top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


LIEFDE IS DIE VOLLE UITVOERING VAN DIE WET (2) – GENADETYD; OPSTAANTYD!


Rom. 13:11-12a – “En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het. Die nag is byna verby; dit is amper dag.”


Vergelyk ook Mark. 13:35-36 – “Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet wanneer die huiseienaar kom nie, in die aand of middernag of met hanekraai of die môre vroeg nie, sodat wanneer hy onverwags kom, hy julle nie aan die slaap kry nie.”


As drangrede waarom ons gelowiges in liefde moet leef en wandel, noem Paulus nou die tydsomstandighede waarin ons leef. Wat hy probeer sê is dat ons in genadetyd leef, die laaste beslissende periode voor die wederkoms van Jesus Christus. Daarom is die dringendheid van hierdie tydsomstandighede noodsaaklik dat elkeen hulle lewe tot eer van God inrig. Volgens God se horlosie is dit reeds opstaantyd: “Die uur is reeds daar dat ons uit die slaap moet wakker word.” Ons kan nie nou omdraai op die ander sy en verder slaap nie. Dit het tyd geword om die dinge wat by die nag tuishoort, te los en dinge van die dag begin doen.


Daar is werklik nie meer tyd oor om te verspil nie. Ons kan nie bekostig om vir eers net kennis te neem van God se rolverwagting vir ons lewe en voorlopig voort te gaan met ‘n lewe wat volgens ons eie en ander mense se verwagtinge ingerig is nie. Ons kan nie bekostig om langer te lê en slaap en só in ons geloofslewe verslap nie, “die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het.” Baie mense is geneig om nog vas te slaap en veilig te voel, omdat hulle óf nie glo in die wederkoms van Jesus nie, óf omdat hulle dit nie so ernstig opneem nie. Die feit is dat ons nie die kerse moet doodblaas of die ligte afsit en rustig voortslaap nie, ons moet “waaksaam bly sodat wanneer hy onverwags kom, hy ons nie aan die slaap kry nie.”


Dit is oorlog. Ons moet dit weet. Ons moet weet dat die magte van die donker elke oomblik van die dag met alles in hulle probeer om ons wat dagmense is, mense wat agter die ware Lig aanstap, te probeer afrokkel. Dis ’n geveg. Hoekom dink jy sukkel jy so baie om net op die pad te bly? Hoekom dink jy is dit nie aldag maklik in die lewe daar buite nie? Hoekom druk die lewe jou soms dat jou oë traan?


Want dis oorlog! Met alle mag word ons op alle fronte aangeval. Die duiwel en sy trawante het nie ’n lui haar op hulle koppe nie. Met alles in hulle sal hulle keer op keer probeer om jou met allerlei slinkse maniere weg te rokkel. Hulle is slim en weet waar ons swak plekke is. Meedoënloos sal hulle daardie plekke keer op keer teiken. As ons nie voorbereid is vir die aanvalle nie, is daar ’n kans dat ons moeg kan raak en hulle sukses by ons kan behaal. Daar is nie tyd om vir ’n wyle die pas te makeer nie. Dit is nie maar net stories nie. Dit is die werklikheid en elkeen van ons wat in Jesus Christus glo moet weet dat ons heeldag onder die spervuur is. Daarvoor moet ons onsself voorberei en onsself bewapen sodat ons nie deur die vyand oorrompel word nie.


Paulus wil ons nie bang maak oor Jesus se wederkoms nie. Baie van ons wil nog só graag darem net eers trou, kinders hê, aftree, kleinkinders geniet, en nog baie ander dinge doen voordat Jesus weer kom. Netnou mis ek dalk iets! Ons redeneer so omdat ons moeilik kan dink hoe dinge ná die einde sal wees. Indien ons gereed is vir Jesus se koms, “ons reeds uit die slaap wakker geword het, wil Jesus wat weer kom, ons troos wanneer Hy ons groet met “genade en vrede” (Op. 1:4). “Genade” beteken dat ons wat in Hom glo, nie sleg behandel sal word soos wat ons eintlik verdien nie want dit is immers ons gekruisigde Here wat ons kom ontmoet. “Vrede” beteken dat ons lewe in oorvloed sal hê.


Ons gelowiges hoef dus nie bang te wees vir Jesus se wederkoms nie. Sy wederkoms gaan beslis nie ‘n verlies meebring nie, maar ‘n wins! Al kan ek nie my oudag rustig deurbring nie, of eers gaan trou nie, of nog eers die lewe geniet nie, in Jesus se genade gaan ons wat nie aan ‘n geestelike lomerigheid of ‘n geloofslaksheid gely het nie, alles ontvang en oneindig meer as wat ons ooit sou kon verdien. Ons moet egter elke oomblik leef asof Jesus Christus nóú gaan kom, net hulle wat Hom nie wil ontmoet nie, het rede om die wederkoms te vrees.


“Die wederkoms is vir ons gelowiges ‘n geweldige waarborg want die Skeidsregter is “partydig” en ook die Wenkaptein wat die “game” geswaai het. Hy is partydig want Hy blaas die eindfluitjie – “die laaste trompet” – wanneer dit vir Sy wenspan die beste is”

(Claude Vosloo).


Gebed: Onse Vader, U weet dis nie maklik daar buite nie en dat die aanvalle so gereeld en aanmekaar kom. Dis moeilik om staande te bly. Dis moeilik om myself te beskerm. Help my om nie sommer tou op te gooi nie, nie weer in te sluimer nie, nie te wanhoop nie, want U is my Hoop. Laat my elke dag so leef, dat, wanneer ek aan die einde van die dag kom, ek nie bekommerd hoef te wees oor werk wat half gedoen is nie, beloftes wat gemaak is, nie nagekom is nie en voornemens wat ek gehad het, nie uitgevoer is nie. Help my om te bly glo en vas te hou aan die feit dat ons aan die wenkant is, want U het die vyand reeds aan die kruis oorwin. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page