top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Voorstelling van Jesus se geboorte binne die St. Franciscan kerk in Betlehem

BESOEK UIT DIE OOSTE (4) – VERBY DIE STERRE TOT BY DIE VLEESGEWORDE WOORD!


Matt. 2:9-11 – “Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy Moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud wierook en mirre.”


Die sterrekykers het, na ‘n lang reis, uiteindelik ‘n adres gehad waar hulle die Koning van die Jode sou kry. Die godsdiensleiers van Jerusalem kon uit die boek Miga, die voorspelling vind: “En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal ‘n leier voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees.” Uit die Woord van God kon hulle die korrekte adres kry en na hulle geheime ontmoeting met Herodus, kon hulle vertrek – voorwaarts, na die klein dorpie van groot dinge!


Gehoorsaam volg hulle God se Woord wat aangedui het hulle moet na Betlehem toe. Op hulle eie, niemand wat hulle vergesel om die Koning wat gebore is, hulde te gaan bewys nie. Ek dink hulle was nogal verbaas dat Jerusalem nie bewus was van die geboorte van hul Koning nie, en hulle al geselsende daaroor die laaste tien kilometer gereis het. Dit moes hulle nog meer verbaas het hoe die volk gereageer het, hulle was nie eers opgewonde oor die boodskap nie, maar eerder ontsteld. As vreemdelinge moes húlle as heidene, in die Godstad, die blye boodskap verkondig van die geboorte van die Jode se Koning. Dit is maar net één van die maniere hoe God die normale gang van die mens kan omkeer!


Hulle het vanuit die Ooste tot in Jerusalem ‘n ster gevolg, nou volg hulle die Woord van God, en tog, “toe hulle (weer) die ster sien, was hulle baie bly.” Daardie ster moes beslis ‘n baie spesiale ster gewees het. Dit was! God is Almagtig. Hy het beheer oor die hemel en die aarde. Hy het alle hemelligame op hulle vasgestelde bane geplaas en daarom sou Hy, één uitsonderlike ster kon laat verskyn en in ‘n spesiale baan geplaas het sodat die heidense sterrekykers die boodskap van daardie ster verstaan het, en dit kon verbind het aan die geboorte van sy Seun.


God het ook die ontmoeting met sy Seun onder beheer! Wanneer ’n kroonprins gebore word staan die verslaggewers dae voor die tyd, vol verwagting gereed om die nuus van die geboorte bekend te maak en die klein prinsie aan die wêreld met groot fanfare, bekend te stel. (Vergelyk maar net die onlangse nuus van Harry en Meghan se seuntjie.) Maar, wanneer die kroonprins van die huis van Dawid gebore word, is daar niemand om die groot nuus van Sy geboorte te verkondig nie. Dit terwyl juis hiérdie geboorte werklik wêreldnuus is. Hy is nie slegs die erfgenaam van Dawid se troon nie, Hy is erfgenaam van die wêreld. “Aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk” (Ef. 1:22).


En dan, die groot oomblik het vir hulle aangebreek! Hulle “sien die Kindjie saam met Maria, sy Moeder, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys.” Daar is geen koninklike prag of praal nie. Hulle ontmoet Maria met die Kindjie in baie armsalige omstandighede. Is dit die Koning van die Jode? Hulle laat nie toe dat die nederigheid van die Kindjie hulle afskrik nie, maar laat hulleself deur God se openbaring in Woord en teken lei. “Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud wierook en mirre.” (Dit was beslis nie drie wyse vroue nie want hulle sou eerder ‘n ekstra pak doeke, babapoeier en ‘n groot pot boudjiesalf gebring het.)


Die sterrekykers het die tekens van die tye reg geïnterpreteer en die ster gevolg, maar toe ontdek hulle die lig van die Woord in Jerusalem. Gelukkig bly hulle nie daar nie en volg die Woord wat hulle lei na Betlehem en daar vind hulle die Lig van die wêreld. Die bekoring en bestudering van die sterre is verby want die Lig van die lewende God breek vreugdevol in hulle harte deur – die Kindjie word sélf die Ster, die Skoonste van tien duisend!


Ons kyk saam met die sterrekykers van destyds op, en sien ook die sterre wat helder skyn in die hemelruim. Maar die sterre sonder die Woord beteken niks – die Woord van God triomfeer. Sonder die Woord sit ons met ‘n ewigheidsverlange én sonder die regte adres van die Koning, ons Verlosser Jesus Christus. Die Woord moet ons weer neem na die stal waar ons kan “kniel en aan Hom hulde bewys.” Die plek waar ons “ons reissakke oopmaak en vir Hom geskenke uithaal: goud wierook en mirre”, die plek waar ons onsself onvoorwaardelik aan die Koning oorgee: die goud van ons liefde, die wierook van ons gebede en die mirre van ons gawes.


Daarom is dit belangrik dat ons Sy Woord ken en die weg volg wat God deur Sy Woord aan ons wys, anders bly ons dalk in Jerusalem of loop ons dalk verby Betlehem en vind ons nie die Koning van alle Konings nie. Om net die Woord van God te besit, beteken nie alles is nou reg nie, ons moet onsself ook daaraan onderwerp, dit gehoorsaam en ons deur die Gees laat lei om by die vleesgeworde Woord uit te kom, Jesus Christus, ons Here. Sý ster sal nóóit verskiet nie! Dit is asof Matteus vir ons wil vra: “Waar bevind jy jou, steeds in Jerusalem of in Betlehem?”


“Moenie probeer om God se hand vas te hou nie. Laat Hom joue vashou. Hy doen die hou-werk en jy die vertrou-werk” (Moeder Teresa).


Gebed: Hemelse Vader, lei my deur U heilige Woord verby die sterre tot by die vleesgeworde Woord, Jesus Christus. Gees van God, bewaar my daarvan dat ek só deur die “sterre” van die lewe betower word dat ek die regte adres nie vind en by die Woord uitkom nie. Vergesel my op my daaglikse reis, wees die lig voor my, die skadu agter my en die vaste grond onder my sodat ek veilig by my eindbestemming uitkom. Wees in U groot genade met hulle wat nog soekend is om die regte adres te vind, die adres van die Koningskind van Betlehem, ons Verlosser, Jesus Christus, ons Here. Hef hulle oë omhoog sodat hulle kan sien: Die Woord het mens geword. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page