top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


“Murasies van Kapernaum en die Sinagoge in die agtergrond”

DIE EERSTE OPTREDE VAN JESUS (1) – DIE LIG HET OPGEGAAN!

(Mark. 1:14-15; Luk 4:14-15)


Matt. 4:12-16 – “Toe Jesus hoor dat Herodus vir Johannes in die tronk laat opsluit het, het Hy na Galilea toe gegaan. Hy het nie in Nasaret gaan bly nie, maar Hom gaan vestig in Kapernaum by die see, in die gebied van Sebulon en Naftali. So moes vervul word wat deur die profeet Jesaja gesê is: ‘Jy, gebied van Sebulon en gebied van Naftali, aan die seekant en oorkant die Jordaan, Galilea waar die heidene woon! Die volk wat in duisternis woon, het ‘n groot lig gesien; hulle wat in die skemerland van die dood lewe, vir hulle het die lig opgegaan.”


Nadat Jesus deur die doop, die neerdaling van die Heilige Gees op Hom, en die oorwinning oor die versoekings van satan, volkome voorberei en toegerus is vir sy Messiaanse taak, begin Hy met Sy openbare optrede, volgens Matteus, in Kapernaum. Dit is opmerklik dat Hy nie Johannes die Doper eers in die tronk gaan besoek of die redes vir sy opsluiting probeer uitvind nie. Dit was egter vir Matteus nie op daardie stadium belangrik om te verduidelik waarom Jesus Hom nie hiermee bemoei nie, maar wel dat Jesus eintlik “oorneem” by die Doper en voortgaan met preek. Jesus wil op Sy eie wyse en tyd Sy volgelinge tot die volle insig lei dat Hy die Christus is, en wel nie die aardse Koning in heerlikheid wat hulle verwag nie, maar die lydende Kneg van die Here wat deur God gestuur is.


Matteus se aanhaling uit Jesaja 8 verwys na Jesaja se voorspelling dat die hele Suidryk (Israel) se toekoms in volslae donkerte sal verkeer nadat hulle deur die geweld van daardie tyd se wêreldmag, Assirië getref is. Die Noordryk (Juda) was reeds onder Assiriese beheer en hulle het inderdaad in duisternis geleef. Die gebiede Sebulon en Naftali het die ergste deurgeloop, maar God kan duisternis in lig verander. Matteus sluit by hierdie verwagting van die volk aan deur vir hulle te wys dat God juis Sy beloftes in Jesaja se profesie, nou waar gemaak het. Dieselfde mense wat in volslae duisternis leef, word uitgenooi om verby die donker te kyk en God se heerlike toekoms saam met Jesus Christus, die Messias, tegemoet te gaan, ‘n nuwe begin te maak. Met die koms van Jesus, het vir “hulle wat in die duisternis woon, in die skemerland van die dood lewe, ‘n lig opgegaan.” (As hulle die uitnodiging maar net aangeneem het. Ons weet egter vandag dat die Jode dit verwerp het.)


Kapernaum was ’n belangrike vissershawe aan die noordwestelike oewer van die See van Galilea. Matteus beklemtoon dat Kapernaum naby en “in die (vroeëre) gebied van Sebulon en Naftali” geleë is, omdat hy opnuut wil onderstreep dat hierdie geografiese besonderhede ’n vervulling is van die profesieë van Jesaja 8:23-9:1. Juis in hierdie veragtelike Noordelike gebied wat bekend staan as “Galilea waar die heidene woon, het die lig opgegaan” in Jesus. Dit was tradisioneel nie-Joodse gebied maar daar het in Jesus se aardse tyd, baie Jode gewoon. Hierdie vervulling van die profesie is dit duidelik dat die verlossing nie vir Jode alleen is nie, maar ook vir die heidene.


Wat probeer Matteus vir ons met hierdie stukkie geskiedenis tuisbring? Op ‘n subtiele manier “veroordeel” hy eintlik die Judeërs (Jode) in die Suide. Jesus verlaat Joodse gebied en begin Sy bediening in die nie-Jode, die Galileërs se gebied wat deur die Jode as veragtelik en eenvoudig beskou is. Die Judeërs het geglo dat God in die tempel in Jerusalem is en almal wat ver van Jerusalem af woon, was dus ver van God af en daarom is hulle heidene. (Asof God beperk kan word tot ‘n spesifieke geografiese plek of grense, God is oral en alomteenwoordig!) Jesus gaan nie terug na Sy ouerhuis in Nasaret om, soos die gebruik was, as oudste seun die familiebesigheid voort te sit nie. Hy gaan begin in Kapernaum om ‘n nuwe “familie” bymekaar te maak. Daar in Galilea, gaan maak Jesus hom tuis tussen die agterlikes en die eenvoudiges!


Die huidige Kapernaum is omtrent net murasies maar Jesus se optrede daar is in die Bybel vir ons verewig. Dit is nie maar net woorde op papier nie, dit is die blywende invloed van die lewende Messias wat vir ons voorgestel word deur God se lewende Woord. Volgens ‘n legende het ‘n man verdwaal en in ‘n gat met dryfsand beland. Confucius het verbygekom en die man gesien en gesê: “Dit is logies dat ‘n mens van hierdie soort plekke moet wegbly.” Boeddha het verbygekom en gesê: “Laat jou ellende ‘n les wees vir die res van die mensdom.” Mohammed het aan die sinkende man gesê: “Dit is die wil van God.” Jesus het nie verbygegaan nie, Hy het daar aangekom en gesê: “Vat My hand, Ek sal jou red!” Wanneer Jesus opdaag, is daar hoop vir ons (ook vir Suid-Afrika.) Ons mag Hom nie laat gaan nie, Hy moet by ons bly. Is jy gereed om met jou stukkende murasie verlede en jou donker lewe wat al hoe dieper in die dryfsand van sonde ingesluk word, om Jesus se hand te vat?


“Onthou sondaar, dit is nie jou houvas op Christus wat jou red nie – dit is Christus wat jou red” (Charles Spurgeon).


Gebed: Jesus Christus, hier is my hand, raak my met U genade aan, want deur U alleen is verlossing en bevryding moontlik. Vat my stukkende sondaarlewe en maak my gesond. Ek bid vanoggend vir ons land en sy mense: Here, reinig die harte van U kinders; lei hulle terug wat afgedwaal het; troos hulle wat treur; verwarm die harte van hulle wat koud geword het; bind almal wat so verdeeld is, in liefde saam; laat U lig skyn oor almal wat steeds in die donker van die sonde leef. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page