top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JOHANNES DIE DOPER EN SY PREDIKING (5) – GEDOOP MET DIE GEES!

(Mark. 1:1-8; Luk. 3:1-9; Joh. 1:19-28)


Matt. 3:11-12 – “Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met die onblusbare vuur verbrand.”


Vergelyk ook Joh. 1:24-28 – “Daar was Fariseërs onder dié wat gestuur is, en hulle het vir hom gevra: ‘Nou maar waarom doop jy dan as jy nie die Christus is nie en ook nie Elia nie en ook nie die Profeet nie?’ Johannes het hulle geantwoord: ‘Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. Dit is Hy wat ná my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie.”


Dit was vir almal duidelik dat die Doper ’n man van betekenis was en dat hy deur sy prediking groot skares trek, maar wie is hy eintlik? Johannes, nie die Doper nie, vertel vir ons in sy evangelie dat die Fariseërs, op aandrang van die godsdiensleiers in Jerusalem, meer wou weet oor hierdie Johannes wat in die woestyn doop. Die gebruik was dat die doop slegs deur bevoegde persone bedien word en as die Doper nie die Messias of Elia of die Profeet is nie, watter bevoegdheid het hy dan om te doop?


Die twee belangrikste godsdienstige partye in die Joodse volkslewe was dié van die Fariseërs en die Sadduseërs. Die Fariseërs was ’n party uit die volk wat hom ten doel gestel het om die godsdienstige lewe in die fynste besonderheid volgens die wet – of húlle vertolking van die wet – te reël. Hulle het steeds gedink dat die Doper dalk die Messias was wat mense sou doop wanneer Hy kom (Eseg. 36:25).


Die gebruik was dat wanneer heidene die Joodse godsdiens aanneem, die mens besny moes word en daarna word almal, mans en vroue, deur die doop ingelyf by die Jodedom. Die doop was die simbool van die afwassing van die heidense onreinheid en die insluiting by die volk van God. Johannes die Doper het van alle bekeerlinge vereis dat hulle die bekeringsdoop moes ondergaan as teken van die afwassing van die sonde. Daarmee het hy die Jood gelyk gestel met die heiden wat van sy onreinheid afstand moes doen. Vir die Fariseërs was hierdie vereiste haas ondenkbaar, en hulle kom daarteen in verset.


Johannes antwoord nie op die vraag na sy bevoegdheid om te doop nie, maar dui op die betekenis van sy doop. Deur te sê dat hy met water doop, verklaar Johannes dat sy doop van mindere betekenis is, maar beslis nie betekenisloos nie. Inteendeel, sy waterdoop was ‘n bekerinsdoop en was noodsaaklik as teken van die afwassing van die sonde. Tog bly dit ’n uiterlike handeling. Alleen deur die Heilige Gees kom die innerlike reiniging en dit is Christus wat die Gees sal bring.


Christus is egter reeds aanwesig. “Iemand vir wie julle nie ken nie” is die bedoeling dat Hy reeds as mens onder die mense aanwesig was, maar só dat hulle Hom nie geken het nie. Hierdie “Iemand” is so verhewe dat Johannes nie eens waardig is om die riempie van sy sandale los te maak nie, ‘n werk wat so vernederend was dat dit as slawewerk beskou is. Johannes verklaar dat hy te onwaardig is om selfs daardie slawewerk vir Jesus te doen. Die “kommissie van ondersoek” moet hulle dus nie met hom, die wegbereider, besig hou nie, maar uitsien na die optrede van die Een wat kom.


“Tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie.” Ken ons vir Jesus of weet ons net van Hom? Jesus is die enigste ware spieël van die onsigbare God, die Een wat die grens tussen hemel en aarde oorgesteek het om vir ons te kom wys wie God regtig is. Ons behoort daarom ‘n “advertensiebord” van God se goedheid hier op aarde te wees. Veral ons wat moeite vind met berou, sukkel om ons foute te erken, nie lus het om aan skulderkenning eers te dink nie. Sonder die fondament van skuldberou en erkenning van sonde, is dit onmoontlik om geestelike vernuwing te smaak. Johannes se wekroep van Jesus wat met die Gees doop, weerklink vandag nog in ons ore. Dit is daarom onomseilbaar om die nuwe lewe wat Christus deur Sy Gees aanbied, nie te wil aanneem nie.


“Ek is niks, ek het niks, ek begeer niks behalwe die teenwoordigheid en liefde van Jesus”

(Walter Hilton)


Gebed: Here, laai my tong met hemelse medisyne sodat ek kan help getuig om die wêreld ‘n leefbaarder plek te maak. Heilige Jesus, ek loof en prys U as die Een wat in die Naam van God gekom het juis om hierdie deurmekaar wêreld se sondige mense, terug te laat draai na God toe. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page