top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE DOOP VAN JESUS (2) – DIE LAM VAN GOD!

(Mark. 1:9-11; Luk 3:21-22; Joh. 1: 31-34)


Matt. 3:13-17 – “In daardie tyd het Jesus van Galilea af na Johannes toe by die Jordaan gekom om deur hom gedoop te word. Maar Johannes het dit probeer verhinder deur te sê: ‘Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe?’ Jesus het hom geantwoord: ‘Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.’ Daarna het Johannes ingestem.”


Vergelyk ook Joh. 1:29-34 – “Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: ‘Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘Ná my kom daar ‘n Man wat my vóór is, want Hy was voor my reeds daar. Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar ek het gekom en ek doop met water sodat Hy aan Israel bekend gestel kan word.”


Jesus kom aangestap na die Doper waar hy besig is om te preek en te doop. Hy onderbreek sy prediking, wys na Jesus en roep uit ten aanhore van almal: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” Johannes gee vir Jesus hierdie pragtige naam “Lam van God” om ons aandag pertinent op Jesus se identiteit as die Een wat van God af kom, te vestig. Net soos Matteus wil hy die Jode daarop wys dat hulle Jesus, die onbetwiste Koning en Messias, gekruisig het.


Wat die Doper bedoel het met hierdie diepsinnige Naam, is nie heeltemal seker nie maar sluit die volgende moontlikhede in: Eerstens het dit herinner aan die uittog uit Egipte. Al die eersgeborenes het gesterwe behalwe die eersgeborenes wat in die huise was waar die bloed van die paaslam aan die deurkosyne gesmeer was. Die bloed het gemaak dat God met Sy oordeel by hulle verbygegaan het. As ons gelowiges in ‘n geestelike sin met die bloed van Christus, die Lam van God, besprinkel is, gaan God se oordeel ons verby.


Tweedens kan dit verwys na die geslagte paaslam wat as versoeningsoffer gebruik is. Die bloed is nie meer aan deurkosyne gesmeer nie maar op die altaar uitgegooi om sodoende versoening van die sonde te bewerkstellig om die gebroke verhouding met God te herstel. Christus se bloed bewerk dieselfde want God gaan nie net met Sy oordeel verby ons nie – “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie” (Rom. 8:1), maar Hy betrek ons ook in die heerlikste gemeenskap met Homself – ”En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus” (1 Joh. 1:3b).


Die derde moontlikheid wat die Doper in gedagte gehad het was die Lam van God wat geslag is en deur wie se dood, elkeen wat in Hom glo, redding ontvang – “Soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie” (Jes. 53:7b). Hy is die Lam van God wat die straf van die sonde op Hom geneem het en deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Wow!


Dit is vir ons nie nodig om ‘n keuse te maak tussen hierdie drie moontlikhede waarom die Doper vir Jesus as die Lam van God noem nie. Wat belangrik is om te weet is dat dit vir ons nie meer nodig is om lammers te offer nie. Jesus het Homself eenmalig as die Lam geoffer en dit is vir eens en altyd voldoende. Dit hoef nooit weer herhaal te word nie. Sy offer versoen ons met God. Nie net vir ons nie, maar almal wat glo Hy is die “Man wat die sonde van die wêreld wegneem.” Dit is ‘n onbeskryflike belewenis om agter te kom wat met jou gebeur as jy Jesus leer ken, jy sal nooit weer dieselfde wees nie!


“Die Lam van God het die volle impak van ons sonde op Hom geneem, deur Sy bloed het daar vir ons genesing gekom” (Jeffrey Ebert).


Gebed: Dankie God en Vader, dat ek kan weet Jesus is die Lam wat vir my geslag is sodat ek elke oggend die dag en elke aand die nag kan ingaan met dié wete: Ek is deur die Lam van God met God versoen, “ek is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is” (1 Pet. 1:19). Gees van God, help my om Jesus Christus elke dag beter te leer ken. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page