top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


PERSOONLIKE GROETE (2) – OPREGTE CHRISTEN GESINDHEID KWEEK GASVRYHEIDSVERANTWOORDELIKHEID!


Rom. 16:1-2 – “Ek beveel ons suster Febe wat diaken is in die gemeente in Kenchreë, by julle aan. Ontvang haar soos dit mense wat in die Here glo, betaam, en staan haar by in enige saak waarin sy julle hulp nodig kry, want sy was vir baie, en ook vir my, tot steun.”


Vergelyk ook 1 Pet. 4:8-10 – “Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes. Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla. As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ‘n genadegawe ontvang het, die ander dien.”


Ons het gister gesien dat gasvryheid “liefde vir vreemdelinge” beteken. Dit is ook sinoniem om deernis en empatie aan iemand te betoon, veral iemand wat nie heeltemal bekend is aan jou nie. Gasvryheid is een van die Christen se gawes om liefde te betoon, liefde sodat vriend en vreemdeling by mekaar uitkom. Dit is ‘n handeling wat baie meer is as om iemand welkom te laat voel. In die Bybelse konteks van hierdie handeling, sal dit beteken om ná die tyd te kan sê: “Daar is met ‘n Christushart vir my omgegee!”


Dit word vertel dat St. Benedictus sy middeleeuse monnike geleer het dat elke gas wat by die klooster aandoen, soos Christus self ontvang moes word, want, het hy gesê: “Eendag sal God sê: ‘Ek het as gas gekom en jy het my ontvang.’ In ons moderne manier van lewe het gasvryheid ‘n bietjie agterweë geraak. Behalwe dat dit moeite is om vreemdelinge in jou huis in te laat, (hulle sal dalk inbreuk maak op ons privaatheid), plaas dit nog ‘n finansiële las ook op jou. Dit is maklik en lekker om vir familie en jou kinders die gastekamer reg te maak, ‘n geskenkie selfs toe te draai en op die handdoeke op die bed, en ‘n blommetjie of twee langs die bed, te plaas, alles sodat hulle welkom voel en omdat jy hulle liefhet.


Petrus kom egter nou en vermaan ons om “gasvry te wees sonder om te kla.” Ons kan sien dat hy en Paulus moontlik baie kontak met mekaar gehad het, want daar is verskeie ooreenkomste wat inhoud betref, tussen sy briewe en Paulus se briewe. Deel van hierdie ooreenkomste is dat ons Christene as God se kinders, die voorbeeld van ons Vader moet neem en ‘n gasvryheidsverantwoordelikheid moet aanneem, dit moet deel van ons Christen-gesindheid wees. Ons moet mekaar dien met gasvryheid want ons doen dit uit liefde, nie om onsself beter te laat voel nie, maar om ander groter te laat vertoon. Jy gebruik jou genadegawe van liefde om vir ander die beste sitplekke in God se koninkryk aan te wys.


Dit is slegs gehoorsaamheid aan God wat ons gewillig maak om gasvryheid as vrug van die Gees uit te leef. Deur genade skenk Christus ons die vrymoedigheid en die ingesteldheid, en die Gees wys aan ons die regte geleenthede uit, om God te verheerlik deur ander mense op die regte maniere te dien. Ons as Christene is deel van Christus se liggaam, die kerk, en is daarom in hierdie wêreld nie vir onsself nie, ons is hier om van vreemdelinge, vriende te maak.


Dit beteken natuurlik nie om te “entertain” nie. Deel eerder in hulle vreugdes of hartseer, wees ‘n oase waar mense liefgehê kan word, tuis kan voel en voor gebid word: “Liewe Gaius, jy handel reg in wat jy vir jou medegelowiges doen, en dit nog terwyl jy hulle nie eens geken het nie. Hulle het hier voor die gemeente vertel van jou liefde. Hulle is op reis om Christus te verkondig, en hulle ontvang niks van die heidene nie. Dit is dus óns plig om sulke mense te onderhou, sodat ons daardeur ons deel kan bydra tot die verspreiding van die waarheid” (3 Joh. Vers 5-8). Ons het as Christene dus ‘n deel om by te dra. Gasvryheid is Bybels en moet met welwillendheid toegepas word. Maak jouself los uit daardie gemakskombersie waarin jy jou toegewikkel het, en doen aan ander wat jy graag aan jouself gedoen wil hê. (Jesus se “Goue Reël” – Matt. 7:12).


Soos Febe was Gaius ‘n weldoener wat sy huis oopgestel het vir vreemdelinge. Toe hulle later weer terugkeer by hulle gemeente in Korinte, het hulle getuig van Gaius wat ‘n oop hart het vir ander Christene. Hierdie netwerk van vriendskap en gasvryheid onder die vroeë Christene was die geheim van die suksesvolle uitbreiding van God se koninkryk, en wat tot gevolg gehad het, dat die kerk binne ‘n relatiewe kort tydjie die hele wêreld bereik het.


Miskien kan ons by ons broers en susters soos o.a. Gaius en Febe van twee duisend jaar gelede, gaan leer hoe om bymekaar betrokke te raak en gasvryheid wat ‘n belangrike eienskap, of merkteken is van die evangelie, uit te leef. Om dit reg te kry, is dit nie eers nodig om jou daaglikse program of selfs roetine te onderbreek nie, bied jou empatie, liefde en begrip aan en wys dat Jesus se evangelie en woorde, (veral Sy “Goue Reël”) in jou lewe grond geraak het. Dan sal God verheerlik word en ander mense op die regte manier gedien word.


“Opregte gasvryheid is die waarmerk van opregte geloof” (Augustinus).


Gebed: Here, maak my ‘n omgeemens wat in die vriendskaplike gesprek en die bemoedigende woord, U liefde aan ander openbaar. Help my om elke mens met respek te ontvang, dié wat suksesvol is én dié wat misluk het en voel hulle tel nie regtig in die samelewing nie. “Liewe Heer, maak my oë elke dag oop sodat ek U sal raaksien in almal wat my pad kruis. Help my om U in hulle te herken en te sê: ‘Jesus, my pasiënt, hoe wonderlik is dit om U te kan dien” (Moeder Teresa). Dankie Here dat U my, soos vir suster Febe, raaksien en ook gebruik om in U koninkryk dienswerk te kan verrig, ten spyte van die foute wat ek maak. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page