top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Ingang by die “Kerk van Geboorte” in Betlehem – Laag en klein ingang sodat mens moet buk.

BESOEK UIT DIE OOSTE (3) – JERUSALEM OF BETLEHEM?


Matt. 2:7-8 – “Daarna het Herodus die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het. Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: ‘Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys.”


Die Bybelverhaal van die Betlehemster, is seker deur al die eeue, een van die bekendste verhale. Alhoewel dit menigte mense, en veral kinders, se verbeelding aangegryp het en steeds doen, kan dit ongelukkig ook tot fantasieë aanleiding gee, en hier staan die vals koning Herodus se vals voorneme om aan die Kindjie hulde te bewys, soos ‘n seer duim uit. Die sterrekykers daarenteen, is opreg in hulle voorneme om hulde te bewys. Dit beteken om laag voor die Kindjie te buig en Hom te aanbid. (Daar is vandag steeds ‘n pragtige simboliek aan die “laag buig” verbonde: Die ingang na die “Kerk van Geboorte” in Betlehem waar, volgens oorlewering, die geboorteplek van Jesus is, is laag sodat elkeen wat daar ingaan, laag moet buk ter erkenning van Sy Koningskap. Die “Kerk van Geboorte” is in die sesde eeu deur die Bisantynse keiser Justinian, bo-oor die geboorteplek van Jesus opgerig om dit sodoende te bewaar.)


Die kontras tussen mense se optredes tydens die geboorte van Christus is opvallend – die soeke van die sterrekykers om hulde te bewys, teenoor die onegte soeke van Herodus om Jesus uit vrees, dood te maak. As verteenwoordigers van die heidendom kom die wyse manne uit die Ooste om hulde te bring aan Jesus en simboliseer hulle ‘n positiewe reaksie op God se verlossing deur Jesus Christus. Hulle verteenwoordig ván die voorlopers van geslagte buite die Jodedom, waaronder ons by aansluit, wat tot geloof gekom het en steeds kom.


Herodus se reaksie spreek van haat en vyandigheid. Hy het gevrees hierdie Kindjie gaan inmeng met sy lewe, sy mag, sy invloed en daarom is sy eerste instink om ontslae te raak van Hom. Die godsdiensleiers aan die ander kant, was so vasgevang in hulle gemaksone van tempel rituele, dat Jesus se koms op daardie stadium eintlik niks beteken het vir hulle nie. Hulle het alles van die verwagte Messias geweet en kon met gesag alles uitlê en baie tyd spandeer op soek na die waarheid in die geskrifte, sonder om ooit by die Kindjie uit te kom, sonder om iets daaromtrent te doen!


Deur al die eeue heen is hierdie tendens steeds teenwoordig – die Herodusse wat Christus wil vernietig want Hy meng in met hulle lewens. Hulle verberg hulle afkeer van Jesus agter ‘n masker van huigelary. Hulle wil glo wat hulle wil, doen wat hulle wil en wanneer hulle wil. Jesus se teenwoordigheid dwing ander keuses af – keuses van geloof of ongeloof, óf deur aanvaarding in geloof óf deur verwerping van ongeloof. Die slegte nuus is, ons kan nie neutraal teenoor Christus staan nie! Ons kan nie godsdiens gebruik om die kroon op ons kop te wil hou nie. Die geboorte van Jesus is nie afgesluit nie, Sy “ster” verskyn vandag nog steeds in ons midde en ons moet by Hom uitkom, Hom vind, want die alternatief is die verderf!


Om Jesus te vind, moet ons die gesindheid van die wyse manne openbaar. Hulle het vanaf ‘n ver land gekom en doelgerig gesoek, en met onwrikbare deursettingsvermoë, end-uit volhard totdat hulle by die Verlosser uitgekom het. Christus se menswording was nie ‘n kamma-gebeurtenis nie, Sy menswording was om ons mense van vernietiging te red. Ons moet met ál ons sondes wat van ‘n “ver land,” van geboorte af kom, by Jesus uitkom, anders bly ons in Jerusalem en kom ons nooit in Betlehem uit om Hom te vind nie.


Christus word in “Betlehem” gevind, maar alleen deur hulle wat in die regte gesindheid na Hom soek en Hom as Koning en Verlosser aanbid. Dit is net dáár by Jesus wat ons die kosbaarste geskenk kan ontvang – die lewe wat ons nou al kan leef! Ons “geskenke” aan Hom eis van ons ‘n persoonlike getuienis, nie slegs ‘n belydenis nie, maar ‘n belewenis – ons moet Hom aanneem en in Hom glo – “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12). As kind van God, kan niemand ons belewenis saam met Jesus van ons af wegneem nie, want Hy wat die lewe gegee het en dit in stand hou, leef vir ewig.


“Jy kan nooit waarlik God se seën geniet voordat jy nie opgekyk het na Hom en bely het dat jy Sy Geskenk, Jesus Christus, aangeneem het nie” (John Rice).


Gebed: Dankie hemelse Vader, dat U aan my die onverganklike lewe geskenk het deur Jesus Christus. Dit is voorwaar die kosbaarste geskenk wat enigeen kan ontvang want niemand kan dit van my wegneem nie en dit kan nooit beëindig word nie. Dankie dat ek nie net in “Jerusalem” gebly nie, maar U gevind het in “Betlehem” – Immanuel, God by ons. Daarom bid ek vir elkeen wat geestelik blind is en nie die “ster”, vir U, raakgesien het nie en steeds in duisternis leef, om U, die lig van die lewe, te vind. Ek bid vir hulle wat weet van U, maar steeds só in “wêreldrituele” vasgevang is sodat hulle nie by U uitkom nie, dat hulle geestelik siende word en U sal vind. Ek bid vir die Herodusse van hierdie wêreld dat U deur U Gees in hulle lewe gebore word, sodat U vreugde en vrede hulle ryke deel sal word. In die Naam van Jesus Christus, die Kindjie van Betlehem. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page