top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Die huidige agthoekige “Kerk van Saligsprekinge” – 8 hoeke = 8 Saligsprekinge. Die heuwel word tans Berg Nahum genoem.

JESUS SE EERSTE TOESPRAAK : DIE BERGREDE – DIE GESEËNDES!

(Matt. 5-7)


TWEEDE SALIGSPREKING (1) : VERTROOSTING VIR ELKE GEBROKENE!


Matt. 5:4 – “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.”


Vergelyk ook Ps. 34:19 – "Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.”


Ons raak nou heerlik gemaklik hier teen die heuwel terwyl Jesus preek. Laat ons net so bietjie nader gaan want ons kon netnou nie baie mooi hoor nie. Wag, nou moet ons mooi luister, eers regskuif, gemaklik wees, mooi regop sit sodat ons goed kan luister. Het die Man van Nasaret gesê: “Geseënd is dié wat treur? Hoe nou? ‘n Geseënde treurende – dit pas mos nie bymekaar nie. Of, kyk hierdie Jesus dalk déúr ons? Sien Hy dalk die pyn dwarsdeur ons klere? Weet Hy waar die pyn vandaan kom wat ons laat treur? Dit klink vir mý of hierdie Jesus aanneem dat ons almal eenvoudig een of ander tyd gaan treur en na watter soort treur verwys Hy?


Jesus praat met my, met ons. Hoe weet Hy spesifiek van my probleem tussen al hierdie mense? Ja, ek kwalifiseer as ‘n treurende en is deel van baie treurendes. Ons is oral te sien. Die skouers krom getrek, glimlagte wat van gesigte af verdwyn het en die mondhoeke skeefgetrek, afwaarts. Sondae sien ons hulle die kerk inkom, gewone mense wat gelowig is. Elkeen met sy of haar eie verhaal of storie. Solank niemand, veral in die kerk, weet van my stories nie. Dit is te treurig, te sondig. Ek moet my front behou, ‘n glimlag probeer aanplak.


Om te treur is immers ‘n alledaagse moontlikheid, maak nie saak wie jy is nie. Dalk verwys Jesus eerstens na treurendes wat dood en verlies in hulle lewens ervaar het. Dit is immers deel van ons almal se lewens – ‘n geliefde wat sterf; ‘n geliefde word gediagnoseer met ‘n terminale siekte; ek verloor my werk; die onregverdigheid van mense, veral politici wat in hoër en beter poste aangestel word ten spyte van korrupte en swak bestuur; my kind se beste maatjie wil nie meer met haar speel nie; ‘n tiener wie se selfoon weggeneem is omdat sy swak presteer op skool – die lys van redes om te treur sal bladsye vul!


Ons hou nie van pyn en van hartseer en van treur nie. Ons wil lyding en hartseer en pyn soveel ons kan, liewer heeltemal vermy. Ons wil nie deur die vallei van die doodskaduwee loop soos Dawid in Psalm 23 sê nie, ons wil so vinnig as moontlik daardeur “sprint.” Ons wil so vinnig as moontlik oor alles wat hartseer veroorsaak hardloop sodat ons net weer kan aangaan met ons lewens. Ons wil nie, of hou nie daarvan om met diegene wat treur, te identifiseer nie. Niemand hoef te weet van my droefheid wat ek in my ronddra nie, mense sal buitendien net daaroor skinder.


Buitendien, Jesus hou ook nie daarvan dat ons heeltyd moet loop en treur nie. Jesus se mense is positief al lyk dit of ongeregtigheid seëvier. Ons weet mos God is in beheer en Hy sal reg laat geskied. “Hy sal die arme red wat om hulp roep, die verdrukte en dié wat geen helper het nie; hy sal hom oor die swakke en die behoeftige ontferm, die lewens van die arm mense beskerm. Hy sal hulle van onderdrukking en geweld bevry; hulle lewens sal kosbaar wees in sy oë” (Ps. 72:12-14). Jesus se mense sien die wêreld se nood raak en praat met God daaroor. Hulle kla nie net en vind fout met alles nie, hulle bid om Sy ingryping, Sy hulp en Sy hemelse bystand. Hulle sien nie net ander se nood raak nie, maar help ook met uitgestrekte arms en hande waar hulle kan.


Maar wát sê U Jesus? “Hulle sal vertroos word.” Ja, werklik, dit is waar, God wéét. Hy ken my stories. Hy ken my pyn, my hartseer, my álles. God weet wat om met my pyn te maak! Jesus sê ek “SAL” vertroos word. Dit beteken dat ek nie myself hoef te troos nie en maar my eie trane moet afvee nie, ek sal vertroos word deur God. Hy is saam met mý in my treur en my trane, “Hy is naby elke gebrokene.” “Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur” (Jes. 61:1).


“Preek vir dié wat ly en jy sal nooit ‘n leë kerk hê nie. Daar is ‘n gebroke hart in elke bank” (Parker).


Gebed: Onse Vader, U ken my deur en deur. U ken my sit en my opstaan. U ken my daaglikse kom en gaan. Ek het soms hierdie aangeplakte vriendelike houding en gesig. Maar dankie Here dat U egter van beter weet en elke treurende oomblik vasvang in U vertroostende hande en weet wat om met my pyn te maak. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page