top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE VOORBEELD VAN CHRISTUS (1) – VERPLIGTING TEENOOR ANDER!


Rom. 15:1-2 – “Op ons wat sterk is in die geloof, rus die verpligting om die swakhede te verdra van dié wat nie sterk is nie. Ons moenie aan onsself dink nie: elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou.”


Vergelyk ook Fil. 2:3-4 – “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.”


Paulus skaar homself nou by die sterkes in die geloof en vanuit hierdie posisie vermaan hy hulle om die swakhede te dra van diegene wat nie so sterk is in die geloof nie. Ons moet onthou dat Paulus hier verwys na ongelowiges wat onlangs Christene geword het en nog nie alles verstaan wat die Christen-geloof behels nie. Paulus beskou dit eintlik as ‘n verpligting om “aan ons naaste te dink aan wat goed is vir hom en wat hom in die geloof kan opbou.” Dit gaan hier meer as net die geduldige verduur van die swakkes se tekortkominge, dit gaan om hulle te behaag, te “dink aan wat goed is vir hulle.” Dit beteken natuurlik nie om nou maar alles te doen wat die swakkere in geloof begeer nie, maar wat hom of haar kan opbou in die geloof.


In ons moderne wêreld is dít wat Paulus hier vra, eintlik ‘n “tall order.” Ongelukkig is daar mense wat nie hulle skouers en rug wil aanbied om te help dra aan ander se swakhede nie, maar eerder hulle elmboë gebruik om die swakke uit die pad te kry. Hy mag moontlik die pad na sukses versper en eiebelang het nie plek vir swakkelinge nie. Elkeen het ‘n duisend en een redes van selfsoeke om die beste te wees, elkeen vir onsself.


Geestelike hoogmoed is een van die grootste gevare van toegewyde Christene! Hulle het ‘n hoë opinie van hulle eie wysheid, ‘n eienskap wat jou wysmaak dat jy een van daardie super-Christene is, iemand spesiaal wat jou kant vir die Here bring. Alles wat jy vir die Here doen is darem net ‘n trappie hoër en belangriker as wat ander kerkmense hulle mee besig hou. Hulle is die sogenaamde uitverkorenes, God se “witbroodjies” met wie Hy ‘n belangrike stukkie inligting in ‘n “droom gedeel het.” Hulle het sulke spesiale ervarings van God dat hulle voel hulle staan so paar tree nader aan God as ander gelowiges. Hulle het geestelik só onder ander gelowiges uitgegroei dat hulle dus ‘n beter plek in die hemel sou hê as die swakker gelowiges.


In God se wêreld is dit egter andersom. God het nie witbroodjies nie, Hy trek niemand voor nie! God het nie ‘SY’ son gestop om op te kom nadat Hy dit geskep het nie, inteendeel, Hy onderhou dit deur al die eeue nog steeds, en net so ook élke mens as deel van Sy skepping. “Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” (Hand. 17:27b-28). Dit sluit die slegte mense ook in. “Hy laat selfs reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen” (Matt. 5:45b). God was bereid om selfs Sy Seun prys te gee, nie net vir die goeies nie, maar veral vir die slegtes, want Hy “trek immers niemand voor nie.” (Rom. 2:11). Jesus sterf juis aan die kruis met ‘n gebed van vergifnis vir sondaars, vir Sy vyande wat Hom nie liefgehad het nie.


Iemand het gesê dat God eintlik meer belangstel in waarom ons iets doen as wat ons doen. Dit sluit baie goed aan by Paulus se opdrag dat “ons nie net aan ons eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.” Wanneer ons nie net op ons eie behoeftes konsentreer nie, raak ons in nederigheid bewus van die behoeftes om ons. God verkies dat ons nie net aan onsself moet dink nie, maar aan Hom en aan ons naaste. “God is nie onregverdig nie: Hy sal ons werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat ons vir sy Naam betoon het deurdat ons ons medegelowiges gedien het en nog dien nie” (Heb. 6:10).


“Nederigheid beteken nie dat jy minder van jouself dink nie; net dat jy minder dikwels aan jouself dink” (Ken Blanchard).


Gebed: Here, deur nederig te wees kan ek U liefde in my leefwêreld wys. Herinner my gedurig daaraan dat U my gemaak het wat ek is. Leer my die grense van my vermoëns sodat ek in Ú my krag sal soek, die krag wat tot volle werking kom wanneer ek juis swak is. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page