseer en pyn daaroor nie eensklaps verdwyn nie. Maar omdat ons afhanklik van God is, het ons immers ons sonde wat ons laat treur, by die regte adres afgelaai. Nou kan ons weer vreugde vind want ons sondebelydenis beteken ‘n nuwe lewe. Dít is nie wat ek sê nie, Johannes sê: “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig. Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” (1 Joh. 1:9).


“God gebruik gebroke dinge. Die grond moet gebreek word om ‘n oes op te lewer; gebroke wolke laat dit reën; gebroke graan voorsien ons van brood; gebroke brood by die nagmaal gee vir ons krag; dit was die gebroke Petrus wat bitterlik geween het, wat tot groter krag as ooit verhef is; waar bevind jy jou met jou gebrokenheid?” (Vince Harver).


Gebed: Dankie Here dat ek hartseer kan word oor my sonde. Dankie dat ek dit by die kruis by U voete kan neersit en dit daar kan los. Dankie dat ek nie soos hooploses en Godloses hoef te treur nie want ek word deur U Gees gelei in die waarheid. Dankie dat U my met U allesomvattende en allesdeurdringende liefde vertroos. Dankie Here, dat U my as ellendige mens, van hierdie doodsbestaan verlos. Here, soos Dawid wil ek my sondes bely, my oortredinge nie wegsteek nie en wéét dat U my die pad sal wys wat ek moet volg. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page