top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Kantlynsake laat die evangelie skade ly!

MOENIE JOU BROER LAAT STRUIKEL NIE (2) – ONS HET DIE BESTE!


Rom. 14:16-18 – “Moenie dat die goeie wat julle het, ‘n slegte naam kry nie. Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. Wie op hierdie manier vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van die mense.”


Paulus gaan vervolgens verder om die gevolge uit te wys, wanneer gelowiges die saak van Christus selfsugtig uitleef. Dit is eintlik belaglik dat gelowiges oor kleinlike dinge, die sogenaamde “kantlynsake”, hulle kan verknies en ontsteld raak. Hierdie bysake kan só maklik in hoofsake verhef word sodat ‘n skewe beeld van die evangelie later geskep word. Ons moet onthou dat die evangelie nie oor spys en drank, “’n saak van eet en drink is nie”, maar dat die koninkryk van God ons oorlaai met die gawes van “gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.”


Die “goeie wat ons het”, is die evangelie van Jesus Christus – Hy is die evangelie. Deel van Jesus se werk op aarde was om ons weer in die regte verhouding met God te kom plaas. Jesus het dan ook as Rolmodel vir ons gewys wat gehoorsaamheid aan God beteken – om gehoorsaam en voorbeeldig te leef volgens die wil van God. Ons probeer dikwels om God net gedeeltelik te gehoorsaam. Ons gehoorsaam net Sy bevele waarvan ons hou, dié wat ons as onredelik, moeilik en ongewild beskou, ignoreer ons. Omdat ons van nature geneig is tot die sonde, wat ongehoorsaamheid insluit, het Jesus ons onvolmaakte gehoorsaamheid saam met Hom aan die kruis vasgespyker en vir die skuld daarvan, volkome by God betaal. God sien ons nou volmaak soos ons in Christus is – dít is die wonderlike genadeboodskap!


Heelhartige gehoorsaamheid geskied met vrede, vreugde en geesdrif. Dit is tog ons lewensdoel: Om God te laat glimlag, om God te behaag, “om die guns van God te geniet.” Maar hóé? Paulus sê ons moet ons “voortdurend afvra of iets vir die Here aanneemlik is” (Ef. 5:10). Ons moet met ons gedagtes, woorde en gedrag só leef dat ons as mense van die lig, daardie lig weerkaats. Jesus sê “ons is die lig vir die wêreld” (Matt. 5:14). As ligmense is ons nie stryers en bakleiers nie, maar mense wat harmonie en positiewe verhoudings skep, mense wat God se vrede najaag, mense wat vreugdevol dieselfde doel nastreef: om God te behaag!


Is dit moontlik om waarlik God se vrede te ervaar en daarin te lewe te midde van ons en die wêreld se huidige omstandighede? Beslis. God se vrede het in die eerste plek nie met uiterlike omstandighede te doen nie – dit gaan hier oor jou verhouding met God en jou houding teenoor die lewe vanuit jou verhouding met God: “En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” (Fil. 4:7). Daarom kan ons Jesus se vrede nie in aardse woorde omskryf nie – dalk juis daarom dat Hy bevestig dat Sy vrede nie wêreldse vrede is nie (Joh. 14:27). God se vrede word slegs in verhouding met Jesus Christus bewerkstellig.


Dit is egter nodig om onsself net weer te herinner dat Paulus ons oproep om nie aanstoot te gee oor nie-essensiële, of “kantlynsake” nie (v. 13). Wanneer dit oor werklike ernstige beginselsake gaan, geld die opdrag om aanstoot te vermy nie meer nie, want dan sou die evangelie self in die gedrang kom. Die gevaar is wanneer ons nie-essensiële sake tot beginsels verhef en dan selfsugtig verklaar: “Dit is vir my ‘n beginselsaak.” Pasop om nie ‘n “kantlynsaak” tot beginsel te verhef, om daarmee jou posisie te versterk nie. Ons moet as Christene, as kerk, as liggaam van Christus, deur fisiese dade draers wees van God se vrede. Om Jesus se hande en voete te wees hier op aarde. Om vreugde te bring waar daar droefheid is, om blydskap te bring waar daar hartseer is, om dié wat moedeloos is op te beur. En dit is nie aardse vrede wat gekoppel is aan voorwaardes en kontrakte nie – dit is God se onvoorwaardelike vrede wat ‘n diep innerlike vreugde soos ‘n helder fontein uit ons lewe laat vloei.


“Die evangelie is nie net iets waarvoor jy kerk toe gaan om te hoor nie, maar iets waarvoor jy uit die kerk uitgaan om te gaan oorvertel en uit te leef” (Vance Havner).


Gebed: “Here, maak my ‘n instrument van U vrede. Waar daar haat is, laat my liefde saai; waar daar onreg is, vergifnis; waar daar twyfel is, geloof; waar daar wanhoop is, hoop; waar daar duisternis is, lig; waar daar droefheid is, blydskap. O Goddelike Meester, gee dat ek nie soseer sal soek om getroos te word nie as om te troos; om verstaan te word nie as om te verstaan; om bemin te word nie as om lief te hê. Want dit is deur te gee dat ons ontvang; dit is deur te vergewe dat ons vergewe word; en dit is deur te sterwe dat ons tot die Ewige Lewe gebore word.” Amen. (Gebed van St. Franciskus van Assisi).



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page