top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE ROEPING VAN DIE EERSTE DISSIPELS (2) – DIE ROEPSTEM VAN JESUS!

(Mark. 1:16-20, Luk. 5:1-11)


Matt. 4:19 – “Jesus sê toe vir hulle: ‘Kom hier! Kom saam met My …”


Jesus se eerste handeling in Sy openbare lewe is die roeping van twee stelle broers om Hom te volg en vissers van mense te word. Hierdie vier dissipels word as tipies van die hele groep dissipels voorgehou, selfs dissipels wat vandag dikwels aanpassings op gebiede waarmee jy nooit in die verlede rekening gehou het nie, moet maak. Deur die eeue kon ons gelowige dissipels met enige van Jesus se eerste dissipels identifiseer. “Kom hier! Kom saam met My.” Dan volg die belofte dat hulle “vissers van mense” sou gemaak word. Jesus voer geen vooraf onderhoude nie, vra nie eers vir getuigskrifte nie. Sy woord in hulle ore word ’n onweerstaanbare mag wat hulle hele lewe vir altyd verander.


Wanneer Jesus ’n mens roep, dan is dit gewoonlik ’n groot ingrypende selfondersoek en dikwels selfs traumaties. Sy roeping is nie ‘n tydelike kuiertjie of vakansie êrens nie, dit is ‘n permanente, en een van die belangrikste besluite wat jy ooit in jou lewe sal moet neem. Dissipelskap eis radikale en onvoorwaardelike gehoorsaamheid, al kos dit wat! Dit is ‘n besluit wat voortaan alleen één weg beteken: om voltyds in Jesus se teenwoordigheid en diens te wees en besef dat die Christelike pelgrimsreis, nie altyd maklik is nie.


Die roepstem van Jesus het deur al die eeue nog nie verander nie. Hy nooi nog steeds: “Volg My!” Vandag beteken dit nie noodwendig dat ons ons werk, woning en familie sal moet verlaat soos die dissipels van destyds nie. Dit impliseer ‘n innerlike oorgawe van ons hele lewe aan Christus, daarom is dit nodig om berou te hê oor ons sonde en tot Christus bekeer – bekering en berou gaan onlosmaaklik saam. Jesus het vir ons ook werk in Sy koninkryk maar die aanpassing wat ons hier moet maak, is om die eie-ek van die troon van my eie koninkryk af te haal. Om Christus te volg beteken om Hom besitreg van my lewe te gee – Hy word dan die Koning van my besluite en standpunte.


Wanneer Jesus ons roep om Hom te volg, beteken dit ‘n dinamiese oorgawe aan Hom. En dikwels is dit menslik om uiteenlopende vrae te hê: “Is ek bekwaam genoeg om vir Jesus te werk? Sal ek oor die nodige kennis beskik om van Hom te getuig? Watter aanpassings sal ek moet maak om ‘n dissipel te wees?” En dan begin die verskonings: “Ek het nie tyd nie; ek kan nie voor mense hardop bid nie; my omstandighede laat dit nie toe nie; dit pas nie in by my toekomsplanne nie; my geloof is nie sterk genoeg nie want Jesus se planne, Sy metodes en denke is teenstrydig met myne; my ou bootjie is te klein op hierdie groot oseaan van Jesus se versoek!” Jesus se opdrag is eenvoudig: “Volg My! Ek sal jou lewe aanpas. Jy sal nie bly waar jy is as jy saam met My gaan nie. Wees net gewillig, Ek sal jou bekwaam maak. Glo net en vertrou My!”


Wanneer Jesus ons roep, sien Hy nie net wie ons werklik is nie, maar Hy sien ook wat ons kan wees. Hy sien nie net die werklike nie maar ook die moontlike. In Petrus byvoorbeeld, het Hy nie net die Galilese visserman gesien nie maar ook die rots op wie die kerk gebou sou word. Jesus se uitnodiging is aan almal: “Kom saam, gee jouself as ‘n lewende offer aan my (Rom. 12:1), en ek sal jou verander in wie jy graag wil wees.” Iemand het eendag vir Michelangelo gevra wat hy met ‘n stuk marmerklip doen terwyl hy met ‘n hamer en beitel daaraan kap. Sy antwoord was dat hy die verskuilde engel wat daarin vasgevang is, wil verlos. Jesus is die een wat die verskuilde verlorene kan verlos om ‘n regmatige plek in Sy Koninkryk te vind. Hy wat jou geroep het om Hom te volg, is getrou. Hy sal jou lei tot aan die einde van die pad – tot by die Vaderhuis.


“Die diepste waarheid van die Christelike geloof is dat Jesus my gevind het. Het Hy jou al gevind?” (William Temple).


Gebed: Here, gee aan my die woorde, die moed en die toewyding om van U te getuig. Maak my gewillig om die lewensveranderde boodskap van die kruis, aan ander met vrymoedigheid en vertroue oor te dra. Laat my saam met Paulus my “voorneem om met hulle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die Gekruisigde” (1 Kor. 2:2). Heilige Gees, dankie dat U my alles gee wat ek nodig het om hierdie pad te bewandel en wanneer ek verdwaal op die pad van versoekinge, wees my Leidsman en Gids, lei my terug na die Vaderhuis. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page