top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Ons gaan DV vanaf Maandag, 3 Junie’n wyle met vakansie en sal DV weer op ons pos wees met die dagstukkies vanaf Woensdag, 12 Junie. Jammer vir die ongerief maar onthou, ons is wel met vakansie maar die Here is steeds daar. Jesusliefde tot dan.

JOHANNES DIE DOPER EN SY PREDIKING (2) – DRA VRUGTE VAN BEKERING!

(Mark. 1:1-8; Luk. 3:1-9; Joh. 1:19-28)


Matt. 3:7-10 – “Toe hy merk dat baie van die Fariseërs en die Sadduseërs kom om deur hom gedoop te word, sê hy vir hulle: ‘Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. Julle moet julle nie verbeel dat julle by julleself kan sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie. Dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. Die byl lê klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”


Die Jode het lank gewag vir ‘n ware profeet om op te staan en hulle te vertel wat hulle te doen staan. Dit is dus te verstane dat daar nou van oral mense kom om na Johannes te luister en ook deur hom gedoop te word. Sy boodskap was eenvoudig: “Bekeer julle, want die koninkryk van God (die hemel) het naby gekom.” Hulle was oorstelp oor sy woorde en optrede en omdat Johannes se bediening deur ‘n groot deel van die Jode erken was as van profetiese belang, bely hulle hul sondes en laat hulle deur hom in die Jordaanrivier gedoop word. Maar Matteus, waarom moet Johannes bekering verkondig aan mense wat reeds tot die verbondsvolk behoort? Bekering is mos iets wat aan mense wat nie Jesus ken nie, aan heidene, verkondig word.


Hy is net die boodskapper om die Jode te waarsku dat die Messias-Koning triomfantelik op pad is en hulle moet gereed maak vir die koms van die Koning. Hy is maar net die stem wat uitroep, sy persoon is van geen belang of betekenis nie. Hoofsaak is sy boodskap: Die oproep om die weg vir die Messias voor te berei en die Jode tot dringendheid te stem om uit hul “woestyn” van lewelose en vrugtelose godsdienstige lewe te kom en hulle te bekeer, want die Messias is in hulle midde!


Dan “merk hy dat baie van die Fariseërs en die Sadduseërs kom om deur hom gedoop te word” en sonder om te skroom, wil hy die waarheid ontbloot en sê hy wat hy van hulle dink. God word nie beïndruk deur allerlei aansprake van bloedverwantskap, of die nakoming van allerlei godsdienstige rituele van mense wat by Hom wil uitkom nie, sondebelydenis moet ’n nuwe lewenswyse inlei: “Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is.” Dis belangriker dat mense die bewyse lewer dat hulle kinders van Abraham is as dat hulle net op hulle afstamming roem. Die regte geslagsregister sal hulle nie help nie, net ’n aanvaarding van Jesus Christus en gehoorsaamheid aan Hom.


Die verskil tussen Abraham en die Jode is dat hy vasgehou het aan die hoop op God se beloftes en gebly glo het al “het hy gesterf sonder om te verkry wat beloof is, het hy dit in die verte gesien en daaroor gejuig” (Heb. 11:13). Hy moes sy wortels uit sy geboorteland trek en wegtrek sonder om te weet waar hy sou uitkom; hy het as ‘n vreemdeling in ‘n vreemde land gebly; die beloofde nasaat, Isak, is wel gebore maar hy was slegs een sandkorreltjie op die ontsaglike seestrande en die inbesitname van die beloofde land was daar geen sprake van nie. Tog het hy bly glo, terwyl die Fariseërs en Sadduseërs daarenteen, hardkoppig op hulle verkeerde pad bly, en met kragtige beelde word hulle uiteinde veroordelend aangekondig: “Die byl lê klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”


Die Jode dink dus nie nét aan die afstamming van Abraham nie maar ook aan die verbond wat God met hulle stamvader gemaak het. Hulle het ook geglo dat daardie verbond het Israel bo ander volke bevoorreg en hulle gemaak tot die besondere uitverkore volk van God. Die feit dat die Jode die nakomelinge van Abraham is, verander dit hulle nie outomaties in kinders van God nie. Vir die Jode was Abraham naas Moses, die grootste geloofsheld in die geskiedenis en daarom het hulle gedink om ‘n afstammeling van hom te wees, is genoeg om ook ‘n kind van God te wees. Hulle het geglo dat Abraham se kindskap van God outomaties aan hulle oorgedra is. Om ware “kinders vir Abraham te wees, kan God hulle selfs uit klippe verwek”: God kan in Sy genade uit dood, lewe skep; uit harte van klip, gehoorsame harte gee (Eseg. 36:26).


Hierdie parallel word vandag nog deurgetrek deur baie mense wat glo omdat hulle voorgangers, byvoorbeeld ‘n oupa of familielid, wat getrou was of nog is, aan God en volgens Sy voorskrifte leef, vir hulle ook ‘n plek in die hemel waarborg. Geen mens kan op enige ander mens se geloof in Jesus Christus deel in die saligheid nie, hy moet eerder daardeur inspireer word om homself te bekeer (Luk. 3:8). As jy opreg glo in Jesus en aanvaar dat Sy Vader ook jou Vader is, is jy deel van hierdie eksklusiewe Gesin omdat Hy ook jou Here is. Doen wat God vra, dan vloei Sy koninklike bloed heeltyd deur jou are, dan “dra jy vrugte wat wys dat jy bekeer is.” Met ander woorde, ons bevind ons dan in die drie-enige God se magsgebied en Jesus deel nie Sy aardse woning met enige inwonende vyandige magte nie – “Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik” (1 Kor. 6:19-20).


“Wanneer ons kinders van God geword het, moet ons nog leer om soos hulle te leef en te praat ook” (Robert Battles).


Gebed: Dankie Jesus dat U gesorg het dat U Vader my Vader ook is. Ek behoort nie meer aan myself nie want U het my duur gekoop en daarom is ek dankbaar dat U Gees my gedurig lei tot ware berou, en my in staat stel om my lewe te verander sodat ek uit dankbaarheid ons Vader kan verheerlik. Dankie Vader dat U genade uitgestort het in my dorre hart want nou kan ek vrug dra wat bewys dat ek U kind is. Ek kan egter nie op my eie daarmee volhou nie, daarom is ek dankbaar dat Ú, Gees, my standvastig hou in my keuses sodat ek kan vrugte dra wat sal hou. By U wil ek skuil o Heer, Oorwinnaar oor die bose. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page