top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


MOENIE JOU BROER VEROORDEEL NIE (2) – GEESTELIKE ONGEVOELIGHEID!


Rom. 14:2-4 – “Een glo ‘n mens mag alles eet; ‘n ander is swak in die geloof, en hy eet net groente. Die een wat alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie; en die een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie veroordeel nie, want God het hom aangeneem. Wie is jy om oor iemand anders se bediende te oordeel? Sy eie werkgewer sal oordeel of hy goed doen of nie. Maar hy sal goed doen; daarvoor sal die Here sorg.”


Vergelyk ook 1 Kor. 8:10; 10:25 – “As jy wat hierdie kennis het, in ‘n afgodstempel gaan eet en iemand met ‘n swak gewete sien jou, sal dit hom dan nie aanmoedig om die vleis as afgodsoffer te eet nie? ... Alles wat in ‘n slaghuis verkoop word, kan julle eet sonder om ter wille van die gewete navraag te doen.”


Paulus gaan verder en skryf oor die “grys gebiede” waaroor Christene eeue gelede in Rome verskil het en wat vandag nog steeds deur baie gelowiges, as net swart of net wit beskou word. Die verskil waaroor dit gaan, raak die vraag wat geëet mag word en wat nie. Albei groepe, die swakkes in geloof en die sterkes, glo dat hulle standpunt korrek is. Dit kan maklik gebeur dat die een wat sterk in die geloof is (en dus die vryheid het om alles te eet) dié wat swak is, kan verag, terwyl die swakke, wat meer krampagtig en nougeset is, die ander kan “veroordeel.” Albei reaksies is verkeerd. Albei groepe moet onthou dat God óók die ander aangeneem het.


Paulus motiveer sy standpunt deur die Christene te vergelyk met die bediende van ’n werkgewer wat aan hom alleen verantwoording skuldig is. Dit is verwaand om oor iemand anders se bediende te “oordeel.” Sy eie werkgewer sal dit doen – en niemand anders het die reg om dit te doen nie. So het God alleen die reg om te oordeel oor die wyse waarop Sy kinders die praktiese implikasies van hulle geloof in Christus verstaan en uitleef.


Paulus se vermaning aan die Romeinse Christene om mekaar, ten spyte van pynlike verskille nie te veroordeel nie, maar te aanvaar, is vandag steeds relevant vir ons. Uiteenlopende faktore bring soms ernstige spanning tussen ons Christene, selfs in die dieselfde kerk. Dink maar net aan eenvoudige sake soos die sing van Engelse liedjies; orrel- of klavierspel tydens ‘n diens; arms omhoog tydens sang; groet en welkom heet voor die diens – sommige sê God is heilig en dat ons respek moet toon met gewyde stilte. Ander sê ons moet seker maak dat kinders die Here leer ken – die swakkes onder ons – en dat ons eredienste vir hulle toeganklik moet wees.


Beteken dit dan dat ons nooit van mekaar mag verskil nie? Dat as een lid sê ons mag nie vleis eet nie, moet almal dit laat staan ter wille van daardie een lid? Beslis nie! Die punt is nie dat ons ten alle koste konflik moet vermy nie. As alle Christene oor alle eeue dit gedoen het, dan sou musiekinstrumente, soos tromme, nooit in ‘n kerk toegelaat wees nie en sou vroue steeds van die ampte verban gewees het. Verskille kan nie gebruik word as ’n wapen om ander gyselaar te hou nie. Ons moet eerder mekaar in liefde akkommodeer en fokus op diens aan die Here en nie verskil oor onbelangrike “kantlynsake” nie. Dit gaan ook nie hier oor bekrompte idees nie. Onthou, die “swakkes” van wie hier gepraat word, is jong gelowiges. Wat ons in Christus saam bind, is veel groter as die dinge waaroor ons verskil.


Selfs Paulus het gesukkel om ‘n reguit antwoord te gee op die gemeente in Korinte se vraag: “Mag ons vleis wat aan afgode geoffer is eet?” Paulus antwoord: “Nee, jy gaan ander tot ‘n val bring.” (1 Kor 8:10). Maar in 10:25 sê hy: “Ja, jy mag, alles wat in ‘n slaghuis verkoop word, kan julle eet.” Hoe nou Paulus, eers nee en dan ja? Sou dit billik wees om Paulus so vinnig te veroordeel? Ons weet mos die lewe is nie so eenvoudig nie. Dit is nie dat Paulus twyfel oor wat vir gelowiges reg of verkeerd is nie, vir hom het dit eerder gegaan oor kennis wat ondergeskik is aan die liefde. En dis wat hy ons wil leer – ons is in Christus vrygemaak en daarom moet ons wat sterk is in die geloof, nie hoogmoedig en taktloos teenoor die “swakkes” – die jong gelowiges, optree nie.


Ons verskille moet ons help om te groei in die geloof. Die Woord van die Here roep ons op om mekaar se goeie trou en integriteit as Christene te aanvaar en steeds só teenoor mekaar op te tree dat ons verhoudinge nie daaronder ly nie. Wat ons in Christus saam bind, is veel groter as dit waaroor ons verskil. Dit veronderstel dat beide partye sal opoffer, dat albei partye mekaar se belange sal hoër ag as hulle eie. Die mens wat die tempel van God versplinter deur onenigheid te saai, sal deur God gestraf word: “As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle” (1 Kor. 3:17).


“Die eenheid van die mens met God is die eenheid van mense met mekaar”

(Thomas Aquinas).


Gebed: Heilige Gees, gee my die krag sodat ek ‘n positiewe bydrae kan lewer om die eenheid van die kerk te bewaar want “hier is Christus alles en in almal” (Kol. 3:11b). Wat ek ookal doen, laat ek dit van harte doen soos vir die Here en nie vir mense nie. Help my egter om nie geestelik ongevoelig te raak oor my mede-gelowiges nie, dat ek ander sal hoër ag as myself. Gee dat ons gelowiges mekaar sal aanvaar, ondanks verskille oor die praktiese uitlewing van ons geloof. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page