top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Betlehem vandag met die “Kerk van Geboorte” in die voorgrond.

DIE EVANGELIE VOLGENS MATTEUS


BESOEK UIT DIE OOSTE (2) – VERBY DIE STER TOT BY DIE WOORD!


Matt. 2:4-6 – “Herodus het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word. Hulle het hom geantwoord: ‘In Betlehem in Judea, want so is dit deur ‘n profeet geskrywe: En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal ‘n leier voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees.”


Terwyl die hele Jerusalem saam met Herodus ontsteld is, berei God reeds vir sy Messias lof voor uit die optrede van die heidene – hulle herken Sy ster vanuit die Ooste – terwyl sy eie mense geen begrip openbaar nie. Dit is verstane dat Herodus ontsteld is, want sy koningskap word bedreig en die hele Jerusalem behoort eintlik verheug te wees, want dit beteken dat hierdie ongenaakbare en gehate koning, onttroon gaan word. Maar hoekom is die hele Jerusalem saam met Herodus ontsteld? Ons moet onthou dat Matteus terugkyk op die gebeure terwyl hy sy evangelie skryf, gevolglik weet hy dat die inwoners van Jerusalem aandadig was aan Jesus se kruisiging, daarom voeg hy hulle sommer van die staanspoor af by.


Die feite was doodgewoon dat Herodes nie eers ’n ware Jood was nie. Hy was van Edomitiese (nageslag van Esau) en Arabiese afkoms en is deur die Romeine as Koning aangestel, nie deur die Jode nie. Teen die einde van sy lewe het Herodes op psigopatiese wyse komplotte teen sy lewe gevrees sodat hy selfs sy vrou, skoonma en sy eie drie seuns vermoor het. Die godsdiensleiers is weer, interessant genoeg, tevrede om net die Skrif te lees, die regte antwoord daaruit te haal, en dan terug te sit en niks te doen nie. Hulle gaan kyk nie eers of daar iemand in Betlehem gebore is nie en sodoende mis hulle die beslissende oomblikke van die wêreldgeskiedenis.


In ooreenstemming met gebruike in daardie tyd word Jesus se geboorte uit Miga 5:1 en 2 Sam. 5:2 deur die godsdiensleiers tot ’n eenheid saamgevoeg: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur ‘n profeet geskrywe: En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal ‘n leier voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees.” Die aard van die koningskap van Jesus is dat Hy ’n leier (koning) sal wees wat ’n herder vir Sy volk sal wees in ooreenstemming met die Dawidiese koningskap. Die soekende God kom ontmoet die soekende mens!


Betlehem, wat “Huis van Brood” beteken as gevolg van die vrugbare koringstreek waarin dit geleë is, is ongeveer 10km Suid van Jerusalem. Dit is ook daar waar Jakob vir Ragel begrawe het. Rut het daar gewoon toe sy Boas ontmoet het en later met hom getroud is. Dawid, die koning van Israel, het daar grootgeword. Dit was dan ook uit die nageslag van Dawid, dat Jesus – die “Brood van die lewe” (Joh. 6:35), wat in die dorpie “Huis van Brood”, vir miljoene gelowiges as ons Verlosser gebore is, en as “Brood van die lewe”, die ewige lewe kom verseker het!


Die sterrekykers daarenteen, het met vasberadenheid die ster gevolg in hulle soektog na die Koning, terwyl Jerusalem se inwoners nie eers die buitengewone ster gesien het nie. Die ster was vir hulle die begin van die Lig, want hulle was nog as heidene, mense van die duisternis. In Sy liefde vir ons, gee God vir ons ook ‘n ster, die ster wat nie net gesien word nie maar ook tasbaar gemaak word. Johannes skryf: “Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe” (1 Joh. 1:1). Jesus het geword wat Hy nooit was nie (mens), maar gebly wat Hy is (God). By Sy menswording het Jesus by sy God-wees ook ‘n mens-wees toegevoeg.


Wat beteken Jesus Christus se menswording vir jou en my? God het Hom op hierdie wyse volledig aan ons kom openbaar sodat ons Hom kan ken. Ons is as God se verteenwoordigers geskep maar die sonde het alles verwoes sodat ons nie meer God se verteenwoordigers kán wees nie. Deur Sy lewe as Mens het Jesus vir ons die voorbeeld kom stel hoe ons as verteenwoordigers en beelddraers behoort te leef. Elkeen wat bereid is om met sy sakke vol sonde by Jesus Christus op te daag en dit daar bely, vat Hy as ons Advokaat na God toe en gaan staan tussen God en ons sodat God nie ons sonde kan raaksien wanneer Hy na ons kyk nie. Hy sien slegs Sy Seun raak.


As Christus nie mens kom word het nie, sou ons “ver van God af, sonder hoop en sonder God in die wêreld gewees het” (Ef. 2:12). Maar deur Jesus Christus as jou Advokaat te aanvaar kan jy verseker wees van ‘n honderd persent slaagsyfer – elke mens wie se saak Hy behartig, kom vry anderkant uit. Daarom het ons almal “deur Hom en deur die een Gees vrye toegang tot die Vader” (Ef. 2:18). Dit is gewaarborg, indien jy met jou sondes na Jesus Christus wat twee duisend jaar gelede “in Betlehem in Judea” gebore is, gaan, sal Hy sorg dat jy vry voor God mag verskyn, ten spyte van jou tekortkominge.


“Jy sal nooit weet dat Christus al is wat jy nodig het nie totdat Christus al is wat jy het”

(Moeder Teresa).


Gebed: Dankie Jesus dat U met U menswording, God aan my kom bekend stel het, my kom wys het hóé om te lewe. En elke keer wanneer ek oor my sondes struikel of wegdwaal van U af, is U as herder daar om my weer die regte koers te laat neem. Hemelse Leidsman, ek loof U Naam vir elke ster wat U op my pad stuur, laat my met volharding in geloof dit volg totdat ek by Jesus uitkom. “As ek dié wonder wil deurgrond, verstar my denke, swyg my mond; ek sien alleen die wonder aan en bly aanbiddend daarvoor staan” (Lied 336:4). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page