top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


LOFPRYSING (1) – BOU OP DIE REGTE FONDASIE EN STAAN VAS IN GEHOORSAAMHEID!


Rom. 16:25-26 – “God is magtig om julle te laat vasstaan ooreenkomstig die evangelie van Jesus Christus wat ek verkondig, en ooreenkomstig die openbaring van die geheimenis. Eeue lank het dit geheim gebly, maar nou is dit geopenbaar. Aan die hand van die geskrifte van die profete en in opdrag van die ewige God is dit aan alle nasies bekend gemaak sodat hulle in God kan glo en aan Hom gehoorsaam kan wees.”


Paulus het sy brief aan die Christen-gemeente in Rome voltooi. Onder leiding van die Heilige Gees het hy geweldige feite wat lank verborge was, bekend gemaak, “die geheimenis openbaar.” Daarom was Paulus ook een van die boodskappers wat die evangelie van Jesus Christus só, tot by ons gebring het. Jesus Christus is die Bron van die evangelie, Hy ís die Evangelie, en Paulus is een van die verspreiders van hierdie evangelie. Hy laat die gelowiges van Rome en gelowiges van alle tye, met al hierdie wonderlike geloofskennis in die hande van God. Hy twyfel nie daaraan dat ons standvastig kan vashou, glo en gehoorsaam aan dít wat ons gelees het nie, want “God is magtig om ons daarin te laat vasstaan.” Sonder Jesus Christus, is daar nié ‘n evangelie nie; sonder Christene wat dit versprei, sal ander dit nooit hoor nie!


Dieselfde God wat Jesus Christus uit die dood opgewek het, het ons sondaars uit die mag van die Bose uitgeruk. Deur al die eeue heen probeer die mens om God se werk en die evangelie van Jesus Christus in die wiele te ry. Van buite die Kerk dreig gevare soos vervolging, dwaalleer, versoekings, sekularisme; van binne dreig verdeeldheid, konflik, kleingeloof, wêreldgelykvormigheid, vormgodsdiens – die kerk wat veronderstel is om die plek van liefde te wees, is op vertoon en mag ingestel, ‘n godsdienstige gemeenskap van verskillende klasse: ryk en arm, belangrik en gering, sterkes- en swakkes in geloof.


Maar, dankie tog, God het nie die kerk in mense se hande gelaat nie. God weier ál die eeue heen om Sy kerk as verlore op te gee. Ten spyte van die verbondsbrekende Israel en Juda in die Ou Testament, en die onenige gemeentes in die Nuwe Testament, hou Hy steeds Sy verbond in stand – ons bly dienaars van Koning Jesus, want ons gelowiges is, en bly: “… die gemeente van God, wat Hy vir Hom afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort …” (1 Kor. 1:2). Ten spyte van fel kritiek teen die kerk, sal die kerk daar wees tot aan die einde van die tyd. En ons gelowiges in Christus “is medewerkers in diens van God, die saailand van God, die gebou van God …, die tempel van God waar die Gees van God in woon” (1 Kor. 3:9,16).


Ons is die “gebou van God en ons gaan getoets word met vuur” (1 Kor. 3:13). Huisbou verg baie beplanning. Swak beplanning en ontoereikende boumateriaal, sal nooit die kragte van die natuur kan weerstaan nie, wat nog te sê van God se vuur. Net so werk dit met ons as “lewende tempels van God”, ons moet saam met die Heilige Gees, beplan en bou. Ons moet vasgeanker wees op Jesus Christus, wat ons “fondament” is en waarop ons hele huishouding, in die geloof vasstaan dat Hy ons énigste Verlosser is.


Met die fondament klaar gelê, kan ons saam met God begin om die mure te bou. Die Heilige Gees as die “sement” waarmee ons huis se stene aanmekaar gehou word, sal verseker dat die huis nooit kraak of inmekaar tuimel nie. Wanneer dit begin kraak, voeg net weer bietjie meer “sement” in soos, kerk toe gaan, Bybel lees en -studie doen, gebed – dit bind die huis saam tot ‘n sterk eenheid. Bybellees wys die krake uit en gedurige gebed doen die herstelwerk. Tydens die samekomste van die gemeente, word die boustene vasgemessel want kerkwerk is ook bouwerk. Elke keer wanneer ons uit dankbaarheid iets doen vir die Kerk, is ons besig om boustene te lê in God se huis. Of dit nou beteken om op die Kerkraad te dien, of om Kategeet te wees, basaar te hou, tee te skink, of wat ook al, doen moeite om biddend, vas te stel watter spesifieke gawes God aan jou geskenk het, Hy wil jou gawes gebruik om die mure stewig te bou.


Die dakkappe en dak kan nou opgesit word. Jesus Christus ons Here, is in ‘n neutedop ons evangelie. Ons bely Hom in sy mensheid met die Naam Jesus, erken Hom as God se Gesalfde met die Naam Christus, en erken dat Hy ons (almal en alles) se Eienaar en Beskikker is. As Eienaar, verseker Hý, as die “dak van die huis” en die “fondament”, dat ons beskerm is teen die natuurelemente soos koue, hitte, hael en wind. As Beskikker, is Hy die versekering ons sal die aanslae van die lewe kan weerstaan, selfs wanneer God se vuurtoets, gebeur.


Die vensters, die deure en versierings binne is onsself. Deur ons kry die wêreld die geleentheid om te sien wat binne God se huishouding aangaan, of ons as God se vrygespreektes, dit in geloof aanvaar en dit só beleef, God tot sieraad strek! Ander mense kry die geleentheid om te sien of hulle ook deel wil wees van God se huishouding, want ons is bereid om dieselfde vir hulle te doen as wat God vir ons gedoen het. Vuil vensters en toe deure, versper die uitsig en veroorsaak dat mense nooit kan sien wat binne die gebou gebeur nie, en dan verbystap en die Kerk ignoreer. Vuil vensters soos onenigheid, onnodige kantlynsake as versierings, ‘n Christen wat nie leef en optree soos die Bybelse voorskrifte nie, is soos toe deure en stoot mense af. Elkeen behoort natuurlik sy voorkeur uit te leef, solank ons net onthou dat die dag gaan kom wat God elkeen se bouwerk met vuur sal toets. Dit gaan nie oor jou nie, dit gaan oor God, laat jou versierings tot God se sieraad strek!


Die lewensverhaal van die kerk bestaan daaruit dat dit “gebou” is deur ‘n sentlose Skrynwerker en Sy armoedige volgelinge waarvan die meeste, eenvoudige vissermanne was. Hoe lyk my en jou lewensverhaal? Is ons huise gebou met God Drie-enig of bou ons soos ons wil en gebruik ons sandstene van selfgerigtheid, verskonings en mensgemaakte gebruike? Is ek besig met bouwerk of brouwerk wanneer dit by die bou van my huwelik kom? Gebruik ek stene van naasteliefde of stene van eie-ek en meerderwaardigheid wanneer dit by die bou van die liggaam kom? Offer jouself in liefde aan God en jy sal die vervulling daarvan smaak om ‘n medewerker te wees aan die bouwerk van die liggaam van Christus! Laai die “Handleiding van Geestelike Bouwerk” in jou lewe af en lees dit gereeld. Dit is oor en oor die moeite werd want die Bybel is die enigste Boek waar die Outeur elke slag by Sy lesers aanwesig is!


“Die Bybel lewe, dit praat met my; dit het voete, dit agtervolg my; dit het hande, dit lê beslag op my” (Martin Luther).


Gebed: Here, as U nie die huis bou nie, swoeg ek wat daaraan bou, tevergeefs. Jesus Christus, anker my bouwerk op U fondasie. Heilige Gees, wees die sement wat my boustene aanmekaar bind. Maak die boustene stewig met U liefde en verwyder my grille en giere daaruit. God ons Vader, wees U die dak oor my kop en beskerm my teen die lewensgevare van die wêreld. Maak my ‘n skoon venster en ‘n oop deur en voeg mooi versiersels by, sodat ander ingenooi kan word, daar kan tuis voel en kan deel in U verheerliking. En wanneer ek nie meer weet watter boumateriaal om te gebruik nie, deel met my die waarheid van U Woord. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page