top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


PAULUS SE PLAN OM ROME TE BESOEK (5) – LEERSKOOL VAN GEBED!


Rom. 15:30 – “Ek versoek jullle dan dringend, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus en op grond van die liefde wat van die Heilige Gees kom: Stry saam met my deur vir my te bid …”


Paulus is baie bekommerd oor sy besoek aan Jerusalem, daarom versoek hy die Romeinse Christene “dringend” om vir hom te bid. Hy rig sy versoek “in die Naam van ons Here Jesus Christus en op grond van die liefde wat van die Heilige Gees kom.” Hy roep die gesag van Jesus Christus in, want gebed is vir hom ‘n lewensbelangrike saak, en nie sommer net ‘n stukkie vroom godsdienstige roetine nie. As hulle werklik lewe in die liefde wat die Heilige Gees in hulle harte uitgestort het (Rom. 5:5), dan moet hulle so met die apostel meelewe dat hulle nie die gebed vir hom sal nalaat nie.


God het vir ons ‘n deur oopgemaak en Hom vir ons toeganklik gemaak deur die “Woord wat mens kom word het” (Joh. 1:14). Jesus het op Sy beurt vir ons die “Gees van die waarheid gegee wat ons lei in die waarheid.” Wanneer ons aan die Gees oorgegee is, word ons gelei deur die Gees om te bid. Hoe meer ons onder die heerskappy van die Gees lewe, hoe meer sal ons volgens die wil van God bid want ons moet alles “biddend doen en by elke geleentheid God smeek deur die Gees” (Ef. 6:18).


Daar is ook belangrike voorwaardes aan verbonde: Eerstens moet ons in die Naam van Christus na die troon van genade gaan, Hy is die versoening vir ons by die Vader. Jesus waarborg gebedsverhoring as ons in Hom bly en Hy in ons: “As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry” (Joh. 15:7). Dit beteken dat die Gees ons sal aanspoor tot vrymoedigheid om te bid as ons die beloftes van die Woord ken.


Gebedsdrang groei namate ons in die omgang met die Woord getrou is. Die Gees help ons om gehoorsaam te “bly in Christus en Sy woorde” – om in Sy woorde te bly en in geloof vashou aan Christus. Ons bid nie sommer asof geloof net ‘n emosionele saak is nie, as gelowiges, vra ons ook Jesus om ons “te leer bid”. As gelowiges moet ons by die beste Leermeester leer en by Sy gebedskool inskryf – die beste “geestelike kwalifikasie” word by daardie skool verkry!


Wanneer ons soos Paulus in nood verkeer, kan ons maar soos die dissipels vra: “Here, leer ons bid!” (Luk. 11:1) Ons vra dan vir Hom om die deur na ‘n voller, ryker en edeler lewe oop te maak. Die begeerte om te bid is die begeerte om uit te reik en die hand van God te vind, en saam met Hom as my Begeleier deur die lewe te gaan. Ons kan ook ander vra om vir ons te bid. Dit is altyd goed om te weet jy is toegevou in die warmte van gebede van ander gelowiges. Al is ons ver van mekaar, kan ons steeds verenig in gebed by die genadetroon van God!


God se vermoë om gebed te beantwoord, is onbeperk, ons moet Hom net vertrou. Hy is die God wat ons nooi om Hom te beproef en te sien hoe Hy vir ons die vensters van die hemel oopmaak (Mal. 3:10). Net soos ons hart na God hunker in gebed, net so wag Hy om met ons in gemeenskap te tree. Nie alleen om ons te bemoedig of te vertroos nie, maar om ons uit te daag om Sy wil te aanvaar.


Die verlange van ons harte is vir God belangriker as die manier waarop ons dit verwoord. Buitendien, as jy inskryf by Jesus se “leerskool van gebed”, leer Hy jou nie net om te bid nie, Hy gee vir jou Sy “Gees wat jou ook in jou swakheid bystaan: jy weet nie wat en hoe om te bid nie, maar die Gees self pleit vir jou met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie” (Rom. 8:26). Skryf in, die registrasie by Jesus se leerskool is kosteloos. Buitendien, volhardende gesamentlike gebed is een van ons kragtigste wapens in die Here se werk. Dit is ons gelowiges se verantwoordelikheid om “saam te stry, saam te staan”, in gebed.


“Niks is buite die bereik van gebed nie, behalwe dit wat buite die wil van God is”

(Oswald Chambers).


Gebed: Here, leer my bid, my hart hunker na U en deur in gebed met U te praat, wil ek nader aan U groei. Heilige Gees, rig my gebede, bid saam met en deur my sodat my gebede volgens die wil van die Vader en in die Naam van Jesus Christus sal wees. Wys my hoe om my lewe by U weg aan te pas. Wat ‘n wonder, wat ‘n voorreg, Here, om met U te mag praat. Dankie dat ek deur my gebedstyd by U gemoedsrus en vrede ervaar en dit namens ander mense, by U kan afsmeek. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page