top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


MOENIE JOU BROER VEROORDEEL NIE (3) – DOEN ALLES TOT EER VAN DIE HERE!


Rom. 14:5-6 – “Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ‘n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. Die een wat ‘n bepaalde dag op ‘n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God.”


Vergelyk ook Kol. 2:16 – “Moenie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie.”


Die onderhouding van Joodse feesdae en die viering van die sabbat, was vir die “swakkes in geloof”, die mense wat onlangs tot geloof gekom het, nóg ‘n ‘kantlynsaak’ waaroor hulle bekommerd was. Hulle het gevrees dat dit sonde mag wees indien hulle sou nalaat om die dae te onderhou en die onderhouding van dergelike dae, betekenis gaan kry met die oog op die verkryging van die ewige lewe.


Vir Paulus was, en is, hierdie verdeeldheid oor die viering van verskillende dae en oor die eet van sekere kossoorte, nie ‘n groot saak nie. Wat wél van groter belang is, is dat elke gelowige rekenskap moet gee oor sy of haar standpunt – “elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting.” Dit beteken natuurlik nie dat ons maar enigiets kan doen solank ons net oortuig is dat ons reg handel nie. Die vraag is waar hierdie oortuiging vandaan kom, vanuit die ou sondige mens, my eie selfsugtige en gemaksugtige hart, of vanuit God se hart, of dit tot “eer van die Here is”?


Ons Christene kan ook in ons oortuigings dwaal. Ons kan so maklik meen dat ons na God luister terwyl ons eintlik maar na onsself luister, veral wanneer ons minder belangrike dinge tot beginsels verhef en nie ons eie standpunte krities vanuit die Bybel beoordeel nie. Neem nou maar die vierde gebod wat eis dat ons die sabbat moet heilig. In die ou bedeling van die verbond, het ses dae moet jy arbei en die sewende dag rus, nog gegeld. In die Ou Testament is die verlossing in Christus nog verwag en Jesus het dit in die Nuwe Testament volbring! Op die sabbat van die ou bedeling lê Hy in die graf. Op die eerste dag van die week (Sondag) staan Jesus op en dit word die nuwe rusdag. In die nuwe bedeling van die verbond geld dus: Rus eers, omdat Christus vir ons die vierde gebod en al die ander gebooie volbring het, en arbei dan ses dae uit dankbaarheid. In die Ou Testament het mense ‘na die rus’ toe gelewe, ons lewe as Nuwe Testamentiese kinders van God ‘uit die rus’ van die verlossing.


In die kerk is ons deel van Christus se liggaam en die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ‘n eenheid waar elkeen sy funksie vervul om die liggaam op te bou in liefde (Ef. 4:16). Kom ons stel as gelowiges dit ten doel om met die hulp van die Heilige Gees ‘n gesamentlike krag te wees teen al die verdeeldheid. Laat elkeen self besluit of hy/sy sekere dae heiliger wil hou as ander dae en kan eet wat hy of sy dink goed is vir hom of haar. Moenie mekaar veroordeel oor hoe die Sondag gevier word of nie gevier word nie en jou standpunt afdwing oor watter kos om te eet of nie te eet nie. Paulus bied vir ons ‘n wonderlike oplossing aan. Sonder om te verval in ‘n klomp wettiese voorskrifte, gee hy vir ons die belangrike beginsel wat voor elkeen se besluit moet staan: “Doen dit tot eer van die Here.” Leef van Maandag tot Sondag tot eer van die Here!


“Hy wat God probeer vind in die een of ander uiterlike roetine of ritueel, sal die gewoonte behou en God verloor” (Meister Eckhart).


Gebed: Almagtige Vader, ek wil U eer eerste stel in alles wat ek doen. Stel my deur U Gees in staat om die regte perspektief op my besluite te hê. Hou my weg van alles wat nie binne die soeke na U koninkryk en U geregtigheid bestaan nie. Laat ek Maandag tot Sondag eet en drink, en wat ek ook al doen, doen tot eer van U (1 Kor. 10:31). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page