January 28, 2020

January 27, 2020

January 24, 2020

January 23, 2020

January 22, 2020

January 21, 2020

January 20, 2020

January 17, 2020

January 16, 2020

January 15, 2020

Please reload

Recent Posts

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

May 28, 2019

DIE KINDERMOORD – DIE KRIP EN DIE KRUIS!

 

Matt. 2:16-18 – “Toe Herodus agterkom dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, het hy woedend geword. Hy stuur toe soldate en laat in Betlehem en die hele omgewing al die seuntjies van twee jaar en jonger doodmaak, ooreenkomstig die tyd wat hy noukeurig by die sterrekykers uitgevra het. Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het: ‘’n Gekerm word op Rama gehoor, ‘n gehuil en groot gejammer: Ragel treur oor haar kinders en wil nie getroos word nie, omdat hulle nie meer daar is nie.”

 

Die koms van Jesus die Kindjie, na die wêreld, roep ‘n heftige reaksie by die wêreld op. In Herodes staan die wêreld teen God op, en loop die wêreld die hemel storm. Herodes was ‘n wrede en magsbehepte karakter en toe hy uitvind van die sterrekykers se verraad, was hy woedend en daarom gee hy ‘n wraaksugtige en koelbloedige bevel dat alle seuns van twee jaar en jonger in Betlehem en die omliggende omgewing, doodgemaak moet word. Sy komplot om die sterrekykers te gebruik om eers in die geheim by hulle “noukeurig vas te stel wanneer die ster verskyn het, sodat hy ook aan Hom hulde kon gaan bewys” (2:7), het misluk.

 

Herodus se optrede herinner aan dié van die farao (Eks. 1:15-22), terwyl hier ook parallelle tussen Jesus en Moses gevind kan word. Dié gebeure word ook as vervulling van die ontsteltenis van die profeet Jeremia oor Ragel se kinders geïnterpreteer. Ragel was die stammoeder van Josef en Benjamin se nageslag en sy huil oor die ballingskap van Israel en Juda, “sy treur oor haar kinders omdat hulle nie meer daar is nie.” Moontlik is hier ook ’n verband met Betlehem, aangesien die graf van Ragel volgens tradisie by Ramot-Ragel tussen Jerusalem en Betlehem te vinde is: “Ragel het gesterf, en sy is begrawe langs die pad na Efrata toe, dit is Betlehem” (Gen. 35:19). Die vroue van “Betlehem en die hele omgewing” het rede tot trane gehad, hulle en hul kinders was aan die skerp kant van die bose Herodus se swaard sodat die “gekerm en gehuil” oor die velde van Efrata weerklink het.

 

Die digter Totius het dit met die dood van sy kinders seker ook ervaar. Nadat twee van sy kinders gesterf het, skryf hy:

Bo al u donker bome, o Heer, groei daar vir my ‘n enk’le reusboom uit: dit is die wag-‘n-bietjie-bos … dis die wag ‘n bietjie bos van u besluit.

Van ver lyk hierdie bos só skoon, só groen, só blink, maar hoe verward, wanneer ek dieper kyk en dink … dieper kyk en dink as wat ‘n sondaar pas, en ek steek dan my hande uit …

en ek steek dan my hande uit na u besluit, dan gryp ek in die dorings vas ...

 

Dan raak ‘n mens ontroosbaar, en met respek, wonder ‘n mens hoe ‘n God van liefde só iets kan toelaat, selfs laat wonder oor Sy genade? En laat wonder hoekom Hy net vir Jesus die moord spaar, en ook nie die ander kinders nie? Is dit nie onregverdig nie? Eerstens, dit is Herodes wat die kindermoord pleeg, nie God nie. Dit illustreer dat hierdie wêreld in die mag van die Bose is. God besluit wel om Jesus die kindermoord te spaar, maar dit is omdat Hy ‘n ander plan met Jesus se lewe het: Hy sal later onskuldig aan die kruis sterf sodat die Bose uitgewis kan word, sterf aan die kruis, sodat Hy ‘n nuwe bedeling kan skep, ‘n Koninkryk waar Sy wil vir almal sal geld, vir almal wat só in hulle sondes verdwaal het, dat ons nooit op ons eie by God sou uitkom nie!

 

God is soewerein en handel bo menslike verstand. Dit is seker menslik om Hom te bevraagteken wanneer jou hele wêreld in duie stort, maar laat ons eerder net op Hom vertrou: “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop” (Spr. 3:5-6).

 

Dié optrede van Herodes was grusaam, maar tevergeefs, want God het alreeds opgetree om Jesus en Sy ouers na ‘n veilige plek te laat uitwyk. ‘n Pragtige legende word vertel van God se liefde en beskerming van Sy kinders. Terwyl Josef, “die Kindjie en sy Moeder vlug na Egipte”, het dit die nag verskriklik koud geword en moes hulle beskutting binne ‘n grot soek. ‘n Spinnekop het die baba Jesus gesien, en besluit om Hom teen die koue te beskerm en die ingang van die grot toegespin sodat die web ‘n “gordyn” vorm om die koue buite te hou. Deur die nag het van Herodus se soldate by die grot uitgekom, die web wat intussen vol ryp was, gesien en gedink dat indien iemand daar sou ingaan, die web gebreek sou wees. Sonder om binne die grot ondersoek in te stel, het hulle verder gegaan in hulle soektog na nog seuntjies om dood te maak. Dit is dan ook die rede waarom daar vandag steeds klatergoud-linte gebruik word om Kersbome te versier want dit herinner aan die spinnekopweb wat die heilige familie beskerm het.

 

Die hardheid waarmee Matteus sy verhaal vertel, is die werklikheid. Jesus se geboorte is ‘n verhaal van drome, maar ook ‘n verhaal van drome wat verwoes word, ‘n verhaal wat begin by ‘n krip, maar eindig aan ‘n kruis. “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens Sy besluit geroep is” (Rom. 8:28). Dit beteken egter nie dat God nou alle teëspoed van ons af weghou nie, maar dat Hy alles tot ons beswil gebruik. Die feit dat “ons weet”, veroorsaak dat elke stukkie lyding en swaarkry wat ons nou mismoedig maak, nooit ons permanent van stryk sal, en kan, bring nie, want dit is deel van God se groter plan met ons.

 

God se pad met ons gelowiges is ‘n triomftog, die versugtinge van destyds, “die gehuil en groot gejammer”, verander nou in ‘n triomfroep. Hierdie triomfroep is die sekerheid dat “ons weet dat God alles ten goede laat meewerk”, en dit sluit “alles” in, selfs ons lyding. God is besig om vir Homself ‘n huisgesin te skep en as Sy uitverkorenes, gebruik Hy alle lewensomstandighede en -gebeure as instrumente in die proses. Daar is dus planmatigheid, koers en bestemming in die lewe van elkeen wat deel het aan hierdie proses! God is vrygewig, God is genadig, God voorsien net die beste – daarop kan ons staat maak. Daarvoor kan ons bid. Daarvoor kan ons geduldig wag, en terwyl ons wag vir eendag, dit nóú reeds kan belééf en dit geniet. Indien jy bereid is om geduldig te wag, moet jy bereid wees om nie net die krip raak te sien nie, maar die kruis ook te ervaar én dit te leef!

 

“’n Mens belewe jou kindskap van God die Vader nie deur diep daaroor te sit en peins nie; maar eers wanneer jy soos Christus begin optree” (Ferdinand Deist).

 

Gebed: Dankie vir U goedheid Heer. Dankie dat U my uit genade herskep het en nuut gemaak het deur Jesus, ons Vleesgeworde Woord. Help my o Gees dat ek as nuutgemaakte wese, nóú al standvastig sal bly en sal leef as medewerker in U koninkryk, en nie eers te wag tot ek eendag in die hemel dit sal ervaar nie. Dankie Heer, dat ek nou reeds só kan leef, want sonder ’n kruis, is daar nie ‘n kroon nie. Amen.

 

Please reload

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

H/v Eerstestraat & Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: [email protected]

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:30 - 17:30

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.