top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JOHANNES DIE DOPER EN SY PREDIKING (1) – PADBOUER VIR CHRISTUS!

(Mark. 1:1-8; Luk. 3:1-9; Joh. 1:19-28)


Matt. 3:1-6 – “In daardie tyd het Johannes die Doper in die woestyn van Judea begin preek en gesê: ‘Bekeer julle want die koninkryk van die hemel het naby gekom.’ Hy is die een wat die profeet Jesaja bedoel het toe hy gesê het: ‘Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.’ Hierdie Johannes het klere van kameelhaar gedra met ‘n leerband om sy heupe, en hy het van springkane en veldheuning gelewe. In dié dae het Jerusalem en die hele Judea en die hele omgewing van die Jordaan na hom toe gestroom. Hulle het hulle sondes bely en hulle deur hom in die Jordaanrivier laat doop.”


Volgens Matteus het God dit so beplan dat Josef sy gesin in Nasaret gaan vestig het. Spreekwoordelik kan ons sê die tafel is gedek vir groter dinge wat gaan gebeur in hierdie klein, onbenullige dorpie van skaars 480 inwoners wat genestel is in die heuwels van Galilea. Dit blyk dat Matteus sommer vinnig daar wil uitkom want hy het een oomblik nog van Josef en sy gesin se aankoms in Nasaret gepraat, en hier begin hy om sy lesers van Johannes die Doper te vertel, wat ses maande ouer was as Jesus. Intussen het daar ongeveer 30 jaar verloop en feitlik niks word van hulle grootword jare genoem nie, behalwe Lukas wat van die twaalfjarige Jesus se leringe by die tempel vertel (Luk. 2:41-52).


Vir vier honderd jaar was die stem van profete stil in Israel en Juda. Johannes die Doper begin sy bediening om die Joodse gemeenskap voor te berei om die boodskap van die koninkryk van die hemele, wat in Jesus aanbreek, te kan ontvang. Dit behels ‘n eenvoudige maar duidelike boodskap van bekering: “Bekeer julle want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” Omdat die Jode baie sensitief was met die gebruik van God se Naam, verwys Matteus nie na die “koninkryk van God” nie, maar na “die koninkryk van die hemel” en vermaan hy die Jode om hulle sondes te bely want in Jesus het die “koninkryk van die hemel” tot bý hulle gekom.


Die groter dinge gebeur toe nie in Nasaret of by die tempel in Jerusalem nie, maar die wegbereider, Johannes die Doper, tree in die woestyn van Judea op. Die Jode het immers verwag dat die Messias se koms voorafgegaan sou word deur 'n profeet soos Elia, en hier verskyn Johannes op die toneel, iemand so reg uit die Ou Testamentiese tradisie, iemand wat geklee was soos Elia (2 Kon. 1:8) – “klere van kameelhaar met ‘n leerband om sy heupe, en hy het van springkane en veldheuning gelewe.” Hier in die woestyn by die Jordaanrivier, volgens oorlewering moontlik dieselfde plek waar die volk die Jordaan deur is na die beloofde land, doop hy Jode wat net geglo het as jy besny is, is jou saak met God reg.


Die woestyn was ook gesien as die plek waar die Here sy volk tydens die lang trek na die beloofde land, gevorm en toegerus het. Die “woestyntyd” van die ballingskap was óók gerig op die geestelike vorming van die volk om ingestel te wees op God. En in die woestyn stroom “Jerusalem en die hele Judea en die hele omgewing van die Jordaan” na die Doper toe om na sy boodskap te luister, ‘n boodskap wat swaar gelaai is aan dringendheid, ‘n boodskap van verandering, hy kom “maak die pad van die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit” (Jes. 40:3). Die oproep tot bekering was dringend. Die heerskappy van God is op hande. Die pad moet gereedgemaak word, Koning Jesus is in hulle midde. Sy dringendheid om uit te kom by dit wat Jesus gedoen en gesê het, by Jesus se bediening, noop hom om feitlik oor hulle dertig grootword jare te swyg.


Ongeveer sewe honderd jaar voor Jesus se geboorte, gebruik God sy volk se verleentheid van ballingskap, om dit in ‘n geleentheid om te draai en hulle uit ballingskap te bevry. Hulle skuld is betaal en God het hulle vergewe. Hulle kan hulle pad begin voorberei vir ‘n nuwe toekoms, hulle kan al die gate wat gevorm het nadat hulle van hulle land, huise, families en waardigheid, gestroop is, begin opvul. Nou het die Messias gekom, en hulle en ons is van ons sonde bevry. Johannes die Doper as die “padbouer” van Jesus, het kom vertel dat God se koninkryk digby gekom het en ons “die pad van die Here gereed moet maak, vir Hom die pad reguit moet maak”, ons lewens tot Jesus se beskikking te stel.


Johannes die Doper het Jesus se pad klaar “gebou” deur ons te vertel om ons te bekeer, maar die pad moet egter steeds in stand gehou word, en daarvoor het God mense nodig. Ons moet ook help om hierdie pad van die koninkryk reguit te hou sodat ander ook die pad kan vind. Maar eers moet ons die pad vir Jesus in ons eie lewe voorberei. Daarom is dit nodig om ‘n “paar gate dalk op te vul”, om berou en selfverwyt te voel vir ons sondes en dit bely, om opreg verslae en jammer te wees, om van rigting te wil verander, ‘n omkeer te maak na Jesus toe.


Ken ons vir Jesus? Hoe stel ons vir Jesus, as Sy aardse verteenwoordigers, aan die wêreld voor? Het ons die lig van Jesus Christus in ons binneste sodat Hy tot Sy reg kom of is ons dalk nog vasgekluister aan die “eie-ek”? Getuies van Jesus praat oor Hom, droom oor Hom, dink oor Hom en bestee meer tyd saam met Hom. Vertel ook vir ander dat ons Koning die nuwe weg gebring het wat tot in die hemel strek en dáár vir almal plek is. Hoe kan jy help om die pad van Jesus vir ander voor te berei? Wat moet in jou lewe gelyk gemaak en opgevul word. Indien jy nie help nie en vasklou aan jou lysie “geldige verskonings” van onbetrokkenheid, gaan mense rondom jou dalk verdwaal en in die ewige verdoemenis eindig!


“Woorde wat nie die lig van Christus verhelder nie, verdiep net die duisternis” (Moeder Teresa).


Gebed: Here, maak my minder sodat U meer kan word. Maak my ‘n padbouer sonder verskonings. Plaas my onder U persoonlike toesig om deur U Gees, die goeie nuus van U koninkryk aan ander te vertel, om U verlossingspad na die ewigheid, in stand te hou. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page