top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE ROEPING VAN DIE EERSTE DISSIPELS (1) – ONVOORWAARDELIKE VOLGELING VAN JESUS!

(Mark. 1:16-20, Luk. 5:1-11)


Matt. 4:18-22 – “Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy twee broers: Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas. Hulle was besig om ‘n werpnet in die see uit te gooi, want hulle was vissers van beroep. Hy sê toe vir hulle: ‘Kom hier! Kom saam met My, en ek sal julle vissers van mense maak.’ Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg. Toe Hy daarvandaan verder gaan, sien Hy twee ander broers: Jakobus ‘n seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was in ‘n skuit saam met hulle pa besig om hulle nette reg te maak. Jesus het hulle geroep, en hulle het dadelik die skuit en hulle pa verlaat en vir Jesus gevolg.”


Die See van Galilea is die grootste varswater-meer in Israel. In die Bybel staan dit ook bekend as die Genesaretmeer, See van Tiberias, Kinneret-meer (Hebreeus vir ‘n harp is kinnor en die meer is harpvormig). Die algemeenste naam is egter die See van Galilea, vernoem na die streek net wes van die See. Die See is in die skeurvallei van die Jordaanrivier geleë ongeveer 100 km noord van Jerusalem en is omring deur bergreekse. Die See is ongeveer 22 km lank en 12 km op sy breedste en is 210 m onder seevlak geleë. Op sy diepste is dit ongeveer 60 meter.


Gedurende Jesus se aardse tyd was daar nege klein dorpies al langs die kus van die see – Kapernaum, Betsaida, Magdala, Tiberias, Gorasin ens. Die invloei kom van die Jordaan-rivier wat sy oorsprong by Berg Hermon het. Die uitvloei uit die See is ook deur die Jordaan-rivier om ongeveer 105 km verder in die Dooie See te loop. Daar is baie vis in die See en visvang was ’n belangrike industrie. Hierdie relatief klein stukkie water wat meer na ‘n hedendaagse dam lyk, het ‘n baie belangrike rol in die bediening van Jesus gespeel. Dit is hier waar Jesus sy eerste dissipels roep – “Kom hier! Kom saam met My, en ek sal julle vissers van mense maak.” Twee stelle broers, Simon (Petrus) en Andreas, Jakobus en Johannes los alles net so en volg Jesus.


Die roeping geskied in hierdie geval nie as uitnodiging nie, maar meer as ‘n opdrag. Die veronderstelling is dat hulle Jesus voortaan soos leerlinge moes volg en deur Sy onderrig en voorbeeld sou hulle “vissers van mense” word. In die Ou Testament (Jer. 16:16; Eseg. 47:10) en veral later in die Jodedom het die uitdrukking “vissers van mense”, eintlik die ongunstige betekenis van “onheilbewerkers”, maar Jesus gee daaraan ’n nuwe en ’n heerlike betekenis om die latere ampswerk van Sy dissipels aan te dui.


Die tweede broerpaar, Jakobus en Johannes was besig om die nette te herstel na gedane arbeid. Toe hulle die besondere roepstem van Jesus hoor, was hulle bereid om hul kinderplig teenoor hul vader, Sebedeus, daaraan ondergeskik te stel. Die beslissing is geneem, ’n nuwe lewe, die ware lewe, het vir hulle begin. Hulle het by Jesus aangesluit om as Sy leerlinge Hom, die uitnemende Leermeester, te volg. Uit die “mensesee” sou hulle siele vang vir die koninkryk van God.


Matteus beskryf hier vir ons hoe twee broerspare die sekuriteit van ‘n vaste werk, familie en vriende, net so laat staan om Jesus te volg. Sonder om eers ‘n vraag te vra maak hulle ‘n radikale breuk met hulle vroeëre lewe. Ons sien ook dat Jesus niemand gesmeek het om Hom te volg nie, net geroep, opdrag gegee het. Hoe is dit moontlik dat hierdie vier mense so maklik vir Jesus gevolg het as hulle nie eers geweet het wie Hy was nie? Andréas en moontlik Johannes was darem teenwoordig toe Johannes die Doper na Jesus gewys en gesê het: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh. 1:35), en Andreas wat later vir Petrus vertel het dat hulle die Messias gevind het (Joh. 1:41). Wat dalk hier gebeur het, was dat daar soveel gesag in Jesus se stem en optrede was en die Heilige Gees reeds in hulle harte gewerk het, sodat hulle kon aanvoel, hierdie Man is ‘n merkwaardige persoon!


Vandag ken ons die verhaal, ons weet wie Jesus is en hopelik kén ons Hom (daar is ‘n daadwerklike verskil tussen weet en ken), maar sou ons destyds so sonder teëstribbeling op Sy uitnodiging, Sy opdrag gereageer het? Sou ons nie eers wou onderhandel nie: vir hoe lank moet ons saamgaan; waarheen gaan ons; wat is die salaris, moontlike byvoordele soos medies, ‘n dertiende tjek; gaan ons weer terugkeer na ons familiebesigheid want pa is al oud, hy kan nie meer die visvang-besigheid alleen doen nie, ons moet help om kos op die tafel te sit? Gelukkig het Jesus darem gesê “Hy sal ons vissers van mense maak” en van visvang weet ons, dis mos ons besigheid! Die gedeelte “vissers van mense” verstaan ons nie so lekker nie maar hierdie Jesus sal seker nog verduidelik wat dit beteken!


Wat ‘n wonderlike uitnodiging! Hier het ons die simbool van God se inisiatief! Dit is altyd Hy wat die eerste stap neem. Dit is God wat mense tot aksie laat oorgaan! Wanneer ons huiwerend in ons gedagtes en ons harte begin soek, is God daar om ons te ontmoet. God los nie iemand om te soek en dan ten einde laaste na Hom te gaan nie, Hy nooi ons uit – “kom saam met My.” Hy maak van ons wat ons nie is nie en skenk wat ons nie het nie! Om Jesus te volg, word ons aangeraak deur die Heilige Gees wie ons geestesoog open om die openbaring van God se liefde te “sien.” Wanneer Jesus roep vra dit irrasionele gehoorsaamheid sonder enige voorwaardes en eise. Dit gebeur omdat liefde uit dankbaarheid jou dring!


“Dit is nie nodig om God te gaan soek nie, Hy het ons reeds gevind. Hy kruip nie weg of hou ons op ‘n afstand dop nie, Hy neem die inisiatief om ons op ons pad te ontmoet” (Augustine).


Gebed: Jesus, ek het ook al gevra: Wat soek ek? Wat wil ek graag uit die lewe hê? Wat is my doel en verwagtinge van die lewe? Dan het die wêreldsdinge my antwoorde gevorm. Getroud met kinders, sekuriteit, ‘n goeie betrekking met genoeg geld, materialistiese besittings, persoonlike ambisies wat die beste uit die lewe kan uithaal. Natuurlik is dit nie verkeerd nie want U het ons geseën met ambisie. Maar Here, dit is doelwitte wat nie ewigheidswaarde het nie. Sonder U is daar geen veilige sekuriteit in hierdie veranderende wêreld nie. Skenk my U vrede en laat ek U uitnodiging om saam met U te gaan, onvoorwaardelik in ‘n lewe van geloof volg. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page