top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


GEDAGTE VIR VANDAG – WOENSDAG, 8 MEI 2019.


GEBED VIR DIE VERKIESING


Romeine 11:36 – “Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.”


“Ons Vader wat in die hemel is”, ons kniel vandag voor U, nederig en afhanklik van U onverdiende genade. Ons pleit by U vir Goddelike ingryping in ons land Suid-Afrika. Ons verklaar U Vaderskap oor ons land. Ons verklaar Jesus Christus as die Herder en die Heilige Gees as die Een wat Suid-Afrika op die regte pad wil lei.


“Laat U Naam geheilig word”, die Naam van Jesus Christus geëer en verhoog sal word oor ons land en in elke sektor van die samelewing. Gee dat ons só sal optree dat mense U in ons sal herken en aan U die eer sal gee.


“Laat U koninkryk kom.” Gee dat die uitslag van hierdie verkiesing sal lei tot die uitbreiding van U koninkryk in Suid-Afrika. Gee dat elke ander koninkryk, hetsy menslik, demonies of kulties, oud of modern, uitheems of inheems, privaat of openbaar, voor U koninkryk, U reg en geregtigheid sal buig. Bevry ons van ons eie selfsug.


“Laat U wil op die aarde geskied, net soos in die hemel.” Ons bid vir helderheid en nugterheid van verstand sodat ons sal kan onderskei wie U vir hierdie seisoen gekies het. Ons bid dat daar tydens die verkiesing, leiers met integriteit en ‘n gewilligheid om te dien, vir die Nasionale Vergadering en vir die Provinsiale Regeringsetels in al nege provinsies verkies sal word. Gee die leiers wat verkies word die wysheid en nederigheid om by U rigting te vra vir die pad vorentoe. Mag U waarheid hulle lei, U sin vir geregtigheid hulle gewetes aanspreek en U liefde hulle harte oopmaak sodat U wil in ons land gedoen kan word. Maak ons gewillig om U wil te dóén!


“Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Here God, net U kan die juk van armoede en werkloosheid en die sisteme wat dit bevorder, in ons land verbreek. Gee die kerk ook wysheid oor hoe om sinvol betrokke te raak by noodverligting. Maak ons sensitief vir die noodkrete van dié wat ly, dat ons nie koud sal wegdraai van enigiemand wat ons kon help nie.


“En vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.” Heilige Gees, wil U deur vergifnis en versoening, die harte en gedagtes van ál die mense in Suid-Afrika kom vernuwe. Ons bely die sondes van ons land. Ons almal sondig nog elke dag en skiet ver te kort van die heiligheid van God. Laat ons in gehoorsaamheid aan U, almal vergewe wat teen ons gesondig het.


“En laat ons nie in die versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose.” Here, gee dat geen leier of enige persoon wat deur die Bose gebruik word, deur die verkiesingsproses in enige sleutelposisies aangestel word nie, en dié wat reeds daar is, verwyder sal word. Ons Vader, onluste, stakings en geweld het nou so deel geword van ons land as gevolg van vals gerugte, beskuldigings, emosionele wonde van die verlede, rassisme tussen al die etniese groepe, swak dienslewering en die swak ekonomiese situasie in ons land. Bring vrede in ons land in die aanloop tot die verkiesing, tydens die verkiesing en daarna.


“Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.” Ons wy opnuut ons land aan U o God en aan U wil. U het reg op alles. Gee dat ons as die lede van U liggaam sal aanhou bid, sal staan vir Bybelse waarheid en Goddelike waardes, mede Christene sal aanmoedig om te stem, nie ‘n aandeel sal hê, of verduur in leuens, halwe waarhede, korrupsie en toesmeerdery nie, nie verdeeldheid sal saai nie en nie sal deelneem aan negatiewe of bose praatjies en beskuldigings nie. Maak ons harte oop vir mekaar se standpunte, sodat ons met Christus-harte in hierdie mooi land, kan saamleef. Alle lof en eer aan U. In die Naam van ons Here Jesus Christus bid ons dit, die mooiste Naam wat ons ken.


Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page