top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


MOENIE JOU BROER LAAT STRUIKEL NIE (1) – LEEF IN LIEFDE!


Rom. 14:13-15 – “Laat ons mekaar dan nie meer veroordeel nie. Neem julle liewer voor om niks te doen wat jou broer kan aanstoot gee of tot ‘n val kan bring nie. Omdat ek die Here Jesus ken, weet ek en is ek daarvan oortuig dat niks vanself onrein is nie. Maar as iemand iets as onrein beskou – vir hom is dit dan onrein. As jy met wat jy eet, jou broer aanstoot gee, leef jy nie meer volgens die liefde nie. Moenie deur wat jy eet, iemand vir wie Christus gesterf het, laat verlore gaan nie.”


Paulus vermaan opnuut die Romeinse Christene wat sterk in die geloof is, om nie veroordelend teenoor hulle swakker broers en susters in die geloof, op te tree nie. Kerklike verdeeldheid lewer geen bydrae tot die opbou van gelowiges nie. “Ons is almal van die een Gees deurdrenk” (1 Kor. 12:13) en kan dan só optree dat almal in die gemeente geakommodeer word. Dit behoort eintlik elke gelowige se plig te wees om mekaar op te bou in die geloof, saam te staan en ‘n verskil te maak in jou gesin, die gemeente en gemeenskap. Jesus sê tog dat ons gelowiges “die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld is. Laat ons lig gesamentlik skyn dat almal dit kan sien en ons só ons hemelse Vader verheerlik” (Matt. 5:13-16).


Eerstens moet ons “niks doen wat jou broer of suster tot ‘n val kan bring nie.” Ons moet sensitief wees vir die pad wat God met elke gelowige loop en sorg dra dat ons optrede nie die potensiaal bevat om ander gelowiges te laat twyfel en in sonde laat verval nie. Iemand het gesê dat mense geneig is om hulleself en almal rondom hulle wil tevrede stel. Baie raak betrokke by sake wat hulle na aan die hart lê en verloor perspektief – hulle saai ‘n gedagte en maai ‘n daad; saai ‘n daad en maai ‘n gewoonte; saai ‘n gewoonte en maai ‘n karakter; saai ‘n karakter en jy maai jou ewige bestemming. Dit is dan wanneer jou prioriteite nie meer deur God bepaal word nie en jou hoofdoel nie meer is om God te behaag nie, en jy jou eie en ander se lewenstyl sleg beïnvloed. Gebruik eerder Jesus as Rolmodel vir jou lewenswyse.


Tweedens, sê God deur Paulus vir ons, dat ons nie ons medegelowiges moet “aanstoot gee” nie. God het elkeen van ons anders geskep, elkeen wie se vermoëns verskil, elkeen met verskillende genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee (1 Kor. 12:4). Daarom is dit nodig om met medegelowiges se gevoelens rekening te hou en nie só op te tree dat hulle ‘n grief begin saamdra nie. Daar is byvoorbeeld baie maniere om die Here te dien, maar ons dien dieselfde Here. Dit is daarom nie nodig om jou manier van dien, op ander af te forseer nie. Ons Vader is op baie verskillende maniere aktief in ons, maar al die vermoë en krag om Sy wil in ons lewe uit te voer, is Syne alleen – “Daar is ‘n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring” (1 Kor. 12:6).


Omdat God in Homself “verskeidenheid in eenheid” is, werk Hy ook op hierdie manier in die kerk. Derdens is daar derhalwe geen plek vir ons eie “roem” om iets “te doen wat jou broer of suster kan aanstoot gee of tot ‘n val kan bring nie.” Niemand kan ‘n huis met net een steen bou nie, daarom het ons gelowiges mekaar nodig. Ons moet eintlik hipersensitief wees oor elke lidmaat se standpunt, al is dit “anders”. Elkeen se standpunte is heel moontlik gebaseer op sy of haar gawes wat hulle ontvang het, ontvang het van dieselfde “Christus wat vir hulle ook gesterf het,” en dit is bedoel vir die uitbou van die hele Christelike gemeenskap van ons gemeenskaplike Here. Niemand kan of mag “verlore gaan” as gevolg van my en jou verkeerde optrede wat “aanstoot” kan gee nie!


“Om mense lief te hê beteken om hulle te sien soos God hulle bedoel het om te wees, nie soos jou opinie hulle wil verander nie” (Feodor Dostojewski).


Gebed: Here, maak my sensitief vir die pad wat U met my mede broers en susters in die geloof loop sodat ek nie ‘n struikelblok vir hulle sal wees nie. Help my om nie met onbedagsame woorde of dade oor mense se gevoelens loop nie. Hou my nederig in die gebruik van my gawes wat ek van U ontvang. Weerhou my van afgunstige en selfsugtige opinies wat ander kan aanstoot gee en selfs mense gevolglik verlore kan laat gaan, verlore vir U koninkryk deur mý verkeerde optrede. Here, maak my deursigtig dat ander skaars van my sal weet, maar agter my vir U sal sien. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page