top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Die huidige “Kerk van Saligsprekinge” bo op die heuwel langs die See van Galilea

JESUS SE EERSTE TOESPRAAK : DIE BERGREDE – DIE GESEËNDES!

(Matt. 5-7)


EERSTE SALIGSPREKING : ALMAL IS AFHANKLIK VAN GOD (2)


Matt. 5:3 – “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”


Vergelyk ook Jak. 4:10 – “Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.”


Om van God afhanklik te wees, klink reg om te sê, dit lê so lekker op die tong. Dit beteken ons kan nie sonder God nie, ons het Hom nodig. Ons sal dus nie toelaat dat ander bronne, wysheid, en gawes ons verhoed om op Hom te vertrou wat ons 'n oorvloedige lewe kan gee, en boonop 'n plek in Sy koninkryk belowe nie!


Maar bedoel ons dit? Dink ons nie dalk aan die dinge wat ons benodig om ons daaglikse bestaan só te maak dat ons kop bo water kan hou nie. C.S. Lewis het gesê: “Mense dink aan God soos ‘n vlieënier aan ‘n valskerm dink. Sonder die valskerm sal hy nie gaan vlieg nie, maar Hy hoop nie hy kry dit nodig nie.”


Dan word afhanklikheid van God meestal ‘n toevallige nooddiens en nié ‘n daaglikse leefwyse nie. Dit gaan dan oor God as ‘n noodhulp van lewensmiddele en lewensnood. Dan stuur ons emosies ons weer vir ‘n slag kerk toe net om darem weer die “batterye gelaai” te kry en vir die dominee te wys ons is nog lidmate van die betrokke kerk. Die gevaar is natuurlik dat ons eintlik verlei word om te dink dat in elke vlaag emosie daar reddende genade en krag is.


Afhanklikheid van God is deel daarvan om beter te voel wanneer ons die kerk uitstap as toe ons dit binne gestap het. Ons gedagtes is gereinig deur die musiek en aanbidding saam met medegelowiges. Ons stem saam met die heilige waarhede van die evangelie soos dit deur die leraar gelees en uitgespreek is. Ons soek God se lof as diens ná die erediens. Ons soek God se lof as lewe in die gebed ná die kerkgebede. Ons soek God se lof as lied in praktyk ná die lied in die kerk. Ons soek God in ons alledaagse bestaan. Dit is dáár waar ons Hom sal vind!


Om van God afhanklik te wees is ‘n lewenshouding – hoe ons dink, praat, optree en doen. Dit is om af te klim van ons privaat koninkrykstroontjies van hoogmoed na totale afhanklikheid van God. Daardie selfgemaakte troon lei soms tot selfaanbidding ook. Daar is nie plek vir iemand anders op ons troon nie en as dit gaan soos met die ryk man van Lukas 12:16-21, ook nie vir God nie! Wel, ons ken die einde van Lukas se ryk man – hy het brandarm gesterf. Arm vir ewig!


Ons weet dat God die stramste knieë kan buig. Niks is vir Hom onmoontlik nie en wanneer ons juis ons afhanklikheid aan Hom toon, verander Hy die onmoontlike na moontlik! Laat ons lewensvoorneme wees om “ryk” aan afhanklikheid vir God se wil te word. Sondige gewoontetjies is soos om op ‘n afdraande van ‘n heuwel te stap. Elke tree verder afwaarts maak dit moeiliker om terug te draai sodat die kruin weer bereik kan word. Om ‘n onafhanklike lewenswyse weg van God af te probeer handhaaf, is ‘n gevaarlike eksperiment, draai betyds om en wees deel van God se dinamiese heerskappy, wees bereid om in afhanklikheid voor God te buig!


“Totdat die mens niks is nie, kan God niks met hom doen nie.” (Martin Luther).


Gebed: Here, ek spandeer soveel aandag aan onbelangrike dinge dat ek feitlik heeltemal vergeet wat regtig belangrik is. Ek raak die pad skoon byster met ál my aardse belange. Ek raadpleeg eerder boeke en mense en ja, soms die Bybel ook vir antwoorde om mý manier van lewe te verstaan. Maar om net die Bybel te lees of sommer net weer kerk toe te gaan omdat ek móét en nie eintlik wil nie, beteken nie noodwendig dat ek U raadpleeg nie. Help my om al my emosies en gedagtes op U te rig en na U te luister – Here, om werklik afhanklik van U te wees, want ek het behoefte aan U. Stroop my siel van alles wat onrein en sleg is, van hebsug, jaloesie en selfaanbidding. Help my om in nederige afhanklikheid só te leef, dat U alleen geëer word. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page