top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VOLGENS MATTEUS


DIE GESLAGSREGISTER VAN JESUS CHRISTUS (1) – ONVOLDOENDE PAPIERE!

(Luk 3:23-38)


Matt. 1:1-17 – “Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die Seun van Abraham; Abraham was die vader van Isak, Isak van Jakob, en Jakob van Juda en sy broers; Juda was die vader van Peres en Serag by Tamar … Salmon die vader van Boas by Ragab, Boas van Obed by Rut … Dawid die vader van Salomo by die vrou van Urija … Toe is die volk weggevoer na Babilonië toe.”


Matteus begin sy Evangelieverhaal met die geslagsregister van die aardse Jesus om sodoende te verduidelik waar Jesus, die Messias vandaan kom. Die geslagsregister was dus nie net ‘n lang lys wat name bevat van Sy voorouers nie. Gewoonlik is geslagsregisters iets wat ons oorslaan of vinnig deurlees, omdat die lys van name wat genoem word, vir ons moderne lesers van die Bybel betekenisloos is. Wat kan ’n mens enigsins baat by die lees van ’n lys name? Maar vandag is dit nodig dat ons eers ‘n rukkie hier vertoef.


Vir die destydse Oosterlinge was geslagsregisters van uiterste belang. Veral Jesus s’n dra reeds ‘n definitiewe boodskap, ‘n boodskap wat as die geslagsregister vertaal word, dit die "Boek van Jesus Christus" beteken. Enigiemand met die aanspraak dat hy die Messias is, sou moes aantoon dat hy uit die geslag van Abraham en uit die huis van Dawid afkomstig is.


Wat ook uitstaan in die geslagsregister is dat Jesus se geboortenaam ‘Verlosser’ beteken en Christus, wat ‘Messias’ of ‘Gesalfde’ beteken. Die “Seun van Dawid” dui daarop dat Matteus na die wettige koninklike afstamming verwys deur te bevestig dat Jesus as Messias uit die koningsgeslag van Dawid sou kom: “Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan” (2 Sam. 7:16). “Seun van Abraham” dui op die beloftes aan die verbondsvolk se vervulling, wat nie alleen seën vir Israel inhou nie, maar ook vir al die nasies: “In jou (Abraham) sal al die volke van die aarde geseën wees” (Gen. 12:3b; Vgl. ook Gen. 18:18; 22:15-18).


Wat verder merkwaardig is van Matteus se weergawe van die geslagsregister is dat hy vier vroue daarin opneem – Tamar, Ragab, Rut en die vrou van Urija (Batseba) – wat natuurlik ‘n totaal ongehoorde konsep binne die Oosterse gebruik was. Matteus vermy om Batseba, die vrou van Urija, se naam te noem, waarskynlik om ook aan Urija prominensie te verleen en sy beginselvastheid te beklemtoon, eerder as om noodwendig negatief oor haar te wees. Al vier dié vroue het ’n interessante geskiedenis waarin hulle afkoms van ander volkere en God se genade om hulle te seën, uitstaan.


Die “Boek van Jesus Christus” dui nie juis op goeie familiebande of rassuiwerheid nie. Tamar, verlei haar skoonpa Juda, deur haar te vermom as ’n prostituut, en hou hom dan op baie slim wyse aan sy beloftes ten spyte van die gevaar vir haarself (Gen. 38); Ragab, die prostituut en ’n vrou van Kanaän en dus van heidense afkoms, red die twee verspieders in Jerigo met groot teenwoordigheid van gees, ten spyte van die gevaar vir haar eie lewe (Jos. 2); Rut, die Moabiet en ook ‘n heiden, nader Boas as Losser ten spyte van die moontlikheid dat sy verwerp kan word (die boek Rut). As Moabiet, is dit ook heeltemal teenstrydig met die insluiting tot godsdienstige geleenthede: “Geen Moabiet mag lid van die gemeente word nie. Niemand uit hulle nageslag mag ooit lid van die gemeente word nie, selfs nie eers van die tiende geslag nie” (Deut. 23:3); Batseba, moontlik ’n Hetitiese vrou (Urija was van Hetitiese afkoms), was die een met wie Dawid owerspel gepleeg het, (2 Sam. 12)! Skokkend!


Matteus kon seker die name van hierdie vier vroue uit Jesus se geslagsregister gelaat het sodat Sy “pedigree” beter gelyk het, maar hier kom juis die wonderlike tevoorskyn: Sommer heel aan die begin van sy vertelling, wil Matteus beklemtoon dat Jesus alle versperrings afbreek. By Hom is daar nie verskille tussen Jood of Griek, man of vrou, ryk of arm nie, by Hom is almal gelyk – die Evangelie van Jesus Christus vou ons toe in die liefde van God. Jesus pas nóóit in ons stelsels in nie – God se genade en liefde strek veel wyer as mensgemaakte gebruike. Jesus voeg juis mense in Sy adreslys in wat deur ander afgeskryf word, hulle wat nou nie juis by “ons status pas nie,” hulle met wie ons ordentlike mense nou nie eintlik meng nie, hulle wie eintlik “useless” is vir die samelewing. Dit is juis dáár waar ons Jesus sal vind, tussen die seerkrymense met stukkende lewens en stukkende harte.


“Jesus Christus is die Heelmaker van stukkende mense, met onafgehandelde werk, en wat lewe in onvolmaakte tye” (Lona Fowler).


Gebed: Dankie Jesus dat U my ook lief het, al lyk my persoonlikheids-CV beroerd. Dankie dat ek my geraamtes wat opgehoop het in die kas, by U kan blootlê want dit is die rede waarom U aarde toe gekom het. Ek met my “verkeerde kwalifikasies,” my “verkeerde papiere,” my “swak CV”, kwalifiseer om ook op U adreslys te verskyn. En ek hoef nie eers te wag totdat U my besoek nie, U is reeds by my, elke oomblik van elke dag – Immanuel, God by ons, God by my! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page