top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE GEBOORTE VAN JESUS CHRISTUS (4) – IMMANUEL : TE ALLE TYE BY ONS!

(Luk. 2:1-7)


Matt. 1:23 – “Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem. Die naam beteken God by ons.”


Vergelyk ook Jes. 7:14 – “’n Jong vrou sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.”


Matteus skryf sy evangelie oorwegend vir ‘n jong Joods-Christelike gemeente (Matteaanse gemeente) en beklemtoon hy hier die feit dat Jesus Immanuel genoem sal word. Hierdie karakterisering van Jesus as “Immanuel”, wat “God by ons” beteken, verwys na die Ou Testamentiese verbondsgedagte dat God tussen Sy mense woon. Met hierdie verwysing na Jésus as Immanuel, probeer Matteus om die Jode te oortuig dat Jesus as God se Seun gebore word en dat God dus ‘n nuwe volk (die volgelinge van Jesus) tot stand bring, dat Hy ‘n verbond met hulle sluit soos met ou Israel en dat Hy altyd mét hulle is. (As hulle dit maar net wou glo!)


“Immanuel, God met ons” is dus verbondstaal: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou” (Jes. 41:10). Dit wat die Israeliete deur die Ou Testamentiese geskiedenis telkens moes hoor, klink steeds soos ‘n refrein in ons lewens vandag. Jesus, die Immanuel baba van 2000 jaar gelede, is nie maar net ‘n figuur uit die verlede nie, maar die Een wat steeds Sy kerk in die hede begelei, steeds by ons is.


Een van die wonders van ons Christen-geloof is dat, wanneer ons na God toe draai, Hy reeds daar wag om ons te ontmoet. God is nie afsydig nie, ons moet net in die gejaagdheid van die lewe, stil raak voor Hom, sodat Hy Homself aan ons kan openbaar! Die diepe betekenis van Jesus se vleeswording is dat Hy sy woning tussen ons gemaak het en vir ewig in ons lewe en ons harte wil wees. Wat ‘n wonderlike hoop en vertroosting waaraan ons kan vashou!


Al is Jesus se wonderlike maagdelike geboorte, Sy kruisdood en opstanding nou geskiedenis, bly die feit staan dat Hy die dood oorwin het en dat Hy vandag steeds dinamies werk in dié wat Hom as Verlosser aangeneem het, Hom lief het en Hom dien. Vir ons ís Hy “Immanuel – God met ons”, om ons elke dag te bemoedig; God voor ons om ons op Sy pad te lei; God bo ons om ons te beskerm teen gevaar; God om ons te bevry van slegte herinneringe; God onder ons om ons omhoog te hou wanneer die lewenstorms ons wil verswelg; God binne-in ons om vir ons die regte weg, die waarheid en die lewe te wees; God langs ons om te verhoed dat ons verdwaal – ons hoef Hom nie te soek nie, Hy is by ons, altyd! Ek kan enigiets met Hom deel: my probleme, my vrese, my drome, my ideale, my begeertes vir ‘n dieper geestelike lewe. Het jy al Sy teenwoordigheid só ervaar?


God is alomteenwoordig. Hy weet wat in jou verlede lê en Hy bly lief vir jou. Hy weet wat in jou toekoms lê en daarom kan jy Hom vra om jou pad vir jou gelyk te maak. Hy is langs jou en kan jou van die gevaarlikste vyand beskerm. Hy is bó jou en sien jou selfs waar jy hier sit en lees. Hy is groter as enige negatiewe magte rondom jou. God wil juis op plekke wees waar niemand Hom verwag nie, want Hy kan die mees onwaarskynlike plek op aarde in hemel verander. Mag jy vandag nuut bewus word van sy teenwoordigheid in jou lewe. Glo dat sy Heilige Gees wat in jou woon, jou elke tree van elke dag lei.


  • GOD MET ONS: “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:20b).

  • GOD VOOR ONS: “Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop” (Spr. 3:6).

  • GOD BO ONS: “Die Here kyk uit die hemel en sien al die mense. Van die plek waar Hy as koning sit, sien Hy almal wat onder op die aarde woon” (Ps. 33:13-14).

  • GOD OM ONS: “Want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” (Hand. 17:28).

  • GOD ONDER ONS: “Dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie” (Jes. 40:31). (My Comrades leuse!)

  • GOD BINNE ONS: “Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie?” (1 Kor. 3:16).

  • GOD AGTER ONS: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs’ ” (Jes. 30:21).

  • GOD LANGS ONS: “God beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ‘n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante. … Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou, vir jou sal niks tref nie” (Ps. 91:4,7)

"God besoek ons dikwels, maar die meeste van die tyd is ons nie tuis nie" (Joseph Roux).


Gebed: Here, eintlik moet ek vra: Waar is U nié? U sorg vir my, U gee my krag, U lei my op die regte pad, in U hande is ek altyd veilig. Dankie daarvoor Jesus. Gee dat ek geestelik helder kan sien, U in waarheid dien. Help my deur die krag van U Gees om naby U te leef en U te vertrou vir die toekoms. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page