top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


UITNODIGING

Liewe E-Kerk lesersvriende,


Ons het Vrydag, 3 Mei 2019 afgesluit met Paulus se “Brief aan die Romeine” en gaan DV vir die volgende paar maande op “Die Evangelie volgens Matteus” konsentreer. Baie dankie dat julle sedert April 2018 saam met Paulus en ons, die genade van God beleef het in die “Brief aan die Romeine.” Ons glo julle het ryke vertroosting, bemoediging en vrede met God gevind deur die “Brief.” Ons bid dat die Heilige Gees die boodskap van Paulus waar sal maak in jou lewe.


Die Evangelie volgens Matteus


Ons wil julle uitnooi om saam met ons die volgende paar maande by Jesus se dissipelkring aan te sluit en saam met Matteus deur sy evangelie te stap en deur sy ondervinding, as een van die “most knowledgeable persons”, te ervaar hoe dit was om saam met Jesus, ons Messias, Sy laaste drie jaar op aarde te leef en belangrikste van alles, te belééf, om uit te vind wie Jesus ís! God wil hê dat ons Hom sal leer ken en volg, Hom vertrou in elke opdrag waarvoor Hy ons roep en dit vir ons ‘n avontuur word om betrokke te raak by die planne wat Hy vir elkeen van ons in die besonder, uitgedink het.


Bid saam met ons dat alles wat ons skryf en per e-pos aanstuur, daarop gemik is om God te verheerlik en gedurig aan Hom die eer te gee. Dit gaan nie oor ons nie, maar oor die Here wat ons stuur. Ons is net die gehoorsame kanaal waardeur Sy lig straal en ons dank die Here vir Sy genade, dat ons dit wel mag doen. Ons kan dit egter net bereik deur die leiding van die Heilige Gees. Hy staan elke dag gereed om ons te omgord met Sy krag en insig sodat ons Sy kragtige getuies kan wees – “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees …” (Hand. 1:8). Ons kan maar net in gehoorsaamheid en aanbidding reageer.


“Ons taak as leke is om ons verhouding met Christus met soveel intensiteit uit te leef dat dit aansteeklik sal wees” (Paul Tournier).


Gebed: Hemel Vader, skep die beeld van U Seun in my sodat ek U metodes en doelstellings kan uitleef. Jesus, ons gebed is dat ons saam met Matteus vir die volgende paar maande sal stap en U deur ons geestesoë sal sien en belééf, sodat ons saam met hom by U hart kan uitkom, U hart wat vol liefde is vir sondaarmense soos ons. Heilige Gees, help ons om, terwyl ons saam met Matteus sy evangelie beleef, die eggo’s van U stem sal hoor sodat ons nie net Jesus, Sondae by die kerkgebou sal raakloop nie, maar elke oomblik by ons in vreugde sal ervaar – Immanuel, God by ons. Maak ons harte en denke oop vir U geestelike invloed en wysheid. Laat ons getuienis strek tot eer en verheerliking van God en deur U, o Gees, besiel sal word. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page