top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


Volgens oorlewering: Die graf van Jesus in die Tuin van Getsemane – DIT IS LEEG!

DIE LEË GRAF – OORWINNAAR OOR DIE DOOD!

(Matt. 28:1-8; Mark. 16:1-8; Luk. 24:1-12)

Joh. 20:3-8 – “Petrus en die ander dissipel (Johannes) het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom. Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie. Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê, ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie maar was eenkant afsonderlik opgerol. Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo.”


Ons het Sondag, 21 April, Paassondag gevier. Die Christelike geloof wentel grootliks rondom die feit dat Jesus Christus opgestaan het uit die dood – daarby staan of val ons! Dit beteken ons glo ook dat Jesus die graf oorwin het. Soos Johannes het ons ook in die leë graf ingekyk en die verlatenheid daarvan gee ons hoop. Ons leef met die wete dat Christus waarlik opgestaan het en dat sterflikheid saam met Hom opgestaan het. As Jesus opgestaan het, moet Hy dus êrens leef, en dit kan nie anders wees as ín ons wat in Hom glo nie. Die krag van Sy opstanding is dieselfde krag wat ons van God ontvang om in Sy opstanding te glo en dit te bely, en so vorm ons die kerk. Ons gelowiges maak so saam die koninkryk van God sigbaar ten spyte van verskille.


Indien ons wil hê die wêreld moet saam met ons glo dat Jesus Christus se opstanding uit die dood, nie net ‘n historiese merkwaardigheid is nie en ons dit daarom Sondae bely, moet ons met sigbare handelinge, mekaar in die geloof as broers en susters aanvaar en so ook bely. Dit beteken om met Christusharte te leef, ‘n lopende bewys is, dat Jesus die graf oorwin het. Ons is anders as die wêreld omdat ons saam met Christus opgestaan het en daarom saam met Hom na die dinge daar “Bo” streef. Ons is nie in ‘n wedloop om by die hemel uit te kom nie maar deel van die wedloop omdat ons deur die geloof in Christus gered is: “Almal wat aan ‘n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ‘n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ‘n onverganklike” (1 Kor. 9:25).


Ons belydenis dat Jesus opgestaan het, moet sigbare dade word, dat Jesus in ons leef, dat ons anders as die wêreld is omdat ons saam met Christus opgestaan het en nou nuwe mense is. “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou” (2 Kor. 5:17-18). As ons dus nog steeds aan die ou mens met al sy sondes vasklou, laat ons Christus steeds aan die kruis hang, los ons Hom steeds in die graf en maak ons Sy opstanding, iets wat nooit gebeur het nie!


Elke keer wanneer ons in die leë graf inkyk en opreg na ons opgestane Heer soek, sal ons ‘n verrassende ontdekking maak: Dit is ‘n verlate graf wat ons hoop gee. Die leë graf belowe dat niks, selfs nie eers die dood nie, die koninkryk van God laat onherstelbare verliese ly nie! Paasfees beteken nuwe lewe, Godgegewe lewe, want God lewe! Jesus Christus lewe! Ons kan jubel in Sy opstanding! Solank daar nie geloof in die opstanding is nie, is daar alleen maar droefheid.


Ons is geroep om te getuig. Die opstanding van Jesus Christus vereis van ons om daaroor te praat, om daarvan te vertel. Die Heilige Gees staan gereed om ons te omgord met Sy krag sodat ons Sy kragtige getuie kan wees – net daar waar Hy ons geplaas het om te leef, te werk en te getuig. ‘n Aktiewe volgeling is ‘n Geesvervulde volgeling want as ons nie getuig daarvan nie, word die vergifnis van sonde nie ‘n werklikheid in mense se lewens nie. Die krag van Jesus se opstanding is die krag van ons gelowiges se weergeboorte! Paastyd is opstandingstyd, vernuwingstyd. Die krag van Jesus se opstanding is dieselfde krag wat ons vrees, (soos die soldate), en ons ontnugtering, (soos die vroue), wegneem. Toe Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy nie net die dood en satan oorwin nie, maar al ons lyding, swaarkry, dinge wat die lewe vir ons ondraaglik maak, oorwin en daar by Sy graf gelos!


Jesus leef en Hy wag om Sy lewe met ons te deel: “Kyk, ek staan by (jou) deur, (die deur van jou hart), en Ek klop. As (jy) My stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by (jou) ingaan en saam met (jou) die feesmaal hou, en (jy) saam met My” (Op. 3:20). Jesus dwing Homself nie op iemand af nie. Hy wag dat jy die geloofsleutel in jou kant van die deur draai, Hom innooi in jou lewe in sodat jy die werklikheid van Sy teenwoordigheid kan leer ken!


“Christus het alles wat toe was, oopgemaak ... Ook die donker van hierdie wêreld se deur sodat ons ‘n toekoms kan hê. Ons lewe eindig nie meer met ‘n Kruisigings Vrydag, of met ‘n Saterdag in ‘n kerkhoftuin, maar met ‘n Sondag, met die opstanding uit die dood” (Murray Janson).


Gebed: Dankie opgestane Heiland, dankie dat U opstanding my weergeboorte moontlik gemaak het. As nuwe mens maak ek die deur van my hart oop vir U want ek weet U sal my vertroos en versterk en my deur die donker dieptes van hierdie lewe lei. En ja Here, ek wil hierdie geweldige nuus dat U leef, met ander deel. Help my om elke geleentheid te benut om elke keer wanneer ek oor U getuig, deur U Gees die regte woorde vir die regte geleentheid sal vind. Bewaar my daarvan om wat ek bely, te weerspreek met hoe ek leef. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page