top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Liewe E-Kerk vriende,


Baie dankie vir al die goeie wense wat ons ontvang het voor ons kort vakansie. Baie geluk ook aan al ons lesers wat Comrades suksesvol voltooi het. Lekker lees én doen vir almal. Mag die Here julle seën met die keur van sy allesomvattende seëninge.


Jesusvreugde.



JOHANNES DIE DOPER EN SY PREDIKING (3) – GEDOOP MET DIE GEES OF MET VUUR?

(Mark. 1:1-8; Luk. 3:1-9; Joh. 1:19-28)


Matt. 3:11-12 – “Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met die onblusbare vuur verbrand.”


Johannes was nou nie juis iemand wat sosiaal of taktvol korrek opgetree het nie. Met sy kleredrag het hy eerder vreesaanjaend gelyk en met sy dieët van sprinkane en veldheuning, sou mense ook nie sommer by hom gaan eet nie. Hy was nie bang om op tone te trap wanneer hy met ‘n oproep van dringendheid, God se wil bekend gemaak en mense vermaan het om tot bekering te kom. Maar … dit gaan nie in die koninkryk van die hemel oor uiterlike dinge soos ‘n mens se goeie voorkoms, of die nakom van wette, of om met jou beste klere kerk toe te gaan nie, of om gedoop te wees of om nagmaal te gebruik of watter uiterlike dinge ek ook al doen nie. Dit gaan nie oor dinge en rituele nie, maar oor ‘n Persoon! Dit gaan oor Jesus Christus, “die koninkryk van die hemel wat naby gekom het!”


God kyk nie na wie jy is en waar jy vandaan kom nie, Hy kyk na ons harte. Hy weet of dit wat ons doen die uiterlike vrugte dra, of nie dra nie, of dit uit ons harte kom en of dit net vir die skyn is! Die oordeelsboodskap wat Johannes gebring het, was in wese ook ‘n genadeboodskap. Sy dreigemente het ook ‘n belofte in … want daar is wel ‘n Oplossing, ‘n Antwoord om die oordeel van God te kan vryspring. Draai na God toe met ‘n berouvolle hart, breek met die sonde en die goddeloosheid! God se Oplossing is op pad! God Self het Hom gestuur, Hy is in ons midde! “Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak, Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met die onblusbare vuur verbrand.”


Matteus teken hier vir ons die kontras waarmee Johannes die Joodse skares wat na hom toe gestroom het, teenoor die Joodse godsdiensleiers, aan. Johannes kon alleen in die Jordaan doop wat bloot ‘n uiterlike teken was van die afwassing van die Jode se sondes – ‘n bekeringsdoop. Sy Godgegewe taak was om hulle tot bekering tot God op te roep, om hulle tot ‘n hartsverandering en tot lewensverandering, te beweeg – en dít was hulle werklike bewys van sondeberou. Hy het homself gesien as ‘n blote dienskneg, wat in homself te klein was om die mees nederige dienswerk van ‘n slaaf te verrig “en nie eers werd was om Jesus se skoene uit te trek nie.” Die water waarmee hy gedoop het, het nie hulle lewens verander nie, dit het van hulleself afgehang of hulle ‘n innerlike gesindheidsverandering wou aangaan, of hulle hulle wou bekeer.


Jesus, die Messias se doop sou harte verander. Die Messias se doop sou ‘n teken wees van God se innerlike hartswerk deur sy Gees. Want alleen die Gees, wat Self ook waarlik God is, kan ingryp in menseharte en ware, standhoudende hartsverandering bewerk, kan my en jou ‘n geleentheid gee om ‘n verhouding met God aan te knoop. Die Heilige Gees lei ons tot ware berou sodat ons tot die besef kan kom wat sonde aan ons doen – daardie sogenaamde stemmetjie …! Hy stel ons in staat om ‘n gesindheidsverandering teweeg te bring, en te word wat God wil hê ons moet wees. Ja, ons het miskien al in die verlede probeer om “reg te leef”, om uit eie krag te verander, maar elke keer gefaal, hópeloos misluk! Die Gees bring ons tot berou en daaropvolgende belydenis en Hy sal ons van krag voorsien om te kan verander.


Johannes sê die Messias sal ook met vuur doop – vuur brand skoon, dit bring lig, dit verander, dit verwyder die gemors en maak suiwer, dit werk in ons harte ‘n ywer op, om “vuur en vlam” vir God te wil optree. Maar, ons moet onthou, Johannes preek vir gelowiges én die Joodse godsdiensleiers wat daar aangekom het, daarom kondig hy God se oordeel aan oor almal wat nie eg in hulle sondebelydenis is nie. In Sy oordeel sal die Messias “met sy skop in sy hand die koring in die lug ingooi en die koring wat op die dorsvloer beland, deur en deur skoonmaak, maar die kaf wat in die wind weggewaai word, met die onblusbare vuur verbrand.” Die doop met vuur is Christus se oordeel oor hulle wat hulle harte in ongeloof verhard, en nie een of ander fabel of sensasie waaraan menige ongelowiges dit koppel nie. Die “vuurdoop” van Christus se oordeel is ‘n werklikheid!


Ek wonder wat sien God wanneer Hy na ons kyk? Vrugtelose bome wat nie vrug dra nie? Addergeslag? Mense wat misluk om ‘n nuwe lewenswyse aan te kweek? Christene wat eens op ‘n tyd entoesiasties was en toe maar saam met die stroom ingeval het en lou of selfs koud geword het? Mense wat langsamerhand die noodsaaklikheid van kerk toe gaan, Bybel lees en gebed begin verwaarloos het totdat dit later weggekwyn het tot niks? Mense wat gedoop is met vuur?


Of ... sien Hy mense wat gedoop is met die Heilige Gees? Johannes preek vandag ook vir ons. Die Messias van Johannes se tyd, is dieselfde Messias van vandag en deur Sy Gees gee hy vir ons die geleentheid om ‘n liefdesverhouding met Hom te bou sodat ons vervuld en versterk en gelei kan word daardeur. Wanneer die Gees ons bring tot berou en belydenis, voorsien Hy ook die krag om ons lewe te verander. “Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volgens die wil van God en wees heilig” (Ef. 4:23-24). God verlaat nie mense nie, hulle doen dit self!


“Belydenis moet iets meer wees as gewone berou oor sonde: dit omsluit ‘n verandering van jou menslike natuur wat vir God welbehaaglik is” (Lew Wallace).


Gebed: Hemel Vader, Dankie dat U my aanspreek deur U Woord. Dankie dat U my deur Matteus en Johannes my daaraan herinner dat my ewige toekoms op die spel is. Dat ek moet onthou dat daar eendag verseker ‘n finale skeiding kom, daardie dag wat Christus sal weet of ek koring is … of dalk kaf is, want Hy ken my hart. Here Jesus, maak deur U Gees my wakker sodat ek U stem kan hoor, en wanneer ek U stem hoor, sal luister, sodat ek deel sal wees van die “koring wat U na die skuur toe bring” en “as oorwinnaar, alles sal erf en drink uit die fontein van lewenswater, heerlik, rein” (Lied 602:5). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page