top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE VERSOEKING IN DIE WOESTYN (3) – DIE WAARHEID VAN GOD SE WOORD IS STEWIGER AS SATAN SE LEUENS!

(Mark. 1:12-13; Luk. 4:1-13)


Matt. 4:8-11 – “Toe neem die duiwel Hom na ‘n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag en sê vir Hom: ‘Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.’ Maar Jesus sê vir hom: ‘Gaan weg Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.’ Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.”


Die versoeking van die duiwel is in die derde plek, dat Jesus Sy koninkryk op aarde sal vestig en al wat Hy daarvoor moet doen, is om gou-gou voor die duiwel “neer te val en hom aanbid.” Daarmee wil hy natuurlik Jesus oorreed om nie die pad van die kruisdood na God se koninkryk te neem nie maar die maklike uitweg met die minste weerstand, die kortste pad na roem en eer, te volg. Die doel van die Gees wat Jesus in die eerste plek die woestyn in gelei het om deur die duiwel versoek te word (v. 1), is daarenteen, dat Jesus wéér sal weier sodat Hy van die begin af, die baie moeiliker pad van die latere lydenspad en die kruis sal volg, sodat Hy daardeur verlossing vir almal wat in Hom glo, kan verwerf.


Indien Jesus aan enige van hierdie drie aanloklike versoekinge toegegee het, sou dit natuurlik Sy aardse sending baie makliker gemaak het. Deur met die duiwel tot ‘n vergelyk te kom, sou Jesus se fokus meer op satan gewees het as om primêr God se koninkryk te verkondig, maar Goddank, Jesus het hom weggejaag en weereens getroef met die Woord: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (Deut. 6:13). Jesus wys vir die duiwel dat hy geen god is nie, maar eerder ‘n struikelblok in ‘n stryd teen die lewende God. Hy is nie iemand wat aanbid kan word nie, hy kan jou niks aanbied nie behalwe om te lieg en te bedrieg! Die waarheid van God se Woord is ‘n stewiger fondament as satan se leuens.


Die duiwel wil vandag steeds twyfel by alle gelowiges saai sodat ons onafhanklik van God moet optree. Die begeerte van eerder die meester te wees as die dienskneg, lei ons weg van die Woord van God en dit beteken, as ons aan enige versoekinge toegee, dat ons ‘n ander god dien, die god van ons begeertes. Die duiwel beskik oor die vermoë om ons die makliker paaie aan te bied, maar ongelukkig is dit die paaie wat ons sommer self teer om dit makliker te maak om op te loop, dit is egter nie die pad agter Jesus aan nie. Wanneer satan jou probeer bedrieg met slim stories en selfs aanhalings uit die Bybel gebruik, lees net verder – “Daar staan ook geskrywe …!”

As ons Jesus wil volg, sal versoekinge onvermydelik wees. Maar Jesus het vir ons gewys wat om te doen wanneer die duiwel ons wil blootstel aan ander paaie, paaie van vernietigende mislukking. Jesus het telkens op God se Woord staatgemaak om satan te dwarsboom, daarom is dit vir ons ook nodig om God se Woord te ken sodat ons nie onderskep word deur satan se leuens nie. “Gaan weg satan, of wyk satan” storietjies van ons mense gaan nié die geslepe en vernuftige duiwel laat wyk nie. Jesus het vir ons die voorbeeld gestel en ander woorde vir ons gegee waarvoor satan swig: Satan swig voor die Woord van God!


Jesus moes drie maal die Woord gebruik om satan van Sy rug af te kry. Die Woord word ons swaard (Ef. 6:17), wanneer ons met die geslepe vyand te doen kry. God verwag van ons om Hom alleen te dien en dit verg volkome gehoorsaamheid aan Sy Woord en Sy wil, en dit is net moontlik deur die leiding van die Heilige Gees. As ons aan enige versoekinge sou toegee, sou dit beteken dat ons ’n ander god dien, die god van ons begeertes. “Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede het nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie” (Heb. 4:15). En dít is die wonderlike van ons geloof. Die Here Jesus het as die Oorwinnaar uit die stryd met satan getree, en daarom weet Hy ook waardeur ons daagliks gaan en wil Hy ons bemoedig in ons stryd teen versoekinge. Onthou, ons sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom.


“As jy versoek word, gee dadelik pad. ‘n Mens verdrink nie noodwendig as jy in die water val nie, wel as jy daarin bly lê” (Anoniem).


Gebed: Dankie hemelse Vader vir die belofte in U Woord: “Geen versoeking wat meer is as wat ek kan weerstaan, sal my oorval nie, want U is getrou. U sal nie toelaat dat ek bo my kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal U ook die uitkoms gee, sodat ek dit kan weerstaan” (1 Kor. 10:13). Dankie Jesus dat U namens my die stryd teen elke versoeking wat my uit God se hand probeer wegrokkel, reeds gewen het. Heilige Gees, help my om die Woord van God só te ken en kan toepas sodat ek ook kan uitroep: “Gaan weg satan, ek het gekies om die Here my God te aanbid en Hom alleen te dien.” Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page