top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


LAASTE OPDRAGTE (4) – IMMANUEL : GOD MET ONS!


Rom. 16:19-20 – “Almal het gehoor van julle gehoorsaamheid aan die evangelie. Ek is baie bly oor julle, en ek sou graag wou sien dat julle alles weet van die goeie en niks wil weet van die slegte nie. God wat vrede gee, sal die Satan spoedig onder julle voete verpletter. Die genade van ons Here Jesus is by julle!”


Vergelyk ook Matt. 10:16-18 – “Onthou: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe. Pas op vir die mense. Hulle sal julle aan die geregshowe uitlewer, en in hulle sinagoges sal hulle julle gesel. Ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word ter wille van My.”


Paulus se waarskuwing teenoor dwaalleraars tree nou eers op die agtergrond. Hy betuig nou sy dankbaarheid aan sy lesers se “gehoorsaamheid aan die evangelie.” Die evangelie vra nie net dat ons daarin moet glo nie, maar ook gehoorsaam wees daaraan, onsself daaraan onderwerp en getrou bly aan die evangeliewaarheid! Die evangelie is ons gelowiges se krag tot redding, nie die mag van die wêreld nie. Die mag van die wêreld vergaan, rykdom vergaan, mag van politici word korrup en vergaan, wêreldleiers klou vas aan hebsug, maar die mag van God is genesend! Die evangelie is genesend, daarom is dit vir ons goed om “alles te wil weet van die goeie en niks wil weet van die slegte nie.”


Uiteraard is dit natuurlik goed om die noodsaaklike kennis en voorligting van die slegte dinge te ontvang, maar dit is nie nodig vir ons gelowiges om onsself daaraan te onderwerp nie. Ongelukkig weet ons ook dat die evangelie nie soos ‘n versekeringspolis werk nie – ons glo in Jesus Christus in ruil vir allerhande byvoordele van Sy kant af soos byvoorbeeld voorspoed en geluk, ‘n tipe van “welvaartsgodsdiens.” Met ander woorde, omdat ek ‘n Christen is, sal dit heeltyd met my goed gaan. God is dit verskuldig aan my, ek het mos my kant van die “deal” gebring.


Ongelukkig werk dit nie só nie. Jesus self het ook nie so ‘n godsdiens geken nie, inteendeel, Hy het goed geweet dat dit nie aldag maklik sal wees vir ons om Sy dissipels te wees nie, daarom het Hy ons gewaarsku om “versigtig soos slange en opreg soos duiwe” te wees wanneer ons oor die evangelie getuig. Baie mense sal dit aanvaar maar baie sal só kwaad word dat hulle ons gelowiges aan die “geregshowe uitlewer.” Dit is gevolglik verskriklik maklik om moed te verloor, veral wanneer jy probleme ondervind en jouself dan eerder onttrek aan die heilsame werking van die evangelie. Dit is juis dán wanneer jy die kwesbaarste is vir die slinkse planne van Satan. Hy is maar altyd té gereed en gewillig om jou van die Here af weg te lei na die pad van wanhoop, en wanneer dit gebeur, wonder jy of jy ooit weer uit die donker put van terneergedruktheid gaan kom.


Die pad van ware geloof is nie altyd maklik nie. Wanneer alles goed verloop in jou lewe, is dit betreklik maklik om ‘n intieme verhouding met Christus te handhaaf, maar wanneer jy terugslae beleef en te veel “wil weet van die slegte”, is daar ‘n neiging om weg te dryf van God en vertroue te verloor dat die Heilige Gees, elke oomblik by jou is. Maar, maak nie saak hoe sleg die omstandighede ook al is nie, Jesus waarborg dat hy saam met ons op hierdie moeilike en smal pad sal stap. Sy Gees sal ons gids wees en ons vervul met “vrede”, want “God sal die Satan onder ons voete verpletter.”


Ons geloof in Christus, is nie ‘n versekeringspolis téén die “slegte” dinge in die lewe nie en as ons in Jesus glo omdat ons nie terugslae of probleme wil ondervind nie, dan glo ons om die verkeerde redes in Hom. As ons egter glo uit dankbaarheid wat Hy reeds vir ons aan die kruis gedoen het, ten spyte van ons slegte omstandighede, dan is ons by die regte adres. Dan sal ons weet wanneer dit donker word oor ons, dit Jesus se skaduwee is wat oor ons daal terwyl Hy sy vertroostende deurboorde hande op ons skouers plaas en sê: “Ek gee jou die ewige lewe, en jy sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal jou uit My hand ruk nie” (Joh. 10:28). Selfs in ons slegste dae, is ons veilig in Christus se hande. Die fynskrif op Sy “versekerinspolis” vir ons gelowiges bevestig dat selfs wanneer ek struikel, of twyfel, of die een of ander sonde begaan het, ek veilig is in Sy hand. “Die genade van ons Here Jesus is by ons”, dit omsluit ons ganse lewe!


“Die evangelie is die mooiste, mees hartverwarmende woorde in die wêreld: Ons hoef nie op te klim na God toe nie, Hy het gekies om af te kom na ons toe, om mens te word, en by ons te bly tot aan die einde van alle tye” (Martin Luther).


Gebed: Dankie Here Jesus, dat U my heeltyd op die veiligste plek denkbaar hou, in U eie hande. Dit is hier waar U gedurig ‘n ogie oor my kan hou. En Here, wanneer dit voel dat ek uit U hande geval het, vergewe asseblief my kleingeloof. Weerhou my daarvan om te veel te probeer weet van “die slegte”, die lelike en sondige, bewaar my van die vele versoekings wat daaruit kan voortspruit, “verpletter eerder satan onder my voete.” Dankie vir U “genade wat by my bly”, dit is onverdiende guns alleen. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page